Algemeen -

Plaasmoorde: Ons moet nóóit ophou kwaad raak

Ek was lanklaas so bedroef en geskok oor misdade soos die afgelope twee weke. Mens sal dink dat ons in Suid-Afrika al gewoond moet wees aan al die moord en doodslag, maar ek kan eenvoudig net nie wees nie. Ek is kwaad. Nee, ek is wóédend oor mense wat op plase vermoor word! En ek kan dit nie doodluiters net aanvaar nie.

 

Elke dag (of ten minste elke tweede dag) pryk daar ’n nuwe plaasmoord in die media (let wel: slegs in sekere media). Dertig aanvalle en 11 moorde in Februarie en dis nou eers die middel van die maand. Dis ook nie net die aantal moorde en aanvalle wat skok nie, maar ook die absolute grusaamheid en die onbeskaamdheid van hierdie aanvalle en moorde. Dertien mans daag op by ’n boer se huis en gebruik sy eie trekker om sy huis se mure te vernietig en dan voort te gaan om hom en sy geliefdes te vermoor. Wat besiel iemand om so iets te doen? Vir ’n klein stuk buit soos ’n paar rand of ‘n selfoon. Is dit wat iemand se lewe werd is? Moes hulle vermoor word?

 

’n Soektog op Netwerk24 lewer onlangse opskrifte op soos “Man in aanval op plaas vermoor”, “Man op plaas buite Bela-Bela vermoor”, “Man se oor in plaasmoord afgesny” en “Man op plaas met moersleutel doodgeslaan”. Wat my, en baie ander mense in hierdie land, tot in ons fondamente geskud het was die teregstellingmoorde van Gert (78) en Paulina Smuts (70), hul seun Louis (47) en sy vrou, Belinda (43). Louis en Belinda se kinders het hul ouers en grootouers in een brutale en totaal onnodige aanval verloor. Ek as volwasse man wat 2m lank is en 128kg weeg, was vandeesweek in trane hieroor en ek is geensins skaam daaroor.

 

Dit is suiwer haat wat sulke dade voortbring en mense wat sulke dade pleeg, verdien nie om deel van die samelewing te wees nie. Daar is absoluut geen regverdiging daarvoor nie en armoede speel nie ‘n rol nie want die navorsing toon dat plaasaanvallers gesofistikeerde misdadigers is wat van die beste tegnologie en toerusting gebruik maak. In sulke gevalle is die doodstraf myns insiens uiters toepaslik. Hierdie is ’n lae-intensiteit insurgensie wat op talle fronte beveg moet word, maar die doodstraf-debat kan dringend herbesoek word. ‘n Deurtastende ondersoek deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) toon dat die vlak van geweld in Suid-Afrika die herinstelling van die doodstraf lewensvatbaar maak. “The examples are frightening: women tortured by having kettles of boiling water thrown over them, people burnt with irons or on stove tops, families executed,” het dr. Frans Cronjé, hoof van die SAIRV, aan IOL hieroor gesê.

 

Diegene wat sê dit is ’n regressiewe en arbitrêre maatreël wat iemand se grondwetlike reg op lewe skend (soos Pierre de Vos en Piet Croucamp), moet besef Suid-Afrika is nie Switserland nie en dat moordslagoffers eerste van húl reg op lewe ontneem is. Die probleem in Suid-Afrika is ook nie dat iemand verkeerdelik van moord en verkragting skuldig bevind word nie – daar is bitter min sulke gevalle en ek kan nie eers nou aan een Suid-Afrikaanse voorbeeld dink nie – maar dat werklike moordenaars skotvry wegstap of skokkend ligte vonnisse ontvang. Daar is verlede jaar bykans 18 000 moorde by die polisie aangemeld en selfs al kontroleer mens dit vir foutiewe gevalle (wat buitendien weglaatbaar klein is), het daar nie naastenby soveel veroordelings op aanklag van moord hieruit voortgespruit nie.

 

Ander kwessies pla ook ten opsigte van veral plaasmoorde. Die media-beriggewing daaroor is skokkend en totaal gebrekkig. Die Engelse media, met hul swart lesersmarkte en min begrip vir plattelandse uitdagings en Afrikaners in die algemeen, lewer eenvoudig net nie verslag oor plaasmoorde nie. Hulle het boonop heeltemal ingekoop op die idee dat grondhervorming swartmense skielik gaan ryk maak en hul waardigheid herstel – en hul politieke korrektheid drup soos stroop. Die nare blanke boer wat nie bloot sy plaas wil weggee nie het dus sy verdiende loon gekry, lui hul redaksionele mantra. As die Afrikaanse media nie hieroor berig het nie, sou dit ’n totaal versweë misdaad gewees het. Ons moet aanhou agiteer en druk sodat hierdie kwessie op die voorblaaie bly en die nasionale psige aangryp.

 

In die Balfour-moorde en soveel ander plaasaanvale (sowel as ander geweldsmisdaad) was buitelanders – waarvan heelparty onwettig – betrokke gewees. Die Suid-Afrikaanse staat misluk dus in sy doel om sy burgers eerstens veilig te hou, maar ook om sy grense en immigrasie behoorlik te beheer. Dit is tekens van ten minste ’n swak staat. Hiermee tesame maak plaaslike politici, universiteitsdosente en selfs onderwysers (!) heethoofdige, hatige en kwaadwillige ras-uitsprake wat die klimaat vir sulke moorde skep. Dis onteenseglik só dat aanhoudende aanhitsing van geweld deur mense met invloed later ’n klimaat van haat skep en goed soos moord normaliseer.

 

Groot dele van ons land se platteland het al verval en is basies nie meer veilig om te bewoon (en bewerk) nie. Dis ’n harde realiteit, maar een wat ons moet aanvaar. Maar plaasmoorde moet nooit normaal raak nie en ons mag nie ophou om kwaad daaroor te raak nie. Dit is nie normaal nie en boere se dood is ons almal se nood. Kom ons doen wat ons kan om hierdie vergrype aan te spreek deur by te dra tot, en betrokke te raak by, organisasies wat hulle daarop toespits. Die polisie is dalk plek-plek besorgd daaroor, maar dis steeds nie ‘n groot en omvattende prioriteit vir hulle nie – die statistiek bewys dit. Kom ons skakel daarbenewens ons woede om in druk en maak seker die wêreld weet wat die gevare vir ons boere is. Die tyd vir terugstaan en wegskram is nou verby.

 

Hierdie is een van my bydraes. Hoe gaan u help?

  •  
  •  
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


Leave a Reply

Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close