Algemeen, Kultuur -

Ontsnappingshoogmoed

Deur die eeue heen was dit die norm dat 'n kind sy of haar ma se moedertaal as hul eie aanneem. Selfs in lande waar die moedertaal anders is as die primêre medium van onderrig, soos in Singapoer, Zimbabwe, of selfs Suid-Afrika, was dit nog altyd die norm dat die kind dieselfde taal in die huis praat as wat sy of haar moeder toe hulle kind was, in die huis gepraat het.

Dit is egter nie altyd die geval nie.

Dit kan gebeur, en dit gebeur toenemend meer, dat ouers die bewuste besluit maak om kinders in 'n ander taal groot te maak as wat beide van hulle in grootgemaak is.

Soms is die redes hiervoor prakties, soos wanneer ouers emigreer en alle wortels of brûe na die ou wêreld wil agterlaat, of voel dat hulle kinders 'n beter kans het om aan te pas as hulle in die taal van daardie land se mense grootgemaak word. Ek stem nie noodwendig saam met hierdie manier van opvoeding nie, maar die feit bly staan dat dit wel gebeur.

Soms is die redes hiervoor egter glad nie prakties nie, maar ideologies. Dit is oor hierdie verskynsel wat ek graag ‘n mening wil lug.

Ek was onlangs saam met 'n groep jongmense by 'n ete. Van die mense wat saam met my by die ete was, het ek daardie aand vir die eerste keer ontmoet. Een van die dames, wat min of meer my ouderdom is, het haarself in Engels aan my voorgestel. Alhoewel mens van haar naam en van kon aflei dat sy moontlik van 'n Afrikaanse agtergrond kom en jy kon wonder of sy nie miskien Afrikaans is nie, het sy daarop aangedring om slegs Engels te praat. My afleiding hieroor was, na my mening, normaal; ek het afgelei dat haar ouers Afrikaans was en haar toe in Engels grootgemaak het – vandaar die naam en van. Alhoewel dit my vir 'n oomblik ontstel het dat haar ouers hulle kind van haar kultuur ontneem deur haar nie in haar moedertaal groot te maak nie, het ek nie verder oor die saak gewonder nie.

Totdat haar selfoon gelui het…

“Hallo Ma, ek kan nie nou praat nie. Ek is by 'n ete.” Aksentloos. Afrikaans.

Dit was by nadenke aan hierdie situasie dat ek met die woord “ontsnappingshoogmoed” vorendag gekom het, om hierdie interessante, maar terselfdertyd uiters teleurstellende fenomeen vir myself te beskryf.

Suid-Afrikaners, wat in 94% van gevalle nie Engels met hulle ouers praat nie, beweeg dikwels in multi-kulturele omstandighede of vriendekringe, waar die voertaal van gesprekke Engels is. Dit is te verstane om die taal te praat wat deur almal verstaan kan word as jy in 'n situasie is waar slegs dié taal deur almal aan tafel verstaan word.  Die onverstaanbare sluip dan stadig maar seker in – hierdie persoon wat Engels as tweede taal praat kom tot die besef dat hy of sy na 'n rukkie goeie Engels kan praat, en selfs soos 'n moedertaalspreker kan klink.

Hierdie “geleerdes” doen dan 'n interessante ding: In plaas van Engels hou vir wanneer dit nodig en gepas is, word die wortels waarmee hulle grootgemaak is as minderwaardig beskou en diep begrawe. Die Zulu, Xhosa of Afrikaans wat hulle saam met moedersmelk ingekry het raak vir hulle bitter, omdat dit hulle daaraan herinner dat hulle nederige agtergrond het, dat hulle uit 'n sekere gemeenskap kom, wat miskien nie so voortvarend is soos wat hy of sy tans by die universiteit of aan tafel by die duur restaurant is nie.

So in plaas van opstaan vir hul eertydse gemeenskappe, jubel en juig die ontsnapper, en vermy sy of haar tuisdorp soos die pes. In die geval van Suid-Afrika vind 'n mens dan ook dikwels dat so 'n persoon sy of haar moedertaal oornag verleer, en slegs Engels praat. Afrikaans, Zulu of Xhosa word gebêre vir wanneer ma of pa bel.

