Nuus, Politiek -

Quinton, ek haal my hoed af

Geagte Quinton

 

Jou reaksie op Krieket Suid-Afrika (KSA) se direktiewe wat van krieketspelers vereis om die knie te buig, het soos 'n golf van hoop oor Suid-Afrika kom spoel. Kwaad en verontreg het mense oor die hele land hulle menings oor die afdwing van ideologieë en politieke bewegings gelug.

 

Vir jou haal ek my hoed af. Om die moed te hê om bankvas agter jou oortuiging te staan, is iets om te bewonder. In 'n situasie waar die groep “gehoorsaam” was, het jy jou beginsels gekies al het dit jou jou plek in die span gekos, en terwyl almal afsak, het jou optrede soos 'n paal bo water uitgestaan.

 

Wat jy gister gedoen het, is veel kragtiger as dit wat KSA gepoog het om reg te kry. Jy het standpunt teen boelies ingeneem, teen die afdwing van politieke wil op werknemers, en teen die ideologie van die regering wat geensins in sport tuishoort nie. Jou beskeie standpunt het verder getref en harder geslaan as die standpunt wat KSA wou afdwing. Jy het lig gewerp op vryheid van keuse wat ontneem word, en hoe politieke voorkeure nou skielik 'n vereiste word voordat jy toegelaat mag word om jou werk te doen. Jy het onreg ontbloot.

 

Onreg kan nooit reg wees nie. Die regering poog al dekades lank om dit te regverdig, en dink telkens nuwe strategieë uit om verdere onreg onder verskeie dekmantels te pleeg. Van die gewildste is juis die regering se beleide en regulasies met betrekking tot ras. Waarmee hulle egter nie tred hou nie, is die skade wat hierdie rasmal planne en die implementering daarvan aanrig. Dit syfer deur in werkplekke, skole en sportvelde, en besoedel die omgewing tot so 'n mate dat dit agteruitgang in stede van groei bewerkstellig. Oral verval strukture, letterlik en figuurlik, totdat daar uiteindelik net 'n skadu van verlore moontlikhede oorbly.

 

As Suid-Afrikaners het ons 'n plig om ons regering, sy instansies en amptenare tot verantwoording te roep. Dit is ons plig om onreëlmatighede uit te wys, en dit is ons reg om daarop aan te dring dat sulke onreëlmatighede reggestel moet word.

 

Jy het gister jou plig nagekom. Deur getrou aan jou oortuigings te bly, het jy ook lig op onreg gewerp. Jy het gemeenskappe saamgebind wat saam met jou staan teen dit wat verkeerd is. Jy het hoop geskep. Jy het gewys dat dit wat verkeerd is, nie as reg aanvaar moet word nie, en dat ons almal nog 'n stem het. Jy het gewys wat kan gebeur as iemand standpunt inneem.

 

Ek haal my hoed vir jou af, Quinton, ons staan agter jou.

  •  
  •  
  •  
Deur Johnell Van Vollenhoven


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close