Algemeen, Kultuur, Nuus -

Ope brief aan die President: Is ons kindertjies maar net kwotas vir u?

Geagte Meneer die President

Ope brief: Is ons kindertjies niks meer as kwotas vir u nie?

Op 4 Februarie vanjaar is 'n dokument deur Peppi Olevano, hoofsekretaris van Suid-Afrikaanse Skoleatletiek, uitgestuur.  Hierdie dokument het gestel dat ten minste 40% van die atlete wat deel van 'n provinsiale span uitmaak van “voorheen benadeelde gemeenskappe” moet kom.  Ek weet so goed soos u dat “voorheen benadeelde gemeenskap” in hierdie geval nie verwys na kinders se algemene lewenstandaard, of hul ouers se geleerdheid of maandelikse salaris nie.  Ek weet so goed soos u dat “voorheen benadeel” hier gebruik is omdat die skrywer suutjies om die woorde “swart” en “wit” wou trap.

Die dokument waarna ek verwys, wat u sekerlik al gesien het en wat in ieder geval deur u regering uitgereik is, skok my tot in my diepste wese om vier spesifieke redes:

  1. Deur 'n kwota-stelsel op laerskoolkinders toe te pas, word graad 1-kindertjies, wat in die “onder sewe”-afdeling gaan deelneem, ingesluit. Suid-Afrikaanse Skoleatletiek diskrimineer dus teen kindertjies wat in 2013 gebore is.  Hierdie kindertjies is gebore toe u reeds u terugkeer na die politiek gemaak het nadat u miljarde rande in die vryemark gaan verdien het.  Hierdie kindertjies se ouers was in baie gevalle in 1994 nog op skool, en verskeie van hulle se ouers is eers na 1994 gebore.  Hoe kan u, met agting, op die podium staan en praat oor hoe belangrik kindertjies vir u is, as u hier aan sewejariges wys dat ras belangriker as meriete is?
  2. Juis dit bring my by my tweede grief. U is besig om ware gelykheid die nekslag toe te dien.  As hierdie kindertjies van sewe jaar oud, onskuldig en met blink ogies, volwassenheid bereik, sal hulle met hulle die wrok saamdra dat hulle eie land, die land van hulle geboorte, nie vir hulle omgegee het nie.  Hierdie land het twee van sy kindertjies gevat en op grond van 'n maatstaf soos pigmentasie, wat arbitrêr gekies is, besluit wie mag vorder en wie nie – en dit nogal in atletiek, waar die wenner met 'n stophorlosie of maatband bepaal kan word – objektief en regverdig.
  3. Wat u met hierdie kinders doen, meneer Ramaphosa, is om vir die res van hulle lewens te bevestig dat hulle tweedeklasburgers in hierdie land is. In sy baanbrekerswerk Animal Farm skryf George Orwell “All animals are equal, some are just more equal than others”.  Is dit nie presies wat u vir hierdie kindertjies leer deur hierdie sisteem uit te bou, en voortaan lewe te gee nie?  Vir die res van hul lewens is hierdie kinders as tweedeklasburgers in hul eie land gebrandmerk – nie net op hul geboortesertifikate nie, maar in hul harte.  Wat anders as antagonisme kan hulle vir hulle land voel wanneer hulle kan sien dat hulle goed genoeg is, vinnig genoeg is, rats genoeg is, maar nie swart genoeg is nie?  Vir die res van hulle lewens gaan hulle met hulle moet saamdra dat hulle as onskuldige kinders uit die ry uit gestamp is, en vervang is.  Net as gevolg van hulle kleur.
  4. Die vierde rede waarom u administrasie se openlike kwotastelsel my so diep grief, is dat dit, soos in die geval van staatskaping, vir ons duidelik maak dat daar twee stelle reëls is. Hierdie kindertjies leer dat die wenpaal vir hulle op 'n ander plek lê as vir die res van Suid-Afrika.  Vir die res van hulle lewens sal hulle die wete met hulle saamdra dat dit wat vir ander genoeg is, nie vir hulle genoeg is nie.

President Ramaphosa, dit is tyd om hierdie malligheid eens en vir altyd stop te sit!

Stop kwotastelsels op alle sport – dit is besig om ons kinders meer en meer van mekaar te vervreem, en ons bevolking net dieper en dieper te verdeel.  Stop kwotastelsels by laerskole, wat kaalvoetkindertjies weeg en te lig bevind.  Stop kwotastelsels by hoërskole, wat ons toekomstige werksmag na alternatiewe in ander lande laat soek.  Stop kwotastelsels by universiteite, waar dit jong atlete en sportlui se toekomstige loopbane beëindig.

Stop kwotastelsels – dit is besig om littekens op ons nasie te los wat oor baie generasies nog op ons harte geskryf sal staan.

Vir u tyd dank ek u.

Paul Maritz

Koördineerder: Solidariteit Jeug

 

  •  
  •  
  •  
Paul Maritz Deur Paul Maritz


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close