SNI -

Ons media ly aan lys-teriose

“Ons is daarvan oortuig dat hierdie wysiging spraaksekerheid in der waarheid eerder gaan uitbrei deur dit aan soveel meer mense te gee wat tans nie 'n stem het nie.”

Dit is die woorde van president Mabuza in die parlement in 2023.

Die ANC het so pas aangekondig dat hulle die Grondwet gaan wysig om artikel 16, Vryheid van Spraak, meer in ooreenstemming met hul transformasiedoelwitte te bring. Jy sien, die media is weens apartheid nog grootliks in wit hande.

Die ANC het 'n lagwekkende media-oudit onderneem waarvolgens bevind is dat die meeste woorde deur wit skrywers geskryf word. Ten spyte van ernstige feitefoute in die oudit, word daar nou wyd verkondig dat slegs 2% van die woorde wat in koerante verskyn deur swart mense geskryf word – en die regering word aangemoedig om in te gryp.

Gretig reageer die ANC daarop deur 'n wysiging aan artikel 16 van die Grondwet voor te stel sodat 'n persoon se vryheid van spraak ingeperk kan word – as dit in die openbare belang is.

Joernaliste skarrel benoud – daar word wyd gepraat van die ANC wat sekere joernaliste gaan aanhou en keer dat hulle verder skryf ten einde die ongelykheid van die verlede reg te stel.

Verskeie kommentators verseker die publiek dat die stap net 'n verkiesingsfoefie is. Ná fel kritiek die afgelope vyf jaar vanaf die media, wil die ANC net vir sy kiesers wys hy is ernstig oor die saak, maar dat niks daarvan sal kom nie. Ons moet net vertroue hê in die Mabuza-magic.

Ander gaan so ver as om te sê dat die voorgestelde wysiging goed is, want dit is wat nodig is om Suid-Afrika se verlede reg te stel.

Fikile Mbalula, die minister van Waarheid in die nuutgeskepte Ministerie van Waarheid, kondig trots aan dat sy departement 'n lys van joernaliste het wat hulle as toetslopie vir die wysiging aan die Grondwet gaan gebruik. Die departement weier egter volstrek om die lys bekend te maak, want dan sal die joernaliste gewaarsku wees en kan hulle vlug of regshulp kry.

Alle joernaliste leef in vrees – talle verlaat die beroep en hou op skryf. Ander dui aan dat hulle eerder hul beroep vanuit die buiteland sal bedryf en vandaar sal skryf.

Dan lek 'n bron uit die Ministerie van Waarheid 'n lys van die geteikende joernaliste aan AfriForum. AfriForum publiseer die lys met verskeie kennisgewings dat die lys nie finaal is nie. AfriForum moedig joernaliste wel aan om te kyk of hul name op die lys verskyn sodat hulle regshulp of beskerming kan kry.

Die media reageer vinnig en dodelik – hulle kruisig AfriForum omdat die burgerregte-organisasie 'n lys uitgee wat nie 100% akkuraat is nie. Verskeie joernaliste is uiters kwaad vir AfriForum omdat hul name op die Ministerie van Waarheid se lys verskyn. Minister Mbalula, wat twee weke tevore aangekondig het dat daar 'n lys is, sê nou daar is geen lys nie. Dit is genoeg om die joernaliste wie se name op die lys verskyn, gerus te stel.

Hoe durf AfriForum die regering se lys publiseer sodat hierdie joernaliste gereed kan wees om hul reg op vryheid van spraak te kan verdedig? Die regering het hulle immers verseker daar is geen lys nie.

Indien dié scenario vir jou belaglik klink, onthou die reg op vryheid van spraak is in artikel 19 in die universele verklaring van menseregte vervat. Die reg op private eiendomsbesit is in artikel 17 vervat.

  • 176
  •  
  •  
  •  
Connie Mulder Deur Connie Mulder


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close