Algemeen -

Swaarkry en verlange

Baie keer voel dit of ander mense se lewens “makliker” is. Dinge werk vir hulle uit. Alles gaan goed en hulle floreer. (Ooglopend in elk geval).

Dít terwyl jy soms sukkel om kop bo water te hou. Terwyl jy die een struikelblok ná die ander op jou pad kry. Terwyl jy aanhoudend voor ‘n toe deur te staan kom.

Ek troos my altyd daaraan: wanneer die tye van swaarkry verby is, (en hulle gaan verby,) besef jy weer hoe wonderlik die goeie tye is. Jy verstaan wat dit is om onder te wees en weer boontoe te spartel. Jy heg meer waarde aan iets is wat jy moeilik bekom het en het meer waardering daarvoor.

Ek het op ‘n aanhaling afgekom wat nogal iets hiervan verwoord: “Wat geleer word sonder verlange, word vergeet sonder versuim” – Anoniem.

Hoeveel keer wil ons so graag iets hê wat ons nie kan kry nie. Hoeveel keer verlang ons na iets, maar die antwoord bly herhaaldelik: nee.

Soms bly die antwoord “nee”, maar ‘n ander deur gaan vir ons oop. Soms verander die “nee” uiteindelik in “ja” en dan ken ons dankbaarheid geen perke nie! Maar wat ook al gebeur, alles werk op die ou end beter uit as wat ons verwagting was.

Wanneer dit sleg gaan met jou: onthou, swaarkry gaan verby. Eendag sal jy terugkyk en weet die Here het jou ook daardeur gedra. Hy bly getrou!

God vrywaar ons nie van lyding nie,
maar Hy staan by ons.
Hy hou nie alle laste van ons weg nie,
maar Hy dra dit saam met ons.
Hy het die dood nie uitgeban nie,
maar sy mag gebreek.
Al moet ons die lewe laat,
verlaat Hy ons nooit.

– Helmut Thielicke

  •  
  •  
  •  
Deur Carina Bester


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close