Algemeen -

Rassisme en haatspraak: Is Khumalo net meer gelyk as Sparrow?

Die meerderheid van die mense in Suid-Afrika is nie rassiste nie, en hulle is nie behep met ras nie. In ’n onlangse studie deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rassever
houdinge (SAIRV) is bevind dat 84% van die respondente – wat die diversiteit van Suid-Afrika weerspieël – saamgestem het dat verskillende rasse mekaar nodig het. ’n Skamele 3% van hulle sien rassisme as ’n onopgeloste probleem en beskou eerder kwessies soos werkloosheid (40%) en swak dienslewering (34%) as belangrike kwessies.

 

Enige redelike persoon in Suid-Afrika, afkomstig van watter etniese groep ook al, kan getuig dat rasseverhoudinge op grondvlak taamlik goed is. Maar daar is ook ’n kleinerige groep mense, wat op die sosiale media ’n seepkis gekry het, wat haat versprei, geweld aanhits en rassistiese en kwetsende aanmerkings jeens hul medeburgers maak.

 

Dit sal naïef wees om te dink rassisme sal gou in Suid-Afrika verdwyn. Dit sal waarskynlik nooit verdwyn nie.

 

Die sleutelvrae is hoe word hierdie rassisme gepleeg, bestuur, beveg en hoe word daarop gereageer? In heterogene samelewings met ’n omstrede geskiedenis, soos Suid-Afrika s’n, is wedersydse respek, verdraagsaamheid vir ware diversiteit en welwillendheid, eerder as die inlywing van die minderheid by die meerderheid, ongetwyfeld die beste koers om in te slaan. In Suid-Afrika is daar egter nog heelwat haakplekke hiermee, maar dit kon veel erger gewees het, soos die SAIRV se navorsing aandui.

 

Dan is daar ook die amptelike instellings wat spesifiek hiervoor geskep is. Die Hoofstuk 9-instellings en howe is geskep om wigte en teenwigte teen staatsdwingelandy en private vergrype te vorm. Maar hulle is uiteindelik onderhewig aan die staat se befondsing en ideologie en daar sal aanstons aangetoon word dat hulle nie heeltemal onpartydig of doeltreffend optree nie. Dit is ook nie wenslik vir ’n ongewilde minderheid om staatsinstellings straf oor rassisme en haatspraak te laat toemeet nie.

 

Die media behoort ook ’n waghondrol te speel om skuldiges aan die pen te laat ry. Hoewel hulle dit nominaal doen, is die skale veelal nie gelyk wat rassistiese uitsprake betref nie. Dit word desgelyks deur die heersende politieke klimaat bepaal en baie keer ontaard geïsoleerde rassistiese gevalle in veralgemenings en hiperbool.

 

Terwyl dit dus eintlik goed gaan met die respek-deel van die oplossing en daaglikse kontak tussen gewone mense, is daar ernstige gebreke met hoe die amptelike instellings en ook die media voorvalle van rassisme hanteer. En dit is ironies want dit is eintlik veronderstel om andersom te wees en almal moet in der waarheid gelyk voor die reg (en staat) te wees en met objektiwiteit deur die media as waghond behandel te word. Dit is duidelik uit talle onlangse gevalle dat dit egter nie so is nie.

 

Almal is gelyk, maar sommige is net meer gelyk

 

Nadat Penny Sparrow aan die begin van verlede jaar haar gewraakte vergelyking tussen swart mense en ape gemaak het, het alle hel losgebars. Die SA Menseregtekommissie (SAMRK) het haar uit eie beweging ondersoek, meer as 400 klagtes is net in Januarie by die MRK aanhangig gemaak en daar is in 2016 ’n allemintige 4 500 keer oor die voorval berig.

 

En soos oudregter Rex van Schalkwyk onlangs so treffend aangevoer het, was Sparrow soos manna uit die hemel vir ’n desperate ANC in ’n verkiesingsjaar. Sy is deur die regerende party voor die gelykheidshof gedaag en daar is sy ’n boete van R150 000 opgelê. Die saak is vir strafregtelike vervolging na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) verwys en sy is daarna in die Scottburgh-landdroshof op aanklag van crimen injuria skuldig bevind en tot die keuse tussen ’n boete van R5000 of 12 maande tronkstraf gevonnis.

 

Kort daarna het ’n amptenaar van die Gautengse departement van kuns en kultuur, Velaphi Khumalo, in ’n twiet met slordige spelling aangevoer dat hy die land van alle wit mense wil suiwer. Daar moet teen blankes opgetree word soos Hitler jeens die Jode opgetree het en wit mense moet tot bemestingstof gereduseer word. Hy het selfs onomwonde in die twiet aangedui dat hy ’n ANC-lid is.

