Algemeen -

Rassisme, onbevoegdheid en selfoondatapryse

Suid-Afrika se selfoondata is van die duurste ter wêreld omdat die reguleerder, die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa), homself net nie so ver kan kry om die spektrum wat netwerke nodig het op 'n veiling te plaas nie. Dit kan 'n reusebron van inkomste vir die regering wees, die internet bekostigbaar maak en sommer net van Suid-Afrika 'n ordentlike land maak. Maar nee! Okosa meen dat enige spektrum wat aan die bestaande netwerke toegeken word aan hulle 'n onregverdige voorsprong bo nuwe toetreders sal gee.

Boonop wil die reguleerder nie die spektrum aan bestaande netwerke verkoop nie, want hulle kan nie bewys van swart eienaarskap lewer nie. Die land se hoofsaaklik swart bevolking moet dus maar sonder bekostigbare data oor die weg kom. Die regering se rassisme teenoor wit mense het, soos in bykans alle soortgelyke gevalle, 'n direkte negatiewe impak op swart mense.

Terwyl 'n mens in Tanzanië R300 vir 'n maand se onbeperkte data betaal, koop R300 skaars drie GB se data vir 'n mens in Suid-Afrika. En dan is ons kwansuis die mees ontwikkelde ekonomie op die kontinent.

Dieselfde geld so te sê ook in die res van die wêreld. As lande soos Senegal, Etiopië en Tanzanië 'n plan kon maak, kan ons tog ook.

Dit is nie net 'n geval van swak beleid nie, maar ook een van onbeskryflike onbevoegdheid. In 2006 is die land in kennis gestel dat ons teen Junie 2015 na digitale TV-seine sou oorskakel. Meer as ses jaar ná die spertyd het dit nog steeds nie gebeur nie en word spektrum wat vir selfoondata gebruik sou kon word nog steeds vir TV gebruik.

Tensy dit alles verander, kan netwerke eenvoudig nie bekostig om data goedkoper te maak nie: óf hulle hou dit onbekostigbaar, óf die netwerk stort in duie. 'n Mens hoef nie 'n ekonoom te wees om te sien wat dit aan werkloosheid in 'n toenemend aanlyn ekonomie doen nie. Suid-Afrika raak agter. Nie net by die ontwikkelde wêreld nie, maar ook aan ander Afrikalande gemeet.

  •  
  •  
  •  
Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close