Algemeen, Ekonomie -

Petrol dalk hele jaar goedkoper

Deur Paul Joubert

Die prys van petrol was tot dusver vanjaar in elke maand goedkoper as die ekwivalente maand van 2014. Dit is 'n hoogs buitengewone toedrag van sake en is ook ten spyte daarvan dat die regering in April die belasting op petrol met die hoogste enkele bedrag ooit laat styg het.

 

Tot dusver vanjaar het 93-oktaan petrol in Gauteng gemiddeld R12,16 gekos, teenoor 'n gemiddelde prys van R13,82 in die eerste tien maande van 2014. Die tabel toon die presiese pryse in elke maand, asook die jaar-op-jaar verskille vir elke maand. (In die tabel kan ook die uitwerking van die 80,5c-styging in belasting op petrol in April gesien word.)

 

2014 2015 Verskil
Jan. R13,36 R11,02 -R2,34
Feb. R13,75 R10,09 -R3,66
Mrt. R14,11 R11,05 -R3,06
Apr. R14,16 R12,61 -R1,55
Mei R14,01 R12,61 -R1,40
Jun. R13,79 R13,08 -R0,71
Jul. R14,08 R13,52 -R0,56
Aug. R14,08 R13,01 -R1,07
Sep. R13,41 R12,32 -R1,09
Okt. R13,43 R12,30 -R1,13
Nov. R12,98
Des. R12,29

Op die oomblik lyk dit onwaarskynlik dat die prys van petrol in November met die 69 sent sal styg wat dit November 2014 se prys sal laat oortref. Dan bly slegs Desember oor vir 'n moontlike jaar-op-jaar styging. Indien dit wel gebeur, sal 2015 steeds die eerste jaar sedert 2009 wees dat die prys van petrol vir 11 maande van die jaar laer was as in die vorige jaar. In 2009 was die prys van petrol slegs in Desember hoër as wat dit in 2008 was.

 

Die laer prys van petrol het selfs 'n merkbare impak op die algemene verbruikersprysinflasiekoers gehad. Die gemiddelde koers tot dusver gedurende 2015 was 4,5%, maar indien die invloed van die laer petrolprys uitgehaal word, was dit 5,6%.

 

Indien Desember 2015 se prys tog laer as Desember 2014 se prys is, sal dit die eerste keer in minstens 25 jaar wees dat petrol vir 'n volle jaar in Suid-Afrika goedkoper is as wat dit in die vorige jaar was. Beskikbare rekords van die pryse gaan slegs terug tot 1990, maar van 1990 tot 2014 was daar nooit 'n jaar wat die pryse vir 'n agtereenvolgende twaalf maande laer was as in 'n vorige jaar nie.

 

Die afgelope jaar se laer brandstofpryse is 'n gevolg van die internasionale oliekartel, Opul (of “Opec” in Engels) se besluit om soveel as moontlik olie te ontgin, sodat pryse laer gedwing kan word om hul nuwe mededingers uit die mark te probeer dwing. Hierdie taktiek het nog nie die gewenste uitwerking gehad nie en derhalwe bly oliepryse steeds relatief laag. In Suid-Afrika het die swak rand, grootliks aangevuur deur die regering se swak ekonomiese beleid, daarvoor gesorg dat die voordeel vir plaaslike verbruikers beperk is.

 

Selfs al hou Opul deur die loop van 2016 aan om internasionale oliepryse laag te hou, sal 2016 nie weer so 'n voordelige jaar vir Suid-Afrikaanse motoriste wees as wat 2015 tot dusver was nie.

  •  
  •  
  •  
cilleste Deur cilleste


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close