Algemeen, Gemeenskappe, My Werk -

Ons sal moet werk aan “werk”

Mnr Zuma is weg, maar die gevolge van sy wanbestuur gaan werkers nog baie lank teister. Sy “leiding” was die regstreekse oorsaak van die lyding van derduisende werkloses. Die grootse skande is dat Zuma homself en sy trawante skaamteloos in die naam en op die stemrug van miljoene werkers en werksloses verryk het. Hy het teen werkers se werk “gewerk”. Die Zumaregering se rampspoedige benadeling van werknemers is treffend bereken deur Standard bank se hoofekonoom, Goolam Ballim. Hy het uitgewerk dat die ekonomiese koste van die afgelope 7 jaar se politieke onstuimigheid nagenoeg ‘n triljoen rand was! Die skokkendste is dat die land se werksmag in hierdie tyd met byna ‘n miljoen poste kon gegroei het as die ekonomie nie so benadeel was nie. Maar dis nie al nie. Omdat ‘n enkele werknemer se huishouding uit ‘n gemiddeld van vier mense bestaan, is sowat 5 miljoen mense daardeur benadeel. Ballim bereken dat die land net in die vorige belastingjaar daardeur R300 biljoen rand verloor het! Dis skrikwekkende syfers. Dan kom die onberekenbare koste nog by van miljoene hardwerkende mense, wat in dieselfde tyd miljoene rande verloor het weens die swak prestasie van pensioenfondse en pap huispryse agv die swak ekonomie. Maar daar is ook ‘n waardeprobleem in dele van die privaatsektor soos wat die Steinhoff krisis en verskeie top maatskappye se aandadigheid aan staatskaping uitgewys het. Dit moet ook vasgevat word. Daarom is “werk” Solidariteit se hoofdoelwit vir 2018.

Welstand

Die welstand van 'n land word deur die welstand van sy werksmag bepaal. Gesaghebbende meningspeilings deur Gallup het getoon dat die grootste behoefte van die meeste mense ter wêreld 'n goeie werk is. Daarom is 'n goed opgeleide, goed betaalde en produktiewe werksmag noodsaaklik vir Suid-Afrika om te werk. Tweedens is dit ook 'n voorwaarde vir die verbetering van die bevolking se lewenstandaard – die doel van ’n ekonomie. Derdens is 'n topgehalte-arbeidsmag 'n vereiste vir die oplossing van ons land se knellende vraagstukke van armoede en werkloosheid.

Sonder ’n top-arbeidsmag wat as ’n wenspan by ons internasionale mededingers kan kers vashou, sal ons van die wêreldkaart verdwyn. Kyk ons egter na die werklike stand van ons werksmag, moes ons maar eerder Werkersdag afgeskaf of liewer gaan werk het. Hoë en permanente werkloosheid heers, terwyl daar meer stakings is as gedurende die struggle-jare voor 1994. Ons onderwysstelsel is so swak dat die meeste skoolverlaters onindiensneembaar is. Daar is tans sowat 9 miljoen mense in Suid-Afrika wat wil werk, maar nie werk nie. Dié mense lewer nie 'n produktiewe bydrae na wense nie. Die Wêreld- Ekonomiese Forum se globale mededingendheidsverslag gradeer ons arbeid-werkgewer-verhoudings die heel laagste uit 138 lande. Die linkse vakbondwese veg meer teen mekaar as vir hul lede. Meer as 16 miljoen mense ontvang maatskaplike toelae, teenoor die net 3,3 miljoen belastingbetalers wat vir die 2015-belastingjaar 'n volle 99% van die aangeslane persoonlike inkomstebelasting betaal het. Dit beteken dat meer mense vir 'n lewe stem as wat vir 'n lewe werk!

Hemel word hel

Dan word die ekonomie nog verder benadeel deur regeringsbeleid en wetgewing wat oorblyfsels is van 'n aggressiewe anti-besigheidsideologie wat in die grou Oosblok-geskiedenis vasgesteek het. Dít terwyl daar oorvloedige bewys is dat daardie tipe stelsels wat 'n werker-hemel-op-aarde probeer skep het, veel eerder op 'n hel van werkerarmoede en -verdrukking uitgeloop het.

Linkse vakbonde wat werkgewers as vyande sien wat in 'n klasseoorlog uitgewis moet word, veg die verkeerde geveg. 'n Aanval op besigheid as instelling is 'n aanval op werkers se werk, hul brood en botter, die ekonomie en op die land self. Die werklike geveg is teen die land se globale mededingers wat reeds soveel werksgeleenthede hier vernietig het. Dit help nie om te bly veg teen die internasionale ekonomiese spelreël van mededingendheid nie. Die oplossing lê veel eerder daarin om die spel volgens die reëls te speel en te wen, want in hierdie wedstryd is daar nie 'n tweede prys nie.

Die tyd het aangebreek om werk te maak van die treurige stand van ons land se werksmag. Die enigste oplossing bly om die ekonomiese koek groter te maak anders gaan ons eendag veg oor die krummels wat oorbly.

Daarom glo Solidariteit daaraan om mense se inkomste te verdubbel deur produktiwiteit met opleiding te verdubbel, eerder as om te probeer staak vir “dubbelsyferverhogings.” 'n Normale werksmag is egter nie moontlik in 'n abnormale land nie. Daarom moet die land normaliseer word.

 

  • 38
  •  
  •  
  •  
Flip Buys Deur Flip Buys


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close