Daar bestaan tans groot kommer oor 'n verdere toename in staatsingryping wat tot onteiening van private eiendom kan lei. Soveel só dat die sakeregtewaghond AfriSake in 2014 'n groot veldtog teen verskeie wetsontwerpe, regeringsuitsprake en beleidstukke wat private besit verder in gedrang kan bring, onderneem het. Dié insiggewende verslag is by die volgende skakel beskikbaar.

 

Kommer heers dat grootskaalse onteiening van private eiendom onder die vaandel van restitusie en rassetransformasie kan plaasvind. Oor die geldigheid van die kommer kan baie bespiegel word en na my mening is daar rede om bekommerd te wees, maar dit is nie waarop ek hier wil fokus nie.

 

Die meeste van ons is reeds aan 'n stelselmatige proses van onteiening onderworpe. Om jou stelselmatig te onteien, is immers die hoofprojek van enige staat. 'n Proses van onteiening vind plaas in meeste state waar 'n regering heers en dit is nie uniek aan SA nie – hoewel die uitvoering van die proses hier by ons unieke afmetings kan aanneem.

 

Die sosioloog en politieke ekonoom Franz Oppenheimer reken die staat is die beliggaming van die politieke middel tot die bevrediging van behoeftes. Hy skryf in The State: “[…] to call one’s own labour and the equivalent exchange of one’s own labour for the labour of others, the ‘economic means’ for the satisfaction of needs, while the unrequited appropriation of the labour of others will be called the ‘political means.’”

 

As Oppenheimer reg is, dan is die staat dié politieke liggaam van onteiening van mense se arbeid. Dit beteken die staat se voortbestaan hang af van vorme van gewettigde onteiening. In die konteks hiervan kan ons onsself afvra waarvan ons reeds onteien word. Ek noem slegs 'n paar voorbeelde:

 

  • Jou inkomste en arbeid: Die staat besluit tans hoeveel van jou inkomste jy maar mag hou en hoeveel daarvan hulle in beslag neem.

 

  • Jou huis en ander vaste eiendom: Tot die mate wat ons verpligte eiendomsbelasting, oftewel “huur” aan die staat betaal, is ons onteien. Indien hieroor getwyfel word, dink net wat sal gebeur met jou eiendom as jy lank nie eiendomsbelasting betaal nie.

 

  • Jou winste: Die staat besluit hoeveel van 'n maatskappy se wins die eienaars maar mag hou en hoeveel daarvan onder dwang gevat word. Die staat bepaal ook byvoorbeeld hoeveel dividendebelasting op beleggings betaal moet word.

 

  • Jou geld se koopkrag: Die staatsmonopolie op geldvoorsiening (met behulp van wette oor wettige betaalmiddels) het verskeie gevolge en een hiervan is inflasie. Inflasie vind plaas wanneer nuwe geld geskep word en die ekonomie binnegaan. Nuwe rande jaag dan meeste pryse hoër. So word die koopkrag van jou geld ook deur nuwe geld verswak en onteien.

 

Dan praat ons nie eens van die hele string burgerregte waarvan landsburgers in kinderoppasserstate ontneem word nie. Hiervolgens is dit duidelik dat onteiening en die ontneming van regte nie 'n nuwe ding is nie – trouens, dit bestaan al so lank as wat state hul kloue in 'n afgebakende grondgebiede ingeslaan het. Dit bring dalk nuwe perspektief op die omstrede onteieningswette.

 

Tog kan ek, as individu, nie ander mense dwing om 'n deel van hul inkomste, eiendom, wins of koopkrag aan my te oorhandig nie. Dié soort gedrag is slegs moontlik onder 'n baie spesifieke vaandel: die vaandel van 'n staat of 'n regering.

 

Dié amper magiese vaandel maak onteiening nie net “wettig” nie, dit laat die meeste landsburgers ook daartoe instem. Individue het tog nie die reg op wettige afpersing, betreding of diefstal nie. Die staat het 'n aangenome “reg” om belastings te hef, landsburgers se aksies te beperk en mense se koopkrag te verminder (om net 'n paar te noem).

 

Hoekom word baie van die staat se handelinge, waarmee Jan Alleman in sy eie hoedanigheid nooit mee sal wegkom nie, so maklik aanvaar? Die antwoord op dié vraag lê in die primêre probleem van politieke wetenskap, naamlik die oorsprong van politieke mag.

 

Dit is 'n probleem wat min bevraagteken word. Min mense bevraagteken die vorme van onteiening soos hierbo genoem – dit word meestal as vanselfsprekend aanvaar. Nog minder mense bevraagteken hoe presies die staat politieke mag bekom het.

 

Tog geniet die idee van die “godgegewe regte van konings” nie meer aanhang nie – dit is lankal uitgedien. Miskien moet die idee van oorheersing deur 'n meerderheid in moderne meerderheidsdemokrasieë aan dieselfde kritiese ondersoek onderwerp word.

  •  
  •  
  •  
Deur Gerhard van Onselen


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close