Algemeen -

Oorweldig

Ek sien ek sal maar weer streng moet begin lysies maak van wat elke dag moet gebeur. Die laaste ruk is alles 'n warboel in ons huis. Buite beheer. In chaos.

Vir iemand soos ek, wat hou van orde en elke ding op sy plek, is dit om dit mooi te stel: 'n uitdaging.

Elke oggend begin met opstaan, myself gereed kry vir die dag. Kinders: aantrek, doeke ruil, kos gee. My dagtaak van werk van die huis af: e-posse antwoord, werk-werk-werk, skreeuende kinders, honde wat blaf. Iewers gou 'n koppie oggendkoffie inwerk – hopelik voor tien. Dan is dit natuurlik ook die gewone huis-dinge: kosmaak, wasgoed was, skottelgoedwasser uitpak en inpak. Speelgoed wegpak. Stryk. My oë in die aand toemaak met die wete: Môre begin alles weer van vooraf…

Dit is 'n klein bietjie oorweldigend.

My man en twee kinders. Twee honde. “Een” werk. Elkeen wil sy stukkie aandag kry en ek voel of ek elke keer in twee (of meer) geskeur word.

Wie of wat is die belangrikste? Wat moet eerste gebeur? Hoe moet ek alles gedoen kry?

“Me-time” is 'n luuksheid waarvoor daar nie tyd is nie.

Ja, dalk is dit net 'n fase wat sal verbygaan. Aan die ander kant – dalk nie. Teen die tyd wat ek dít finaal besef – is ek heel moontlik al by breekpunt.

Die verdere uitdaging is dat ek ver van my ondersteuningsnetwerk af is. Ons bly op 'n dorp met beperkte opsies wat skole en betroubare hulp betref. Dit is iets wat nie (vinnig) gaan verander nie.

Ek moet besef: dít is waarmee ek nou kan werk. So, kom oor dit en kry 'n oplossing vir die probleem/probleme.

Die verskoning wat ek vir alles het, is: Daar is nie tyd nie…

Van nou af moet ek tyd maak vir die belangrike dinge!

Ek sal moet begin om net in my werksure te werk en om elke dag my vasgestelde etenstyd te neem.

Dit klink so eenvoudig, maar glo my – om van die huis af te werk het sy eie uitdagings. Jy kom nooit “weg” van die werk af nie. Jy wil net “gou” iets klaarmaak ná werk en as jy weer kyk, is 'n uur verby en jy is steeds besig. Dit ten spyte van die feit dat jou kind al 5 keer kom vra het dat jy gou iets moet kom kyk.

Ek het nou lank genoeg so oorweldig gevoel. Ek weet nie wat om te vat en wat om te los nie.

Van nou af moet ek probeer om alles wat ek kan onder beheer te kry en die ander goed maar net te laat gaan. Want ek kan nie alles perfek hê nie. Skoon wit vloere is een daarvan… Dit sal soms kan gebeur, maar nie heeltyd en altyd nie. Dit is nou maar só en basta!

Onwillekeurig kom die liedjie van een van my dogtertjie se gunsteling animasies by my op: “Let it go! Let it go!” Dít gaan waarskynlik die moeilikste vir my wees…

Van nou af vat ek dit dag vir dag en week vir week.

 

 

NS: Hierdie blog het ek twee weke terug geskryf. Dit lyk of die plan werk – die laaste twee weke was goeie weke en dit gaan baie beter in ons huis en huishouding.

  •  
  •  
  •  
  •  
Carina Bester Deur Carina Bester


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close