Algemeen, Nuus -

Pouse het nooit gekom nie

 

Deur Reon Janse van Rensburg

 

Vrydag 1 Februarie 2019. 'n Tragedie tref Hoërskool Driehoek en Vanderbijlpark is op almal se lippe. Landwyd. Dit is egter gemeng met hartseer en kwaad. Skokkend.

Normaalweg is Vrydae by skole en selfs kantore ook rustiger. Daar is iets anders in die atmosfeer, amper soos die reuk van braaivleis. Die opwinding bou op en skoolvriende maak planne vir die naweek en oorslaappartytjies word sommer per whatsapp met ouers gereël. Dit het al vir sommige ouers normaal geword om 'n huis vol kinders te hê. Die ander kinders is self al deel van die gesin.

As voormalige onnie ken ek die daaglikse roetine van 'n skool. Ek kan selfs sê dat ek dit soms mis. Dinge gebeur klokslag en daar word sterk klem op roetine geplaas. Dit klink eenvoudig, maar dit is allermins die geval. Om honderde opgewonde kinders van verskillende ouderdomme en agtergronde eenmalig te kry om uiteindelik na die ou onderwyser wat voor by die aantreeblokke staan en skree te luister, is 'n uitdaging op sy eie.

Kinders lag, maak grappe, en is maar eintlik steeds net kind al gebruik hulle reeds Gillette-skeerlemme vir die hardebaarde en al gebruik hulle naellak met kleurvariasies waarvan Plascon nog nie gehoor het nie. Hulle staan in rye en word in 'n boks gedruk om vir die volgende paar uur iets te probeer wees wat heeltemal anders is as wie hulle in hierdie stadium van hulle lewens is – skoliere. Leerders met oop ore wat soos sponse alles behoort in te neem wat vir hulle vertel en geleer word. Dit is 'n onnatuurlike proses waar jy soos 'n wilde perd getem word. Jy verloor iets van jouself, maar onwetend in die proses word daar soveel meer by jouself bygevoeg. Die leisels van die wilde perd, wat jy eens was, word aan jou teruggegee en jou toekoms is skielik in jou eie hande.

07:00 – Onderwysers kom in die personeelkamer bymekaar. Daar word koffie gemaak. Heel moontlik Ricoffy of Frisco, want die skrapse begroting laat nie toe vir Douwe Egberts of mnr. Jacobs om te kom kuier nie. Ten spyte van die bitter smaak word daar gelag. Juffrouens deel stories van hulle kinders en mans gesels oor sport wat hulle die naweek op die televisie gaan kyk. Normale dinge vir normale mense met normale lewens en probleme.

Daar word geopen met 'n dagstuk wat 'n gewilde uitgewer gepubliseer het, gevolg deur gebed en aankondigings oor wat die dag plaasvind, wie waar betrokke is, ens. Klasse word opgedeel vir toesig waar dit nodig is en onderwysers is voorbereid om na alle kinders se welstand om te sien.

07:30 – Die klok lui. Dit is die roep wat die boodskap van orde en stilte aankondig. Dit is gelukkkig Vrydag, die klok klink nie vandag so ernstig nie. Honderde kinders kom aangedrentel vanuit verskillende kante. Sommige stap met trots, 'n huppel in die stap, terwyl 'n paar se hemde uithang en rebellie uitstraal. Tieners. Fases. Ons almal word wel groot.

Kinders stap soos geoefende soldate na die verskillende plekke waar hulle aantree. Skielik is ma en pa net 'n vae herinnering. Jy is omring deur ander mense. Sommige mense gee vir jou om en jy ook vir sommige. Jy het maats en dalk 'n paar skoolmaats oor wie jy nie so mal is nie. Jy word voorberei vir die wrede wêreld daar buite in 'n beskermde omgewing. As kind is jy in die grootword-proses. Dit voel vir jou soos 'n ewigheid en jy sal eers later in jou lewe besef hoe vinnig dit eintlik verbygaan.

Vrydae begin gewoonlik met 'n saalopening. Sommige skole is steeds klein genoeg dat alle leerders in die saal bymekaar kom terwyl talle Afrikaanse skole uit hul nate bars en die leerders in die aantreeblok die formaliteit aanpak.

Die onderhoof of een van die senior personeellede spreek die kinders aan. “Goeiemôre Hoekies!” Dit word gevolg deur 'n gedruis – “Goeiemôre Meneer”. Die gedruis is borstig en is getuienis van jarelange tradisie en trots.
Die hoofseun en hoofdogter kry 'n kans om met hulle skoolmaats te gesels. Daar word 'n grap vertel en daar is kinderlaggies met kinderharte wat die atmosfeer oplig en laat skitter. Die hemele se son skyn vir 'n oomblik meer helder as normaalweg en die orde van die dag is vir 'n oomblik vergete. Kinders is vir 'n oomblik kind.

Die opening word afgesluit met die skoollied of dalk die volkslied, want Hoekies is nes die ander duisende skole in verskillende dele van die land vol jong Suid-Afrikaners wat patrioties is oor hulle gemeenskap en ook oor hulle land. Kinders en onderwysers sing saam en vorm 'n eenheid wat geskep word deur die deel van waardes, en die strewe na alles wat goed en mooi is.

