Algemeen -

Ramaphosa geen messias nie

Uiteindelik rol die kop van Ace Magashule. Volgens bykans alle berigte, en grusame gerugte, verdien Ace dit ook. Ongelukkig word die baba nou saam met die badwater uitgegooi en 'n presedent van wetteloosheid, en erger nog, selektiewe wetstoepassing word geskep. Die manier waarop Magashule verwyder is, ondanks sy appèl, is teen die reëls van die ANC, maar te oordeel aan die meeste kommentators se reaksie heilig die doel die middele, selfs al is die medisyne op die lang duur erger as die siekte.

Dit is vir die mens bykans instinktief om politici te wil opdeel tussen die “goeie ouens” en “slegte ouens”. Die destydse draers van die apartheidsideologie is uiteraard vir die meeste mense wat versoening en eenheid nastreef die slegte ouens. Dus is die ANC, wat hulle verdryf en vervang het, outomaties die goeie ouens. Net jammer vir 'n paar vrot appels, of so wil die versoeners en eenheidsgesindes ons laat verstaan.

Dalk sal die ANC en die hele Suid-Afrika beter daaraan toe wees as die minder korrupte faksie in die ANC oorneem en die groot skurke, simbolies gelei deur Magashule, verdryf. Die probleem is net dat daar nie noodwendig iets soos 'n minder korrupte faksie, simbolies gelei deur Ramaphosa, bestaan nie. Die korrupstes in die ANC sou nie toelaat dat 'n onkreukbare persoon tot bo vorder nie. Dit is byvoorbeeld onmoontlik dat Cyril Ramaphosa nie geweet het van die staatskaping en korrupsie wat rondom hom aangegaan het nie. Dit is onwaarskynlik dat sy kamerade hom sou verduur as hy nie self daaraan deelgeneem het of ten minste daarby geïmpliseer sou kon word nie. Daar bestaan geen eer onder skurke nie, maar wel die vermoë om mekaar af te dreig. Dit sou nie vir 'n korrupte instansie sin maak om 'n nie-korrupte, oftewel onafdreigbare, president te verkies nie.

Die wiele van geregtigheid draai stadig, maar in dié geval word dit aangejaag tot so 'n mate dat Ace met reg kan vra hoekom dit net hy is wat opsy moet staan terwyl daar eindelose lyste van ANC-kaders is wat ook van korrupsie beskuldig is. Natuurlik moet koppe rol, maar beslis nie slegs diegene wat vir Ramaphosa dwars in die krop steek nie. Dit maak kamma-geregtigheid 'n kragtige wapen en dompel Suid-Afrika onmiddellik in 'n mafia-agtige nagmerrie. Geen sinvolle regstrukture kan daarbinne staande bly nie.

RET-faksie as uitsondering?

Die ANC het inderdaad in 2017 die RET-faksie se voorstelle en resolusies as amptelike beleid aanvaar. Magashule en vriende is dus nie 'n faksie nie, maar verteenwoordigend van die werklike ANC. Beginsels soos onteiening sonder vergoeding en 'n einde aan sogenaamde witmonopoliekapitaal is deur die ANC se konferensie aanvaar op dieselfde aand wat Ramaphosa as ANC-president verkies is. Dieselfde geld vir samewerking met 'n muishondland soos Kuba. Tussen die Ramaforie deur het almal vergeet dat die redes hoekom hulle gedink het Ramaphosa verkies moet word, soos sy meer gematigde ekonomiese beleid, deur die ANC-konferensie bepaal word. Ramaphosa se gevoel daaroor is daarom eintlik irrelevant.

Idees dat Ramaphosa, veral ekonomies gesproke, meer gematig as sy RET-kamerade is, is ook nie op enige konkrete bewyse gegrond nie. Ramaphosa het nie self ryk geword nie. In 1996, toe swart ekonomiese bemagtiging nog in sy kinderskoene was, is Ramaphosa en sy swaer, Patrice Motsepe, gekies om van die eerste groot begunstigdes te wees en om die ANC in die privaat sektor te verteenwoordig. Ramaphosa het toe sakke vol geld gemaak deur in verskeie direksies te dien. Hy is dus 'n begunstigde van ander se vergunnings en het maar min van sy groot welvaart in die sweet van eie aangesig verdien.

Ramaphosa se geskiedenis as president wys ook dat hy nie die gematigde versoener is waarop mense hoop nie. Is politieke kommentators so vasgevang in hul koloniale maatstawwe, waarvolgens Ramaphosa goed is, want hy praat mooi Engels, dat hulle nie hoor wat hy sê nie? Het ons vergeet van die keer toe Ramaphosa vir John Steenhuisen gevra het waar hy tydens apartheid was “toe ons mense uitgemoor is … want ek sien jy is 'n wit man”. Dit is tog blatante rassisme. Of die keer toe hy die ontplooiing van die weermag op die Kaapse Vlakte verdedig het deur te sê dat dit nie die apartheidstipe weermag is wat “ons jong mense as teikens vir skiet” gebruik nie. Selfs al sou sulke gruweldade destyds gebeur het, druis dit tog in teen enige pogings tot nasiebou om so iets op te haal.

Ramaphosa het nog nooit weggeskram van radikale ANC-beginsels nie. Selfs kontroversiële beginsels soos kaderontplooiing is onlangs deur hom verdedig. Hy laat ook nie sommer 'n geleentheid verbygaan om te verwys na die verandering van artikel 25 van die Grondwet nie. Dit sal, volgens hom, swart mense bemagtig, die landbousektor hervorm en die “onregverdige ruimtelike realiteite in stede” regstel. Dit neem nie vreeslike moeite om die uiteinde van kaderontplooiing as beleid, gemeng met onteiening sonder vergoeding, te voorspel nie.

Om te weet wat die toekoms sonder Ace Magashule en sy faksie inhou, kan ons luister na wat Ramaphosa al in die verlede gesê het. Te oordeel daaraan is Ramaphosa self 'n kampvegter vir Radikale Ekonomiese Transformasie, spesifiek deur middel van onteiening sonder vergoeding. Enige hoop dat 'n oorwinning vir Ramaphosa 'n oorwinning vir eiendomsreg is, hou daarom geen steek nie.

Waar sal ons hoop vandaan kom?

Dit is duidelik dat die ANC geen belangstelling daarin toon om die ekonomie te red nie. Eerder as werk en die gepaardgaande herstel van menswaardigheid, hou die ANC mense aan die lewe met 'n skamele R350 per maand. Dit is net-net genoeg om 'n mens van sy bed tot die stembus aan die lewe te hou. Selfs die ontvangers van hierdie toelae sal nie vir lank hiermee tevrede wees nie.

Die privaat sektor, aan die ander kant, staan gereed om die gapings te vul waar die staat misluk. Dink maar aan hoeveel burgerregtegroepe in die afgelope dekade verrys het, wat die regering op elke vlak aanspreeklik hou. Kyk net hoeveel dorpe se inwoners het die instandhouding van hul infrastruktuur teruggeneem. Elke keer wat dit gebeur, raak die regering minder relevant, met die uiteinde dat hy later glad nie meer 'n invloed op ons sal hê nie. Waar die regering ons nie help nie, sal ons onsself help.

  •  
  •  
  •  
Theuns Du Buisson Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close