 

Daar is klaarblyklik ’n reuse kwalitatiewe verskil tussen me. Sparrow en mnr. Khumalo se uitlatings. Die een is rassisties en kwalifiseer as haatspraak, die ander een is ’n duidelike aanhitsing tot geweld, bepleit die uitwissing van ’n groep mense gegrond op hul ras en vereis veel ernstiger optrede, veral van die ANC.

 

Maar die hoop het erg beskaam. Indien die terme “Velaphi Khumalo” en “Hitler” op Google ingetik word, lewer dit slegs 3 950 resultate op. Indien die terme “Penny Sparrow” en “monkeys” ingevoer word, lewer dit 18 000 op – bykans ses keer soveel.

 

Khumalo is weliswaar deur sy werkgewer veroordeel, maar hy het slegs ’n finale skriftelike waarskuwing ontvang en kon aangaan met sy werk nadat hy kulturele sensitiwiteitsopleiding ondergaan het. Die MRK het telkens aangedui dat hulle hom voor die gelykheidshof gaan daag en hulle het ook sowat 20 klagtes oor die voorval ontvang, maar my eie navorsing hieroor toon dat dit nooit gebeur het nie. Solidariteit het die MRK vir terugvoer oor hierdie en ander gevalle gevra en ons wag dus om te hoor wat hulle sê.

 

Khumalo het wel ’n verskoning aangebied en dit kan as versagtende omstandighede dien, maar so ook het Sparrow en dit het geen duit verskil gemaak nie in die ANC en media se strewe om ’n onbekende eiendomsagent te verwoes en haar terselfdertyd die nasionale diskoers, wat eintlik op werkskepping en ander probleme gefokus te wees, in 2016 laat oorheers. Die ANC het nie ’n woord gerep oor Khumalo se uitlatings nie.

 

Twee ander soortgelyke gevalle moet ook ter illustrasie bespreek word. In Mei laas jaar het die jong Matthew Theunissen teen Fikile Mbalula, minister van sport, se verbod op sporttoernooie weens ’n gebrek aan transformasie te velde getrek en daarmee saam die k-woord eenmalig gebruik. Sy naam en van lewer meer as 10 000 resultate op in Google. Nadat hy hom vrywillig by die MRK aangemeld het, is hy daar gelas om ’n onvoorwaardelike verskoning aan te bied en moes ses maande se gemeenskapsdiens in minderbevoorregte areas verrig.

 

In teenstelling hiermee is ’n jong swart Limpopo-wiskundeonderwyser Tlou Molele – wat by Curro werksaam was – ook deur die MRK ondersoek en gestraf deur die MRK. Hy het wit mense “genetiese mutasies” genoem en gesê hulle moes nooit bestaan nie. Hy het ook gesê hy sal plekke afbrand wat “wit heerskappy” ondersteun. Nadat hy ook sy verskoning aangebied het, het die MRK gelas dat hy slegs tien ure se gemeenskapsdiens verrig deur minderbevoorregte leerders met wiskundehersiening te help.

 

Curro het hom sedertdien afgedank, maar die invoer van die term “Tlou Molele” en “Curro” op Google lewer slegs 107 inskrywings op. Dit was grotendeels slegs die Afrikaanse media wat oor hierdie geval berig het.

 

Kom ons kyk kortliks na hierdie strawwe in vergelykende perspektief. Theunissen was rassisties en het die gewraakte k-woord gebruik. Hy is tot ses maande se gemeenskapsdiens gevonnis en daarmee saam gaan hy baie kontak hê met die mense jeens wie hy rassisties was. Molele se stellings was kwalitatief verskillend en aanhitsend, maar hy is slegs tien ure se gemeenskapsdiens opgelê om tussen mense van sy eie ras te wees. Dis nie moeilik om te sien wie tussen hierdie twee uiteindelik van hul rassisme en haatspraak “genees” sal wees, en wie nie.

 

Die Solidariteit Navorsingsinstituut se eie voorlopige navorsing, wat later volledig in ’n verslag bekendgemaak sal word, dui aan dat die MRK tussen 2013 en 2016 sowat 17 rasverwante sake uit eie beweging ondersoek het. Sowat 11 is wit-op-swart rassisme en slegs drie is swart-op-wit rassisme.

 

Die tentatiewe bevindinge dui ook aan dat hulle jare lank sloer met allerlei rasverwante klagtes en slegs ’n klein hoeveelheid ooit afhandel. Mediadekking speel ook ’n groot rol in hul prioritisering van klagtes en ondersoeke. Daar is selfs meer as ’n jaar later byvoorbeeld geen uitsluitsel oor Sparrow en Khumalo se sake nie.

 

Daar is groot begrip vir die geldelike en ander beperkinge waarbinne instellings soos die MRK moet funksioneer, maar dit staan vas dat hulle nie net bevooroordeeld optree nie maar ook bloot ondoeltreffend is.

 

  •  
  •  
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close