Algemeen -

My-oupa-in-'n-duimpie-storie

Mandy-Michelle Thackwray

 

Jou ouma is dalk in kaneel, maar my oupa is in 'n Duimpie-storie.

Ek is ongelooflik dankbaar dat ek steeds 'n oupa op die rype ouderdom van 86 het. Elke kind glo sekerlik sy of haar grootouers is die beste, maar ek kan getuig dat my oupa werklik 'n yster is.

My oupa is nie die tipe oupa op wie se skoot jy gaan sit en vir lekkertjies in sy hempsak krap nie. Ek kan inteendeel goed onthou dat my oupa 'n streng man was toe ons klein was. Ek onthou 'n pakslae wat ek gekry het waarna ek in die leë plaasdam gaan sit en huil het.

Ons het van jongs af Oupa se grense leer ken, maar ook geweet ons het hier te make met iemand op wie ons kan staatmaak en wie se hande vir niks verkeerd staan nie. Ons het vroeg geleer dat jy nie met Oupa moet stry oor iets nie want hy sal vinnig 'n boek uitpluk en eindelose navorsing doen om jou verkeerd te bewys. Vandag nog geniet hy 'n lekker argument, maar deesdae vra hy my om “die web” te gebruik vir sy navorsing.

Ek is spyt dat ek nie in my jonger dae meer daarin belanggestel het om meer uit te vind oor my oupa en ouma se kinderdae nie. Al kan ons nou gesels oor die “ou” dae, is dit nie meer vir my oupa so belangrik om oor sy kinderdae te gesels nie. Hy het al so baie in sy lewe beleef dat slegs sekere hoogtepunte vir hom uitstaan. Die fokus het verskuif van sentimentele stories na elke dag se opstaan om die dag te pak met die pyne en skete wat dit bring.

Ek weet wel dat oupa van Yorkshire af kom. My superkwaai oumagrootjie het met haar kinders in die Kaap aangekom en dit haar huis gemaak. My oupa het al van die ouderdom van ses gerook en dan het hy ook nog gaan vuisslaan op die Kaapse dokke. My oupa is op die ouderdom van 19 met my 18-jarige ouma getroud wat 'n Afrikaans-Joodse nooi was. Hulle kon mekaar glad nie verstaan nie, maar was smoorverlief. Vyf kinders later was die twee van hulle Afrikaans sowel as Engels magtig.

My oupa was in die lugmag, was vir jare 'n fynproewersjef (chef de cuisine), het sy eie restaurant bestuur, dosyne huise gebou en kon altyd soos MacGyver enige iets reg maak. Hy sê nie maklik nee nie, en sal uit sy pad uit gaan om jou te help as hy kan. Ek het my oupa nog nooit hoor kla nie.

My oupa het lank gelede 'n paar van sy vingers verloor. Ons maan gereeld ons kinders om nie hul vingers in hul neuse te druk nie want dit kan dan afval, nes oupagrootjie s'n. In die week bel my ma my in groot benoudheid – Oupa was (op sy rype ouderdom) besig met 'n projek en het sy duim raak gesaag en dit erg beseer. Die duim sal moontlik geamputeer moet word.

Nie net is my hart seer dat oupa dalk nog 'n vinger gaan verloor nie, maar ook oor die feit dat hy steeds hard aan die werk is. Ek dink daaraan dat hy steeds dink hy’s 40 en wonder oor die hardkoppigheid wat baie van ons van hom geërf het.

Ek dink toe ook na oor al die lesse wat ek by my Keltiese oupa geleer het:

  • Een fout kanseller nie die ander uit nie.
  • Jy mag van iemand anders verskil, maar respekteer die ander se denke al stem jy nie daarmee saam nie.
  • As jy verkeerd was, erken dit en beweeg aan.
  • Werk hard, doen altyd jou bes.
  • Daar is nie 'n ding soos “kan nie” – met wilskrag en vasberadenheid kan jy enige iets oorkom.
  • Moet nooit ophou leer nie.
  • As jy hard werk vir jou goed dan pas jy dit op.
  • Probeer nuwe dinge, verken die wêreld en verken nuwe idees.
  • Kinders moet veral mense wat ouer as hulle is respekteer.
  • Groet altyd vriendelik.

Die dokter kon Oupa se duim red. Oupa se karaktereienskappe wat weereens tydens hierdie voorval na vore gekom het, het my sprakeloos gelaat. Dit sluit in 'n gesindheid van aanvaarding, dapperheid, 'n vasberadenheid waarvolgens opgee nie 'n opsie is nie en 'n sterk wil. Oupa het sommer al dieselfde middag van die dag waarop hy ontslaan is, uitgegaan om te gaan kuier. Ek hoop wel hy het vir eers sy les met die elektriese saag geleer.

Dit is my wens dat ek ook dieselfde karaktereienskappe as wat ek by my oupa waarneem sal hê. Ek wil die lesse wat ek by hom geleer het ook aan my kind oordra. My oupa is in 'n duimstorie en selfs daar is hy formidabele man.

 

 

  • 25
  •  
  •  
  •  
Algemene Skrywer Deur Algemene Skrywer


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close