Die debat oor of Solidariteit vir 'n arm kleuterskool in Diepsloot 'n afdak moet opsit, instandhoudingswerk aan die bedrading moet doen en die toilette moet regmaak sodat riool nie daaruit uitloop nie, het so effens by my verby gegaan. Die rede: dit is nie so 'n groot aksie nie. Hierdie is maar net een van duisende aksies waarmee die Solidariteit Beweging besig is. Met respek, terwyl mense geveggies oor 'n klein aksie op die blok gevoer het, was ons besig om te veg om vir Afrikaners 'n toekoms hier in Suid-Afrika te skep. Ek het regtig nie tyd gehad om die blog te volg of kommentaar daarop te lewer nie. Ek het 'n dringendheid om vir ons mense 'n toekoms te skep.


Die Solidariteit Beweging is op die oomblik besig om 'n kampus van R100 miljoen vir Afrikaanse hoër onderwys te bou. Ons is besig om die kapasiteit van ons tegniese kollege, Sol-Tech, te verdubbel. Ons beplan aan 'n nuwe telematiese onderwysinstelling wat duisende Afrikaners gaan oplei. Ons administreer reeds 33 verskillende beursfondse vir Afrikaanse onderwys.

Ons hanteer jaarliks 1 300 sake namens lede. Ons het die afgelope jaar meer as R150 miljoen ten opsigte van beroepsbeserings en -siektes vir lede beding. Ons publiseer boeke oor die Anglo-Boereoorlog en het 'n internet-radiostasie begin om ons mense se boodskap dwarsoor die wêreld uit te dra.

 Ons beplan om 'n groot elektroniese Afrikaanse mediahuis te stig wat klank, video, teks en sosiale media gaan integreer. Die Solidariteit Navorsingsinstituut bring gereeld verslae uit wat onreg ontbloot en die regering se ideologies gedrewe beleidsrigtings kritiseer. Die Kom Huistoe-veldtog het al 4 000 Suid-Afrikaners (waarvan 90% Afrikaners is) gehelp om huis toe te kom.

AfriForum voer veldtogte oor munisipale dienslewering, Absa se politieke inmenging in sport, misdaad en die verandering van dorpe en stede se name. Die regte van Zimbabwiese boere word in Suid-Afrikaanse howe beskerm en Malema word hof toe gevat oor sy sing van die gewraakte “Kill the boer”-lied. Solidariteit Helpende Hand het 120 takke wat arm Afrikaners regoor die land help.

 Ons plaas mense in die arbeidsmark. Duisende skooltassies word elke jaar aan behoeftige Afrikaanse graadeens uitgedeel. 'n Beroepsleidinginstituut help Afrikaanse jongmense om die regte beroepskeuses te maak. Sowat R1,5 miljoen is aan Afrikaanse kleuterprojekte spandeer. Daar is nog vele meer aksies en projekte wat genoem kan word. Ons moet egter selfs nog meer doen, want ons mense se uitdagings is groot.

Binne hierdie konteks lyk die enkelinge se histerie omdat ons 'n klein projek in Diepsloot aanpak, maar bra ongeloofwaardig. Kom help eerder by ons tientalle projekte as om te kritiseer. 'n Hele aantal borge het die Diepsloot-projek gefinansier en mense het hulle hulp aangebied.

Ek dink dit is goed om soms na ander gemeenskappe ook uit te reik. Ons werk 95% onder arm Afrikaners en het al miljoene aan Afrikaanse kleuterprojekte spandeer. In die proses het ons baie geleer en ek deel graag wat ek geleer het met ander. Verder (soos een blog-skrywer sê), ontbloot dié soort aksie ook die rassisme van die Cosatu’s en die Black Management Forums. Hulle sal nooit na ander gemeenskappe uitreik nie, want hulle kyk suiwer uit 'n rasbril.

Mag ons nooit net gedryf word deur rassisme nie. Ons grondslag is mos anders. Die kleuters in Diepsloot word regtig gehelp. Hulle kry 'n dakkie om onder te speel en die skoolgebou en -terrein gaan nou veiliger wees. Dit is 'n kleuterskool van 'n kerk in Diepsloot wat goeie werk doen. Ek help graag.

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Dirk Hermann


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close