Kort voor 08:00 – Die verdaging is ordelik, min of meer. Dit is immers Vrydag. Die kinders se ore hou reeds naweek en die onderwysers se raaskwota is vir die week bereik. Sommige kinders moet vinnig agterbly vir sport- of kultuurreëlings en moet vinnig met verskeie onderwysers en afrigters vergader.

Die kinders skarrel om by hulle klasse uit te kom. Van die kinders onthou dat hulle hul tasse aan die ander kant van die skool gelos het en hardloop om dit te kry. Hulle kan nie weer laat kom vir klas nie. Dit is nou eers Februarie en hulle loop reeds op dun ys. “Sê vir Juffrou ek gaan laat wees, ek moet ‘n brief vir atletiek gaan ingee,” skree een vriendin aan 'n ander en vriende wat mekaar met die blad groet – “Sien jou eerste pouse!”

Die tweede klok lui. Die tweede klok is 'n aanduiding dat jou tyd verstreke is. Jou tyd behoort nou aan die onderwysers, die tyd vir kindwees vir eers uitgestel en jou gedagtes is by die bou van jou toekoms. Kinders stap die verskillende klasse binne en daar is 'n laaste geskarrel. Lewenslange liefdes word vir ‘n laaste oomblik tussen meisie en kêrel verklaar en die wêreld is nog so lig soos 'n veer.

Net na 08:00 – Na afloop van jou vinnige gesprek met jou atletiekafrigter draf jy klas toe. Jy is reeds laat omdat jou spanmaat eers 'n honderd vrae gehad het oor die volgende byeenkoms. Soos jy stap, dink jy aan jou huiswerk. Het jy alles gedoen en het jy goed genoeg vir jou Engelse toespraak voorberei? Dit is dinge wat nou op die oomblik saakmaak.

Jy het 10 treë voor jy by die klas is. Jy kyk vinnig na jou blink gepoetsde skoene en soos jy opkyk is daar met een donderslag 'n groot gedreun toe die boonste stoep inmekaar tuimel. Kinders val plat en probeer uit die pad kom. Jy word in jou spore gestuit. Die skok en skrik is so groot dat jy nie kan beweeg nie. Dit raak doodstil. Jy besef dat die paar kinders wat 'n sekonde terug daar gestaan het, nie meer daar staan nie. Hulle is nie meer staande nie en is vasgevang onder die beton. Jou adrenalien skop in en met die hulp van ander skoliere probeer jy die beton lig. Jou jong spiere probeer met alle mag om die onmoontlike te vermag.

Daar is dogters wat die beseerdes probeer bystaan deur hulle moed in te praat. Van die kinders onder die beton reageer nie. Jy besef dat julle nie die beton gelig kry nie en dat julle met groot desperaatheid iets anders gaan moet probeer. Minute begin soos ure voel. Opgee is nie 'n opsie nie. Jy en jou skoolmaats probeer ander planne maak. Selfs die doelpale van die netbalbaan swoeg onder die gewig. Dit is 'n saak van nood en elke sekonde begin teen julle tel. Die lewe van 'n skoolmaat, 'n jongmens nes jy, hang aan flenters. Die moed sak in jou skoene en jy het geen uitweg nie. Nie jy of die ander seuns wil opgee nie.

Die vrolike stemme van kinders word verruil vir hartseer klanke en stilte. Niemand weet eintlik wat om vir mekaar te sê nie en dan tref die realiteit jou skielik hard. Al het jy nie al die kinders geken wat op hierdie manier moes seerkry en so skielik sterf nie, is jy in 'n oogwink van skolier aan mense wat vir mekaar omgee, verbind.

Die een vriend wat so uitgesien het na die volgende paar minute waar hy weer by sy vriende kon wees, is nie meer daar nie. “Ek sien jou nooit weer nie. Pouse het nie weer gekom nie. Pouses sal nie weer dieselfde wees nie.”

Hoërskool Driehoek. Vanderbiljlpark. Jy was eens 'n gewone skool in 'n gewone dorp. Dit het verander. Julle kinders het verander. Mag julle kinders weer kinders word. Mag die tragedie omgeswaai word in 'n geleentheid om nie meer elke dag na mekaar as medeskoliere te kyk nie, maar as mense wat vir mekaar omgee. Mag Suid-Afrika leer om, nes julle, die nood raak te sien en na mekaar uit te reik sonder om te skroom, want Hoekies, julle is die ware helde in ons samelewing. Julle seuns en dogters moet die volgende standbeelde word waarna toekomstige Suid-Afrikaners kan opkyk in tye van onsekerheid.

Hoe maak jy 'n held? 'n Held word nie gemaak nie. 'n Held is enige mens wat gehoor gee aan 'n roepstem in nood en offer aan iemand wat om hulp vra. Ons kan almal helde wees, ons moet net kies om te antwoord!

  •  
  •  
  •  
Reon Janse van Rensburg Deur Reon Janse van Rensburg


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close