Nuus -

Ons bank het ons geskei


Absa het die egskeidingsdagvaardiging op ons beteken. Alhoewel die huwelik al lank reeds verbrokkel het, was die ontvangs van die dagvaardiging steeds 'n skok. Alle tekens was daar, maar dit is net nou so in jou gesig. Ons bank skei ons!


Die Solidariteit Beweging het twee eenvoudige versoeke vir Absa se Maria Ramos gehad. Eerstens: moenie polities inmeng by die rassesamestelling van sportspanne nie. Tweedens: gee 'n onderneming dat Absa se tradisionele kliëntebasis nie afgeskeep sal word nie. Ramos se antwoord het my getref. Koel en reguit lees sy die egskeidingsbrief: “I will not make any statements that you ask” (haar direkte woorde). Ek loop daar weg met die besef: Ons bank het ons geskei.

Afrikaners en die ou Volkskas was in 'n noue huwelik. Ek is ook histories verbonde aan die bank. My pa was by Volkskas en dit is maar aan my oorgedra. Ek wou ook vir my dogtertjies spaarrekeninge oopmaak by Absa. Absa word so van geslag tot geslag oorgedra. My pa vertel my hoe hulle as jong studente veldtogte gevoer het om Afrikaners by Absa te laat bank. Volkskas is in 1934 gestig as gevolg van die persoonlike ywer van Joseph Jacobus Bosman of algemeen bekend as Oom Bossie.

Na die verpletterende invloed van die depressie van 1929 het Afrikaners 'n dringendheid beleef; dat iets gedoen moet word om hulle eie omstandighede te verbeter. Die onmoontlike is verbeel. In dié tyd van absolute armoede onder Afrikaners moet 'n Afrikaner-bank met Afrikaner-kapitaal opgerig word. Die doel was om Afrikaners weer te help om op hulle voete te kom. Op 3 April 1943 is Volkskas gestig. Die onmoontlike het gebeur. Met armes se geld is armes opgehef. Absa se voorstorie is 'n pragtige storie van self opstaan. Dit is 'n storie van 'n interne lokus van kontrole – ons doen dinge self. Dit was nie die stelsel wat arm Afrikaners opgetel het nie, hulle het hulleself aan hulle arm skoenveters opgetel. Dit is die historiese les van Absa.

Indien Absa 'n historiese verskil in vandag se Suid-Afrika wou maak, is dit dít wat hulle vir mense moet leer. Staan self op, neem self verantwoordelikheid, moet nooit afhanklik raak van die stelsel om julle op te hef nie. Dit is die krag van Absa. Maar nee, Absa se transformasie-idee wat hy najaag is juis dat die stelsel moet ophef en as die stelsel nie mense transformeer nie, sal ek my mag gebruik om die stelsel te dwing om te transformeer. Nee Absa, dít gaan nie werk nie. Die ideologie wat julle omhels gaan maak dat jong rugbyspelers misluk.

Absa se historiese egskeiding met Afrikaners is ook 'n historiese egskeiding met die krag wat die ou Volkskas laat opstaan het. Hulle kan dit nie meer oordra aan Suid-Afrika nie.

Ek is oor die egskeidingskok. Ek het my lojaliteit teenoor my vorige eggenoot verloor. Nou soek ek 'n bank op grond van prys en diens. My historiese verbintenis is verbreek en my dogtertjies se rekeninge gaan nié meer by Absa oopgemaak word nie.
Terloops, Solidariteit het 'n tegniese span aangewys om die verskillende banke te ondersoek sodat ons goeie inligting vir mense kan gee om te besluit watter bank. Ons hoop dat ons so binne twee weke die verslag kan bekend maak.

  •  
  •  
  •  
Dr. Dirk Hermann Deur Dr. Dirk Hermann


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close