Algemeen, Nuus, Politiek -

Onteiening sonder vergoeding: Wat beteken die president se video vir die jeug?

So Dinsdagaand, of dalk eerder Dinsdagnag, hoor ons toe na ses maande se gesmeul dat die ANC se nasionale uitvoerende komitee, ons de facto-regering, besluit het om wel die Grondwet van Suid-Afrika so te wysig dat onteiening sonder vergoeding inderdaad voortaan 'n moontlikheid sal wees.  “Dit het duidelik geword dat ons mense wil hê die Grondwet moet meer eksplisiet wees … vervolgens sal die ANC, deur die Parlementêre proses, 'n voorgestelde aanpassing finaliseer wat die voorwaardes vir onteiening sonder vergoeding duideliker uitstippel.” So het president Ramaphosa se toespraak gelui.

Wat op aarde beteken dit eintlik?

Baie ekonome en akademici is meer bevoeg om uit te spel wat die grondliggende lang- en korttermyn gevolge van hierdie kopskuif en ideologiese skuif na links van die ANC vir ons land en ons ekonomie gaan beteken.  Al wat ek hier wil duidelik maak, is wat dit vir jou, jongmens, in die volgende 20 jaar gaan beteken – en nee, wat hier volg, gaan nie noodwendig maklik wees om te lees nie. Dit is ook nie maklik om dit te skryf nie, maar die tyd vir suutjies rondom moeilike kwessies trap  is verby.

Selfs iemand sonder enige opleiding in finansiële of ekonomiese sake – trouens, selfs iemand wat nie kan lees of skryf nie – kan verstaan dat geen besigheid grond in 'n land gaan koop en fabrieke daar gaan bou indien daardie land vir homself die mag toe-eien om private bates, soos die grond waarop jou fabriek staan, die geld in jou arbeiders se rekeninge, en selfs die pensioen in hulle pensioenrekeninge, te vat soos wat hy goed dink nie.  Hierdie opmerking klink dalk radikaal, maar privaat eiendom is nie beperk tot grond nie, en die filosofiese en ideologiese benadering van ons huidige regering verskil duidelik drasties van my eie Christelik-Westerse beskouing, en van dié van baie van my vriende en kollegas.

As ons dan aanvaar, en die onmiddellike val van die rand teenoor die Amerikaanse dollar bevestig dit, dat oorsese belegging in Suid-Afrika gaan afneem, en dat meer en meer maatskappye soos General Motors gaan maak en uit Suid-Afrika gaan onttrek om elders werkgeleenthede te skep, is die outomatiese gevolg 'n swakker rand, duurder brandstof, hoër lewenskoste en natuurlik groter werkloosheid, en heel moontlik dus meer misdaad.  Hierdie hele lys negatiewe gevolge het hul oorsprong in die president met die groot glimlag wat eerder 'n verkiesing wil wen as om 'n ekonomie te probeer red.  Op dieselfde dag wat ons hoor dat ses van die nege provinsies meer werkloses as indiensgeneemdes het, kwes ons president ons reeds sukkelende ekonomie met 'n dwarsklap en 'n amputasie.  Waarom noem ek dit 'n amputasie?  Wel, een been van ons ekonomie wat nog werk en wat baie werk skep, is oorsese belegging – en dit, soos bo verduidelik, gaan nou ernstig in gedrang kom.

'n Tweede direkte gevolg van die president se uitspraak op jou en my as jongmense is voedselsekuriteit.  Selfs al is daar tans nie presiese duidelikheid oor wat die ANC se dokument aan die Parlement gaan bevat en omvat nie, sal baie boere dit as die finale strooi beskou en planne begin maak om hul beleggings te diversifiseer (lees tussen die lyne: minder grond te besit, minder te plant, en minder kos te produseer).  As minder kos geproduseer word omdat boere nie bereid is om geld in onseker bates in te stoot nie, sal die aanbod daarvan afneem.  Wat gebeur as iets skaarser word?  Dit word duurder.  Neem ook in ag dat ons bevolking steeds groei, dus is daar in elk geval 'n toename in vraag – dit gaan nou net erger word.  Jy gaan dus baie meer betaal om net te lewe.  Voedselsekuriteit is wel 'n tweesnydende swaard, want onthou, as boere nie plant nie, maar mense moet steeds eet, het jy net een keuse: voer in, ten duurste.  Dus gaan jou BigMac McMeal R50 rand kos, en nie meer R40 nie – want daar is nie koring vir die brood nie en die beeste het nie voer nie. Ons vleis sal dus van Australië of Argentinië af ingevoer moet word.

Derdens moet ons na inflasie kyk.  Sonder om wetenskaplik te raak, beteken inflasie dat die koopkrag van jou geld teen 'n sekere koers afneem.  As 'n mandjie goedjies vandag R100 kos en daardie selfde mandjie kos volgende jaar R106, dan was inflasie 6%.  Nou goed.  As alles duurder word – kos, brandstof, voertuie (want Ford en ander sê reeds hulle heroorweeg hulle toekoms hier) en alles anders – dan is jou geld ewe skielik minder werd.  Bietjie inflasie is volgens die meeste ekonome goed, dus prysstygings van so 2% per jaar of so.  Waarvan ons hier praat, is wel nie 'n goeie of gesonde inflasie soos 2% nie – ons praat van 9% of 10%, en dan begin ons so te raak-raak aan hiperinflasie.  Pryse styg teen 'n belaglike tempo en geld het geen waarde nie.  Klink dit soos iets wat al met een van ons buurlande gebeur het? Indien dit bekend klink, kan jy onthou wat die rede daarvoor was?  Was dit grondonteiening?  O, goed, ek vra net …

Punt vier: Hier wil ek net vir 'n oomblik filosofies raak.  Die huidige model van grondhervorming is gewillige koper en gewillige verkoper – dit beteken dat as die regering my plaas wil vat, mag hulle, maar hulle moet 'n prys betaal wat ek aanvaar.  Nou goed.  Ons is tans nie seker wat die dokument aan die Parlement gaan sê nie, dit het ek reeds genoem, maar kom ons neem aan dat dit steeds in breë trekke lyk soos die dokument wat die EFF in Februarie voorgestel het.  Dit sou dan beteken dat die regering my plaas, my beleggings, selfs die spikkeltjies-kouse wat my meisie vir my gegee het, mag vat.  Punt.  Geen verdere gevolge nie.  Soos die sewe-uur nuus na afloop van die weer – dit is klaar, verby.  Die Internasionale Monetêre Fonds wat finansiële samewerking tussen 189 lande bewerkstellig, het ons regering teen onteiening sonder vergoeding gewaarsku, maar nee, lyk my die ANC se boontjietellers weet beter as letterlik die hele wêreld.  (Asem in.  Vee kru taal uit.) Die impak daarvan op my en jou is: Ons moet in 'n land leef met 'n regering wie se waardestel dit vir hulle aanvaarbaar maak om so op te tree.  Hoe absoluut absurd.

Hier bo is vier redes waarom meneer Ramaphosa se video jou as jongmens moes ontstel.  Wat kan jy nou doen?  Die belangrikste is: wees wakker!  Die tyd om apaties te wees en nou maar net niks te doen nie en te hoop hierdie ding waai oor, is verby.  Raak betrokke!  Laat jou stem hoor!  Lees, weet watter risiko’s daar vir jou is, en belê slim!

  • 169
  •  
  •  
  •  
Paul Maritz Deur Paul Maritz


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close