Gemeenskappe, Kultuur, Politiek -

Orania

Orania is 'n boeiende onderwerp, en soveel te meer soos wat omstandighede in Suid-Afrika versleg, terwyl dit in Orania verbeter. Vir Oraniërs is dit boeiend, want dit is hulle Afrikanerhartland. 'n Tuiste. 'n Hartsplek wat vry, veilig en voorspoedig is. Suid-Afrikaanse burgers word ook deur hierdie misterieuse dorpie geboei, want die wonder is groot: “Wat gaan regtig daar aan?”

Baie Suid-Afrikaanse burgers kies die maklike uitweg deur die ongemak wat Orania se suksesse veroorsaak eenkant toe te skuif. Hulle maak dit af as “'n plek vir ’n klomp rassiste”. Ek, as Suid-Afrikaanse burger, wat as gereelde besoeker aan Orania tuis voel, wil 'n buite-binne-perspektief oor dié besonderse plek gee.

Ek moet begin deur die wit olifant uit die kamer te ruim: Dit is nie 'n plek waar klomp rassiste saamkoek nie. Inteendeel, in die res van Suid-Afrika word daar om elke braaivleisvuur oor politiek, misdaad en slegte rasseverhoudinge gepraat – die sweer van ons tyd. Dít terwyl daar in Orania eerder gepraat word oor nuwe idees, innoverende selfbouprojekte, vooruitgang en die nederige viering van suksesse tot eer van God.

Jy sien, die mense in Orania se verwysingsraamwerk vir gesprekvoering lyk soveel anders as Suid-Afrikaanse burgers sin. Hulle sien nie elke dag agteruitgang nie. Hulle word nie elke dag met diskriminasie oor hulle ligte velkleur gekonfronteer nie. Hulle word nie elke dag opgewerk oor nóg misdaad, nóg slaggate, nóg korrupsie, nóg bedelaars, nóg rommel-storting, of nóg 'n gewelddadige protes van afbrand en afbreek nie.

Dit klink verfrissend en jy wonder miskien: “Nou hoé kom ek Orania binne?” Jy dink dalk, soos ek die eerste keer, dat jy Orania gaan bereik met 'n groot hek voor jou en gewapende wagte op hul pos wat eers vir jou toegang moet gun. Dit is eintlik komies, want dit is hoe elke veiligheidskompleks in die res van Suid-Afrika lyk. Maar, die teendeel is waar vir Orania. Jy ry deur die pragtige Karoo, verby spilpuntlande, besproei uit die Oranje-rivier, en dan sien jy die bordjie: “Welkom in Orania”. As jy stadig deurry gaan jy verlief neem met die skoon, vriendelike, veilige plattelandse dorpie wat bou, bou, bou en nóg bou om 'n Afrikaner-stad te word. As jy besluit om stil te hou, moet jy weet dat jy as “nie-Oraniër” gaan uitstaan wanneer jy jou vensters toedraai en jou kar sluit, soos Suid-Afrikaanse burgers se gewoonte is.

As jy op hierdie stadium met 'n glimlag sit omdat jy dink jou ligte velkleur gaan jou vrywaar om in dié unieke plek te woon, moet jy twee keer dink. 'n Afrikaner op papier is iets anders as 'n Afrikaner in die hart. En die hart-aspek is beslis belangriker as jy deel van dié gemeenskap wil word. Ek het die beste voorbeeld hiervan met my eerste besoek aan Orania gesien. Ek het met opwinding verneem van Duitsers wat van Duitsland na Orania wou trek, maar eers toegelaat was toe hulle vlot Afrikaans kon praat en die oriëntering voltooi het. Hulle wou in Orania woon om bier te brou met die Oranjerivier se water. Hulle doen nou, maar moes eers die Afrikanerkultuur ten volle aanneem, want Orania is 'n kultuurgemeenskap vir Afrikaners.

Dit is daarom vir besoekers aan Orania soms vreemd om te sien hoe ál die werk deur Afrikaners gedoen word. Hulle kom soms met sekere vooropgestelde idees, en wil dan uitgaan met die boodskap, “dit is vir agterlike Afrikaners”. Ongelukkig is baie Afrikaners, wat hierdie stelling maak, nog onder die indruk dat hulle verhewe bo sekere arbeid is. Is dit dan vir hulle beter om Afrikaners te sien bedel in strate van stede, wonder ek? Hou hulle hulself dalk blind vir hoe moeilik dit vir Afrikaners is om werk in Suid-Afrika te kry met regulasies soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB)?

In Orania kan Afrikaners, wat deur die res van Suid-Afrika uitgeskop word, 'n regverdige kans gegun word om te werk. As jy boonop 'n Europese land besoek gaan jy sien dat 'n Duitser in Duitsland vullissakke oplaai, 'n Fransman in Frankryk die restaurant skoonmaak, en 'n Hollander in Nederland die strate vee. Dít is dan die grootste onderskeidende aspek van Orania – selfwerksaamheid. Daar word geensins staatgemaak op ander, goedkoper arbeid nie. Die bewaring van die Afrikanerkultuur, deur werk te skep vir jou eie mense, is hiér belangriker as selfverryking.

Ek kan beslis by Oraniërs leer. Hulle erns om die pragtige Afrikanerkultuur te bewaar en te bevorder is noemenswaardig. Boonop voel ek, selfs na net 'n kort besoek aan Orania, baie meer verdraagsaam teenoor ander kultuurgroepe, omdat ek kom van 'n plek waar ek veilig en vry voel om my kultuur uit te leef.

  •  
  •  
  •  
René Krüger Deur René Krüger


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close