Algemeen, Kultuur, Nuus, Politiek -

REPLIEK: Die media is die vyand van die Suid-Afrikaanse bevolking

Die Amerikaanse joernalis, Glenn Greenwald, wat oor die algemeen aan die linkerkant van die politieke spektrum geplaas word, skryf in sy boek A Tragic Legacy: How a Good vs. Evil Mentality Destroyed the Bush Presidency die volgende:

The term propaganda rings melodramatic and exaggerated, but a press that – whether from fear, careerism, or conviction – uncritically recites false government claims and reports them as fact, or treats elected officials with a reverence reserved for royalty, cannot be accurately described as engaged in any other function.

Soos Greenwald sukkel ek ook om aan enige ander benaming te dink vir die snert wat sommige Suid-Afrikaanse joernaliste soos Pieter du Toit kwytraak. Du Toit het vroeër vandag (17 Augustus) 'n artikel geskryf waarin hy die “skade” blootlê van AfriForum se besluit om 'n beweerde lys van geteikende plase te publiseer. Du Toit is nie al een wat dink dat die bekendmaking van die lys onwenslik was nie. Talle ander joernaliste het hulle ook by hom geskaar en hulle uitgespreek oor die “onsekerheid” wat die lys veroorsaak. Wat is die alternatief egter? Is daar meer sekerheid as ons geen idee het hoe daardie lys moontlik daar uitsien nie?

Toegegee, die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Maite Nkoane-Mashabane, het onlangs die bestaan van so 'n lys ontken – iets wat Suid-Afrikaanse joernaliste al te gretig vir soetkoek opeet. In die lig van hierdie ondubbelsinnige en duidelike ontkenning mag 'n mens dalk wonder waar enigiemand die idee van die bestaan van so 'n lys vandaan kry. Die antwoord is eenvoudig: Die regerende party het verlede week self bekendgemaak dat hulle só 'n lys opgestel het. Trouens, Nkoane-Mashabane het reeds in Maart aangedui dat haar departement voorberei vir 'n toetssaak en dat 'n plaas reeds vir die doel geïdentifiseer is. Hoekom dan nie die besonderhede van die plaas bekend maak nie? 'n Mens hoef ook nie daaroor te bespiegel nie. Die minister het ons reeds meegedeel dat hulle nie die besonderhede wil openbaar maak nie omdat sy “vrees dat dit die huidige eienaars sal tyd gee om regsverteenwoordiging te bekom en om vir 'n moontlike hofgeding voor te berei, wat haar taak sal bemoeilik.”

Ons sit dus met 'n regerende party wat grond van sy burgers wil steel; 'n party wat dalk, of dalk nie, 'n lys opgestel het, maar as die lys wel bestaan, wil hulle nie die besonderhede daarvan bekend maak nie, want netnou laat dit die burgers toe om regsverteenwoordiging te bekom. Tog is AfriForum, aldus Du Toit, die vark in die verhaal omdat hulle 'n potensiële lys bekendgemaak het.

Terloops, ek dog grondonteiening het geen impak op die ekonomie nie. Nou hoor ek dat blote bespiegeling rondom die onteiening van 'n plaas twee boere reeds miljoene rand gekos het. Ek is jammer, maar ek sukkel so 'n bietjie om by te bly met die bollemakiesies wat die media slaan om die ANC teen landsburgers te verdedig.

Dit is egter niks nuut nie. Om een of ander rede meen die meeste Suid-Afrikaanse joernaliste dat dit hul taak is om die ANC se ideologie en omstrede doen en late te verdedig, eerder as wat dit is om die staat aan te vat en hul medeburgers se belange te beskerm.

Die Amerikaanse president, Donald Trump, word gereeld gekritiseer oor sy uitlatings en in besonder oor sy tipering van die media as die “enemy of the American people.” Hoewel die media in die VSA hulself dikwels wangedra, is dit waarskynlik nie betaamlik vir 'n president om so te praat nie. Tog, binne die Suid-Afrikaanse konteks, kan ek nie dink aan 'n beter beskrywing van die media as “vyande van die Suid-Afrikaanse bevolking” nie. Terwyl Gwede Mantashe na Max du Preez kap vir sy halfhartige en flou rubriek waarin hy president Ramaphosa as minder as 'n messias uitmaak, reageer die res van die media deur na burgerlike instellings te kap.

Die feit van die saak is dit: Waar die ANC hom voor 'n keuse bevind tussen ideologie en partybelang aan die een kant en 'n gesonde, welvarende land aan die ander kant, kies hy telkens eersgenoemde.

Mense moet ook weet dat wanneer die ANC se skadelike beleid die welstand van Suid-Afrikaners bedreig, joernaliste soos Du Toit dieselfde keuse gaan uitoefen en jou gaan verkwalik omdat jy nie stilbly terwyl die staat jou mishandel nie.

  • 153
  •  
  •  
  •  
Morne Malan Deur Morne Malan


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close