Algemeen -

My ouma se resep

Deur Mandy-Michelle Thackwray

 

Het jy al ooit gewonder hoekom ouma se resep nooit vir jou uitwerk nie? Het sy 'n belangrike tegniek of bestanddeel weerhou? Hoekom is ouma so heilig op hierdie wen-resep van haar?

 

My skoonsus het 'n stokou boekie met haar ouma se handgeskrewe resepte in. Die bestanddele word nog in pond gelys. Van die resepte het net bestanddele en geen instruksies oor die kook- of bakmetode nie. Op ander bladsye is die inskrywing so dof dat jy skaars kan lees wat ouma geskryf het. Vandag het die boekie meer sentimentele waarde as wat daar 'n kans is dat sy iets daaruit gaan bak.

 

My ouma maak die heerlikste hawermoutkoekies. Dit is sulke mooi reghoekige koekies met net die regte blink strooplagie bo-op. Dit is nie te bros nie, en kan selfs in 'n koppie koffie gedoop word sonder om mout in jou beker te los. Dit het 'n hele paar kere se smeek gekos om die resep uit ouma te kry. My eerste baksel was aanvaarbaar, maar dit was nie soos ouma s’n nie. Ek is toe weer terug om hierdie ding uit te pluis.

 

Ons praat deur die resep, ek bevestig die tipe botter wat sy gebruik, die naam van die stroop en enige ander raad wat sy mag hê. Ons gesels oor die baktyd, want as jy dit te lank los, word dit droog, en as jy dit te gou uithaal, los dit jou met 'n taai spul. Met als reg en presies net soos ouma dit doen, probeer ek weer. Dis baie lekker, maar dit is steeds nie ouma s’n nie.

 

As agtergrond moet ek julle vertel dat ek nou nie juis 'n bakster van formaat is nie. Ek hou van die boksweergawe waar jy slegs eiers en olie hoef by te gooi. Ek sal slegs 'n oorspronklike resep maak as ek dit al geproe het en dit ontvang van die persoon wat dit gemaak het. (Op dié manier het ek vertroue dat ek die dis sal kan baasraak, en dat dit heerlik sal smaak). Dit is vir my regtig 'n doring in my vlees dat ouma se resep vir my net nie die paal haal nie.

 

Soos ek dink aan die lekker disse wat my ouma al opgetower het, die feit dat ek nooit weer die beste hawermoutkoekies sal kry as sy die dag die aarde verlaat nie, die verhouding tussen ouma en kleinkind, het 'n hele paar gedagtes by my opgekom. Is dit dat oumas aspris iets uitlaat uit hul geheime resepte? Is die tradisie van kompeteer vir die beste “ietsie” by die vereniging van baksters van die dorp nog so in hul wese dat hulle eenvoudig net nie die misterie van die towerbestanddeel kan laat gaan nie? Het die rou bestanddele se samevatting en smaak met die tyd so verander dat 'n mens nie dieselfde smaak sal kry nie?

 

Ek het verder gewonder of ouma verkies om haar geheime resep soos 'n tradisie oor te dra na iemand wat haar resep sal waardig wees? Is dit dalk vir haar belangriker om dit saam te bak as 'n span as wat dit is om slegs 'n stukkie papier met haar trots op te deel?

Dit laat my toe dink aan my ma se hawermoutpap. My seuntjie is versot op haar hawermoutpap en sal bakke vol eet, maar hy hou glad nie van my weergawe van dieselfde brousel nie en weier om dit te eet. Ek hou my ma een oggend fyn dop, kyk hoe sy dit maak, die hoeveelheid botter, die tekstuur aan die einde, maar steeds wil boeta niks weet nie. Ek is terug ma toe en leen een van die pap bakkies waaruit hy by haar dit eet, denkend dat dit dalk die manier is wat die pap in die bakke lê. Na alles wat ek probeer het, is dit steeds nie soos ouma s’n nie, en ek gee die stryd gewonne.

 

Die samevatting hiervan is die essensie van 'n ouma. Dit gaan nie oor die geheim nie. Dit gaan nie oor die resep of die metode nie, of selfs nie eens die breekware waarin dit bedien word nie. Ouma steek niks weg nie – inteendeel, sy is trots daarop dat iemand haar met hul aanprysings en waardering vir haar baksels vereer. Hoekom? Want ouma maak dit met liefde.

 

Dit is die liefde van 'n ouma-hart wat jy proe. Dit is die hart van saamwees en lekker eet wat jy proe. Dit is die herinneringe wat jy elke oomblik maak en vir altyd sal onthou. My ouma se resep is besonder spesiaal. Ek sal altyd onthou dat ouma se hawermoutkoekies die beste was, maar veel meer as dit, ek sal haar hart onthou. Die geheim van alles is familie, liefde, saamwees en seëninge. Dit is my ouma se resep.

  •  
  •  
  •  
Deur Algemene Skrywer


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close