Algemeen, Tegnologie -

Rekenaars – Die onafhanklike afhanklike

Wat is die impak van rekenaars, die internet en sosiale media op die moderne mens? Werk tegnologie vir ons of werk ons vir tegnologie?

Dit is Donderdag, 22 Februarie 2018. Hoe weet ek dit? Ek weet dit nie omdat ek vanoggend die varsgedrukte koerant by die vriendelike en dansende man by die verkeerslig gekoop het nie. Ek weet dit, want ek het dit so pas weer raakgelees aan die onderkant van my rekenaarskerm nadat ek reeds vanoggend daarvan ingelig is deur my selfoon. Dit het gerieflik geraak om te mag vergeet, want in vandag se gejaagde lewe is dit vir ons maklik om weer aan basiese inligting soos die datum herinner te word.

My rekenaar het my reeds oor my daaglikse skedule ingelig. Dit is vooruit beplan sonder dat ek nodig gehad om persoonlik, of selfs telefonies, een woord met iemand moes praat om reëlings te tref. Dit is vinnig en gerieflik om ’n e-pos te tik; dalk te gerieflik? Wanneer laas moes jy op jou rekenaar se sleutelbord kyk om te sien watter letter jy druk om 'n woord te vorm, of op jou selfoon se skerm kyk om seker te maak dat jy die regte spelling gebruik wanneer jy aan jou vrou verduidelik wat jy vanaand vir aandete wil eet? Ons doen dit doodeenvoudig net nie meer nie omdat ons 'n nuwe gewoonte aangeleer het. Ons vingers doen namens ons die praatwerk.

Die instink in ons om afhanklik te raak van 'n sisteem wat werk, het oorgeneem. Die gemaklikheid van werk en persoonlike take met behulp van 'n rekenaar het die robot in ons wakker gemaak, en nes 'n klomp robotte het ons gerieflikheidshalwe eenvormig geraak.

Ons gesprekke raak kitsgesprekke, 'n vinnige geselsie met iemand aan die ander kant van die wêreld. Dit is gelukkig vandag steeds aanvaarbaar, maar om vir jou kollega 'n boodskap te stuur wat tien meter van jou af in sy kantoor sit, of om vir jou man 'n vinnige Whatsapp-boodskap te stuur oor 'n gesprek wat julle liefs van aangesig tot aangesig moes gehad het en wat misverstande kan voorkom, wil ek egter nie te ligtelik veroordeel nie. Kommunikasie, in al sy vorms, is noodsaaklik vir die samelewing waarin ons leef, maar dit het te gemaklik geraak om eerder op 'n moderne wyse te kommunikeer- Kitskommunikasie.

Daar gaan iets verlore wanneer ons deel word van die sisteem. Ons verloor ons stem en persoonlikheid wanneer ons egte gesprekke vermy. Ons deel ons opinies op sosiale media sonder om aan die implikasies daarvan te dink. Sou jy jou negatiewe opinie ook in lewende lywe met die persoon of maatskappy gedeel het, of sou jy tweekeer daaroor nagedink het?

Die koms en ontwikkeling van die rekenaar, die internet en sy alwetende antwoorde, en die nuwe sondebok genaamd sosiale media, het 'n enorme impak op ons daaglikse lewe. Dit het ontluik in kitsoplossings vir probleme en, om die waarheid te sê, ook in kitsidees oor elke moontlike mensgemaakte onderwerp. Daar is egter 'n groot probleem wat daartoe lei dat tegnologie en die lewe nie langs dieselfde vuur sit nie. Die lewe werk dikwels nie so vinnig soos tegnologie nie, die lewe gebeur teen sy eie pas, op sy eie wyse. Die lewe werk teen een treetjie op 'n slag en word soos 'n leer geklim van onder na bo. Daar is meestal geen kitsoplossings daarvoor nie en geen rekenaar kan jou daarmee help nie. Deursettingsvermoë en die ideale ingesteldheid kan nie gekoop, afgelaai of opgedateer word nie.

Terwyl ek hier sit en tik, laat weet die app wat die weer voorspel dat dit reën. Die app voorspel dat dit vir die volgende paar uur ook gaan reën. Ek steur my nie gewoonlik aan hom nie, want die vertroue wat ek in hom het, is maar taamlik min. Dié keer is hy egter reg, dit reën wragtig. 'n Kits-weergids wat net so voorspelbaar is soos die weer!

Tegnologie haal die verrassing uit ons lewe en verruil dit vir gerief. Dit is vir my 'n duur transaksie wat vir my soos 'n belastinguitgawe voel. Ek wil dit nie noodwendig hê nie, maar ek moet die fooie betaal.

Kits is kitsch!

  • 24
  •  
  •  
  •  
Reon Janse van Rensburg Deur Reon Janse van Rensburg


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close