Algemeen -

Ondanks swak regering is SA g’n piesangrepubliek

Een van die mooi en mees opvallande goed wat van wyle Z.B. du Toit, een van die Afrikaanse wêreld se mees toonaangewende joernaliste, intellektuele en politieke kommentators, na sy afsterwe in 2008 gesê is, is dat hy altyd hoop vir Suid-Afrika gehad het. Niemand kon stry dat Du Toit ‘n ware Afrikaner in murg en been was nie. Sy werk en lewe het daarvan getuig. Maar hy het ook ‘n breër nasionale en wêreldperspektief gehad (en hy het ook as joernalis baie daaroor verslag gedoen) en dit het sy denkraamwerk en patriotisme jeens volk en land selfs verder in die hand gewerk en gekontekstualiseer. Hy kon daarom vergelykend met Suid-Afrika en die Afrikaner se lot ten opsigte van soortgelyke (asook ongelyksoortige) voorbeelde elders omgaan.

 

Hoekom presies Du Toit altyd hoop vir Suid-Afrika gehad het, kan grootliks aan bespiegeling oorgelaat word hoewel hy tog sekere blyke daarvan in sy skryfwerk gegee het. Dit kon ook wees dat hy bloot ’n optimis was en die historiese gebeure van die land hom altyd rede tot hoop gegee het.

 

Een van my groot mentors en ’n vriend van Du Toit, die politikoloog prof. Deon Geldenhuys, het eenkeer teenoor my opgemerk dat dit konstant “5 voor 12” is in Suid-Afrika. Dit beteken dat dit wil blyk dat daardie chaos-oomblik, moment van afrekening of totale ineenstorting wat soveel ander lande regoor die wêreld getref het – dink aan Rwanda, Joego-Slawië, Venezuela en Zimbabwe – ten spyte van groot sosiale en politieke spanning nie in Suid-Afrika gebeur nie.

 

Dis nie te sê dat daar nie agteruitgang, vrot regering, spanning, verkeerde beleid, verpolitiseerde instellings, verval en ander kwale is nie, maar dat ons nie in ’n piesangrepubliek woon soos wat baie mense aanvoer nie. Daar is ’n ruim hoeveelheid voorbeelde van hoe Suid-Afrika anders is as ander Afrika- en Derde Wêreldstate en hoe hy homself op kritieke momente terugtrek van die afgrond en ook hergenereer.

 

Die feit dat die sakesektor nou op groot skaal hulself van die Gupta-familie onttrek is ’n treffende voorbeeld daarvan. Op ‘n vergadering met sakeleiers in Januarie verlede jaar het Pravin Gordhan, minister van finansies, glo gevra dat hulle nie verdere hulp aan Zuma se berugte vriende moet verleen nie. Die sakeleiers het hierdie wekroep gestand gedoen en die korrupte Guptas sukkel nou om versekering vir hul besighede te bekom, hul vliegtuie te diens of hul rekenaars te verkoop. Die vier groot banke het hulle laas jaar reeds formeel die rug toegekeer. Die media, tesame met adv. Thuli Madonsela, het natuurlik die pap dik oor hulle en Zuma se korrupte bedrywighede aangemaak. Tesame met die tesourie se aandrang op die toedraai van die geldkrane is die Zuptakrasie ’n aansienlike knou toegedien.

 

Daar is talle voorbeelde van hoe dele van die staat, asook uiteraard die burgerlike samelewing, besig is om terug te veg teen allerlei ongerymdhede wat die land in ’n peillose diepte kan laat afsink. In die parlement is die SAUK-bestuur, en veral Hlaudi Motsoeneng, tans op die agtervoet oor onreëlmatighede wat daar onder Motsoeneng se heerskappy gepleeg is. Die onafhanklike polisie­ondersoekdirektoraat (Opod) is ook besig om die kwansuis onreëlmatige aanstelling van lt.genl. Mthandazo (Berning) Ntlemeza as hoof van die Valke te ondersoek. Nathi Nhleko, minister van polisie, het glo ’n kortlys van vyf name vir die pos van Valkehoof geïgnoreer en vir Ntlemeza aangestel. Freedom Under Law en die Helen Suzman-stigting het juis ’n bestaande hofgeding hieroor aan die gang.