Nog 'n interessante ding gebeur as mens jou moedertaal probeer begrawe: Jou kultuur word saam met dit begrawe.  So veel as wat topvlak sentraliste in die regering dit wil ontken, elke liewe mens in Suid-Afrika en regoor die wêreld het 'n sekere kultuur waaruit hy of sy kom, en waarbinne hy of sy grootgeword het.  Om jou eie kultuur agter te laat en te hoop dat ander mense ook hulle kulture sal agterlaat is absurd en word keer op keer as 'n baie gevaarlike opoffering bewys.  Dink maar aan die seuntjie wat deur sy klasmaats in die Engelse skool 'n “boertjie” genoem word op grond van sy ouers se aksent wat hy aangeleer het, en sy van wat nou maar aan hom plak. Hy besluit dan om oor te skuif na waar die “boertjies” is, en deur sy klasmaats in die Afrikaanse skool word hy nou 'n soutie genoem. Sy ouers se opoffering het hom haweloos gelaat. Terloops, hierdie staaltjie is nie fiksie nie, maar iets wat daagliks in Suid-Afrika afspeel.

Dit word selfs erger as 'n mens besef wat die historiese implikasie van verengelsing, spesifiek vir Afrikaanse kinders is. In 1902 het die Britse Ryk onder leiding van Lord Milner met 'n plan vir verengelsing vorendag gekom, wat beteken het dat kindertjies wat in die klas of selfs pouses Afrikaans gepraat het 'n bord om hulle nek moes dra wat sê “I am a donkey, I spoke Dutch”. As Lord Milner maar net geweet het dat sommige ouers vandag sommer self so 'n bordjie om hul kinders se nek hang het hy miskien anders opgetree…

Lord Milner het reeds besef wat hierdie Afrikaanse seuntjie in die Engelse skool op die harde manier moes besef: Daar is nie iets soos 'n kultuurneutrale-sone in die groot metropole waar almal nou moet inpas by 'n “kultuurlose” samelewing nie. Soos wat baie Afrikaanse ouers met 'n skok besef het, gaan jou kind, as jy hom of haar kultuurloos grootmaak, die kultuur van die wêreld waarbinne hy of sy funksioneer, aanneem. As dit 'n Engelse privaatskool is, kan jy amper oortuig daarvan wees dat jou kind se sedes, norme, waardes, wêreldbeskouing en geloofsbeskouing identies sal wees aan dié van sy of haar klasmaats. Indien dit die pad is wat jy gekies het sou Milner sekerlik trots wees. Waar jy egter die moeite gedoen het om vir jou kind 'n vaste fondasie van beginsels en kultuur te gee, kan so 'n kind op gelyke voet staan met klasmaats en kollegas wie se ouers hulle ook binne 'n bepaalde kultuur grootgemaak het.

Die slotsom hier is eenvoudig: As jy graag jou eie moedertaal wil verag en begrawe, en as jy graag jou kinders in 'n ander taal wil grootmaak as wat jy grootgemaak is, is jy welkom om so te doen, dit is jou keuse. Bly egter bewus van die feit dat Suid-Afrika nie op pad is na een of ander neutralekultuur nie, en wees bewus daarvan dat jou kind dan 'n ander kultuur as jy gaan aanneem, en op sekere punte wesenlik van jou gaan verskil. Dit is nie 'n opinie nie, dit is 'n feit. Wat my betref, as ek geseënd genoeg is om eendag my eie kinders te hê sal ek seker maak dat hulle 'n goeie Engels kan praat, selfs so goed soos moedertaalsprekers, want dit maak tog sin in vandag se besigheidswêreld, maar ek sal dit onder geen omstandighede ten koste van hulle moedertaal en kultuur doen nie.

Ek sal hulle ook leer dat mens jou nooit vir jou ma se taal moet skaam nie, want jou ma het jou in daardie taal die mens gemaak wat jy is.

  • 27
  •  
  •  
  •  
Paul Maritz Deur Paul Maritz


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close