Ons mag maar aan ons eie kant wees

Geskryf deur: Flip Buys


Die Afrikanergemeenskap is een van die min suksesvolle gemeenskappe in Suid-Afrika – dít ten spyte daarvan dat ons aan die ontvangkant van die regering se transformasiestoomroller is en dat hulle téén ons regeer. Die Afrikaner-gemeenskap sal egter tien hekkies moet oorkom om blywend suksesvol te wees.

 

Die eerste hekkie wat oorkom moet word, is dat Afrikaners nie op die nuwe bedeling voorbereid was nie. Sedert die middeltagtigs was die klem só op die afskaffing van apartheid, dat daar bitter min aan die Afrikaner se “anderkant van apartheid” gedink of gedoen is. Dit is vandag nog asof sommige Afrikaners steeds onvoorbereid op die nuwe werklikhede is. Hulle onttrek eerder uit die openbare lewe of dink aan emigrasie as om iets daadwerkliks aan hul probleme te doen. ʼn Groot deel van die probleem lê daarin opgesluit dat Suid-Afrika ʼn gewone meerderheidsregering geword het, en dat daar feitlik niks van die grondwetlike kulturele ruimtes vir kultuurgemeenskappe soos die Afrikaners gekom het nie. Demokrasie sonder kulturele vryheid beteken net vryheid vir die meerderheid omdat hulle dan oor alle belange van die minderheid ook besluit. Sulke praktyke word nie in moderne state as demokraties gesien nie.

 

Tweedens het die bykans eendragtige vyandige wantroue wat in die tagtigerjare teenoor die ANC geheers het, vir ʼn ruk lank tydens mnr. Mandela se presidentskap verander in ʼn bykans eendragtige goedgelowige vertroue in die nuwe regeerders. Dit is op sy beurt weer gevolg deur ʼn grootskaalse ontnugtering met die nuwe Suid-Afrika omdat mense begin voel het hulle het vir demokrasie gestem maar steeds ʼn rewolusie gekry. Dít was ʼn groot dryfveer vir die emigrasie van duisende mense na “witter” weivelde. ʼn Gebalanseerde sin vir idealisme én realisme is nou nodig as ons die omstandighede wil skep waarin Afrikaners ook kan tuisvoel in die land.

 

Instellings

 

Die derde hekkie is dat die Afrikaner sal moet besef dat ʼn minderheidsgroep in ʼn oop gemeenskap sterk instellings nodig het om suksesvol te kan oorleef. Waar die ANC staatsmag en staatsinstellings het om sy belange te bevorder, benodig die Afrikaner sterk selfdoeninstellings om sy grondliggende belange te beskerm. Hierdie instellings sal demokratiese ruimtes aan Afrikaners bied waarin hulle die meerderheid kan wees om so te verhoed dat elke deel van hul lewens deur meerderhede regeer word.

 

Die vierde hekkie het te make met die belangrikheid van veelvoudige identiteite. Waar die belangrikheid van Afrikanerskap en -identiteit voor 1994 gereeld oorbeklemtoon is, is dit daarna verguis. Die afbreek van Afrikaner-identiteit as ʼn belangrike deel van Afrikaners se groepsidentiteit, het terselfdertyd Afrikaners se lojaliteit aan die land en die vasteland afgebreek en hulle het byna as gemeenskap ontbind. Afrikanervyande en diegene wat politiek korrek is, sal moet besef dat (gebalanseerde) Afrikanerskap ʼn voorwaarde vir ʼn gesonde Suid-Afrikanerskap is. Gee vir mense die ruimte om voluit Afrikaners te wees en hulle sal voluit Suid-Afrikaners en Afrikane wees.

 

Wit geskooldes

 

Die vyfde probleem wat oorkom moet word, is dat die ANC weens politieke redes nie wil erken dat die land geskoolde wit mense nodig het nie en duisende ervare mense by sleutelinstellings soos Eskom in die pad gesteek het. Dit het gebeur ten spyte van waarskuwings van internasionale politieke wetenskaplikes soos Francis Fukuyama, wat die ANC reeds voor 1994 gewaarsku het om nie beleidsrigtings aan te neem wat geskooldes uitdryf nie. Die wit sake-elite word ook so met rassewetgewing geïntimideer, dat hulle die regering se rassebeleid meestal slaafs navolg om nie hul besighede in gevaar te stel nie. Gelukkig is daar nog sterk sakeleiers wat die land se belange bo politieke onderdanigheid stel.

 

In die sesde plek het die wêreldwye Afrikaner-diaspora so vinnig te midde van soveel ander probleme ontstaan dat die bestaande Afrikanerstrukture nie betyds en voldoende kon reageer nie. Daarom begryp mense nog nie die belangrikheid van Solidariteit en AfriForum se pogings om sterk bande met die diaspora te smee nie.

 

Krummels

 

Die sewende probleem is dat veral die ouer, welvarende Afrikaners nie besef hoeveel die land verander het nie en goedsmoeds aanvaar dat die jonges self sal regkom. So laat die meeste van hulle die nuwe geslag aan hul eie lot oor in plaas daarvan om hulle te help om dieselfde geleenthede te kry as wat hulle gehad het – en wat hulle danksy harde werk suksesvol gemaak het.

 

Die gevolg is dat “broodsaaklike” instellings soos die Solidariteit Helpende Hand nie eers die krummels van die welvaartsontploffing kry wat baie Afrikaners die afgelope jare beleef het nie. Die uitdaging is dat hierdie welvaart gebou is op historiese beleggings wat in hierdie gemeenskap gemaak is maar waarvan  en die momentum buite die klein elitesirkel nou begin afloop.

 

Swart armoede

 

Die agtste probleem is dat Afrikaners nie die krisis van swart armoede begryp nie, net soos wat swart mense nie die Afrikaner se bestaansprobleme verstaan nie. Die ANC se idee van ʼn welsynstaat sal natuurlik nie werk nie, maar dit is ook nie ʼn oplossing om maar net hoër mure om jou erf te bou nie.

 

Die negende kwessie is die verhouding met bruin Afrikaanssprekendes, om nie van die armoede in hierdie gemeenskap te praat nie. Die bruin gemeenskap kan nie gekoöpteer word om “Die Taal” te red nie, maar Afrikaans kan ʼn belangrike hulpmiddel vir bemagtiging wees.

 

Ten laaste moet die Afrikaner besef dat hy maar aan sy eie kant mag wees. Om aan jou eie kant te wees beteken nie om teen ander te wees nie. Apartheid is verby en Afrikaners is in die oë van die wêreld nie meer die slegte ouens nie. Daarom kan ons nie toelaat dat die ANC ons met ʼn skuldkompleks as die politieke gyselaars van die verlede probeer aanhou nie. As Afrikaners nie vir hulself omgee nie, gaan niemand anders dit doen nie. Ons mag en moet nou aan ons eie kant wees!

  •  
  •  
  •  
  •  
Deel hierdie:

Leave a Reply

Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close