 

Laas jaar is Zuma saam met ’n klomp ander staatsamptenare hard voor stok gekry. Twee hooggeplaastes in die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi, is van die rol geskrap oor hul onreëlmatige optrede in sake waarby onder meer Zuma betrek is. En toe die NVG wil appelleer teen die herinstelling van korrupsieklagte teen Zuma, het hulle ’n bloedneus in die grondwetlike hof gekry. Die voormalige Noord-Kaapse LUR, John Block, is ook 15 jaar se tronkstraf opgelê vir sy aandeel in ’n korrupsieskandaal. Zuma is beveel om geld terug te betaal wat aan sy Nkandla-woning bestee is. Almal dans beslis nie na Zuma en kie se pype nie.

 

Natuurlik is die korruptes veerkragtig en beraam nuwe planne, maar dis deel van die stryd van goed en kwaad. Die punt is hulle probeer hul korrupte aktiwiteite in die geheim bedryf omdat groot dele van die publiek dit onomwonde afkeur en omdat hulle bloot net nie daarmee kan wegkom nie. Selfs heelwat ANC-lede se gewetes, morele kodes en sensitiwiteit vir kiesers se menings dwing hulle om daadwerklik, en tot groot koste van hulself en hul loopbane, die regte ding te doen. Afriforum het ’n teenkorrupsie-eenheid gestig, maak paaie reg en werk nou saam met die polisie om misdaad te bekamp terwyl die media gereeld die regering se sondes opdelf en uiters verdoemend daaroor is. Die verkiesing verlede jaar was vry en regverdig en die heersende party het slae gekry en vreedsaam begin introspeksie doen terwyl die uitvoerende gesag al hoe harder knoei om sy patronaatnetwerke te beskerm. Ons finansiële en bankstelsel handhaaf hoë standaarde, baie van ons private en openbare skole is wêreldklas, ons ekonomie is gediversifiseer en ons kan die regering baie vryelik kritiseer.

 

In meeste Afrikastate sou hierdie gebeure heeltemal anders verloop het, al is die gehalte van regering op die vasteland, asook allerlei vryhede, beter as wat dit al ooit was. Daar bestaan regtig net nie die wil onder groot dele van die publiek in Afrikastate om gesag vreedsaam uit te daag nie en as dit gebeur, word dit wreed onderdruk soos nou in Zimbabwe en die Demokratiese Republiek van die Kongo gesien. Verkiesings (as hulle ooit gehou word) word dikwels gekook, bejaarde leiers klou vir dekades verbete en persoonlik vas aan mag (nie deur ’n gevolgmagtigde soos nou met dr. Nkosasana Dlamini-Zuma in die ANC se opvolgstryd gebeur nie), die instellings is tot so ‘n mate verpolitiseerd dat hulle nie eens voorgee om onafhanklik te wees nie, korrupsie en diefstal uit die staatskas word straffeloos gepleeg en meningsverskille ontaard baie keer in burgeroorloë, geweld of rebellies. Tewens word daar pal getob in verskeie Eerstewêreldlande oor baie van ons eie probleme – soos rassisme, morele verval, misdaad, korrupsie en ja, selfs slaggate in paaie.

 

Die stryd tussen die edele en kwaadwillige magte in die Suid-Afrikaanse samelewing lewer dus nie totale seges op nie, maar dis ’n konstante stryd van klein taktiese oorwinnings en teenskuiwe – en dit maak ons land boonop interessant ook. Dis tewens nie die afwesigheid van gevare wat ons veilig maak nie, maar die moed om terug te veg. Waaksaamheid bly die wagwoord en daar bestaan nie vir ons as land en ook as minderheid ‘n enkele of permanente oplossing vir ons probleme nie. Wat daardie magiese element is wat Suid-Afrika keer om oor die afgrond te steier en ‘n hopelose piesangrepubliek te word, is moeilik om te bepaal en is myns insiens te kompleks om in hierdie artikel te bespreek. Ek vermoed dit het baie daarmee te make dat die land se burgery nog altyd geweier het om hul lot goedsmoeds te aanvaar en op verskeie maniere protes aangeteken en teenstand gebied het.

 

Dis daarom goed dat Jan Smuts se woorde vandag steeds waar is: “Die beste, nes die slegste, gebeur nie in Suid-Afrika nie.” Dit hang egter van ons af of dit so gaan bly. Ons moet dus aanhou kla, skryf, debatteer, betoog, kritiseer, versoen, vergewe, planne beraam en les bes, veg en bou.

  •  
  •  
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close