Algemeen -

Rou…

 

Deur Karin van der Watt

 

Kom oor dit; hulle is weg…

Hulle kom nooit weer terug nie en jy moet regtig nou oor dit kom… Jy is mos nou al 'n mooi, groot meisie met jou eie gesin om jouself oor te bekommer…

 

Kan jy jouself indink om hierdie harde woorde te hoor, wanneer jy sopas jou ouers (ja, beide van hulle) in 'n bestek van twee weke verloor het?

 

Wel, heel gereeld het ék hierdie gesprek met myself gehad. Ek het gesukkel… Dit was onbeskryflik uitputtend om 'n sterk gesig op te sit en te lyk of ek alles in beheer het. Dit het daagliks moeiliker en moeiliker geword om hierdie masker op te sit en dan het dit gevoel of hy met olie besmeer was; asof hy konstant amper gaan afgly. Selfs om hom heeldag aan te hou was uiters uitdagend.

 

Om die verlies van iemand wat jy liefhet te verwerk en te hanteer, is een van die grootste uitdagings van die lewe. Dikwels kan die pyn van verlies ontsaglik erg voel. Jy kan moontlik allerhande moeilike en onverwagte emosies ervaar, van skok of woede tot twyfel, skuldelas en diepe hartseer. Die pyn van verdriet kan ook jou fisiese gesondheid ontwrig.

 

Ek kon nie reg asemhaal nie. Ek kon nie reg eet nie. Ek kon nie reg slaap nie. Ek kon skaars met enigiemand 'n gesprek voer.

 

Enige persoon se rouproses is so uniek soos sy eie vingerafdruk. Dit vind nie perfek plaas in 'n rits van gebeure op 'n spesifieke tydlyn nie. Die werklike tydperk wat rou neem is absoluut uniek aan elke betrokke individu.

 

My eerste ondervindinge was dat ek my seun verwerp het. Hy was van daar af basies geheel en al my man se probleem. Ek wou hom nie voer nie; ek wou hom nie bad nie.

 

Ons moet 'n paar dingetjies oor rou weet en verstaan. Jy moet eerstens besef dat jy met meer as net een verlies te doen het, wanneer jou geliefde sterf.

 

Met die afsterwe van 'n geliefde, ervaar 'n mens soveel meer as net een verlies.

 

Die verliese wat gepaard gaan met jou geliefde se einde, staan bekend as sekondêre verliese.

 

Hulle is nie noodwendig sekondêr ten opsigte van hulle belangrikheid vir jou nie. Hulle is bloot sekondêr omdat die verlies van die geliefde primêr is, maar hulle hou steeds direk verband met jou geliefde se afsterwe.

 

Sekondêre verliese, soos enige ander verliese, kan óf fisies wees; byvoorbeeld 'n tasbare verlies, soos die verlies van 'n huis, omdat jy nie meer kan bekostig om alleen daar te woon nie. Dit kan wees omdat die finansies en inkomste van die ander persoon weg is, maar dit kan ook psigososiaal wees; byvoorbeeld 'n ontasbare en abstrakte verlies, soos die verlies van 'n verhouding tussen 'n ma en dogter.

 

Onder andere ervaar mens ook sekondêre verliese met die verlies van die rol wat jou geliefde spesifiek vir jou gespeel het (byvoorbeeld, in my geval was dit my kinders se ouma en oupa). Jy verloor daarmee saam ook al die hoop en drome wat jy met daardie persoon gedeel het. Soos Juliana Coetzer dit noem – die verlies aan potensiaal.

 

Iets anders om te onthou, is dat jou rouproses nie noodwendig in 'n vaste volgorde sal plaasvind nie, en dat dit ook nie noodwendig mettertyd sal afneem óf oor presies een jaar verby sal wees nie.

 

Ten spyte van gewilde uitsprake hieroor regdeur die media, is daar nie 'n standaardreeks stadiums waardeur jy in jou rou proses moet slaag nie. Afhangende van die omstandighede van jou geliefde se dood en jou eie situasie, kan jou droefheid en rou onverwagse draaie neem. 

 

Daar is twee ander mites oor rou reaksies, wat ek graag wil bespreek.

 

Een is, dat jou rou proses slegs 'n jaar mag duur.

 

Elkeen moet besef dat sy of haar tyd van rou sal afneem wanneer die tyd reg is, in jou unieke situasie, nie net omdat jy daarin geslaag het om deur 365 dae te kom nie. Vir sommige sal dit genoeg tyd wees, vir ander beslis nie. Ek self het basies die beste gedeelte van vier jaar geneem om deur my rou te werk.

 

Die tweede mite is dat sodra jou rouperiode verby is, dit nie weer sal opkom nie. Selfs nadat jou ergste rouperiode lank verby is, kan daar baie goed in die toekoms plaasvind, soos sekere ervarings of herinneringe wat jou van voor af in die rouproses kan laat terugval . Hierdie gebeure is gewoonlik van korte duur. Dit is gewoonlik droefheid vir die verlies van jou geliefde wat gestimuleer word deur iets wat die afwesigheid van jou geliefde beklemtoon of jou aan jou geliefde herinner.

 

Gee toestemming vir jou reaksies om te ontvou, sonder om outomaties te dink dat jy 'n terugslag beleef, wanneer jy in werklikheid net slegter voel as gewoonlik voel.

 

Aanvaar dat jou rou proses langer as 'n jaar kan duur en dat daar tye sal wees, lank nadat jy deur die ergste is, wat dit weer moeiliker sal gaan.

 

Ten slotte wil ek vandag 'n gedagte by elkeen van julle los wat hierdie lees.

 

Wees vandag (en elke dag opnuut) die beste weergawe van jouself wat jy moontlik kan wees. Sit daardie grimering aan al voel jy nie lus daarvoor nie. Groet die kar wag, al voel jy baie onder die weer. Druk jou kind (of eggenoot) twee sekondes langer vas, al is jy glad nie lus vir daardie aanraking nie. 

 

Rou eindig nooit nie!

 

Dit verskuif, dit verander. Mens moet dit voel om volkome gesond te word. Mens kan nie aanbeweeg van rou af nie, maar mens kan voortbestaan met die rou en dit mettertyd gewoond raak.

 

Rou is die heel laaste toonbeeld van ons liefde vir daardie geliefde wat ons verloor het. Waar daar diep rou is, was daar enorme liefde. Rou maak ons dankbaar vir die tyd wat ons gehad het saam met ons geliefdes, alhoewel daardie tydperk altyd te kort is.

 

Waarmee jy jouself vandag besig hou, is juis dit wat die mense in jou lewe gaan onthou en aan vasklou wanneer hulle eendag oor jou rou!

 

Hoe wil jy onthou word.

 

Len Muller, sing saam met Joshua na die Reën; in hulle lied “Vir die een wat geval het” die volgende treffende woorde, wat my elke dag laat dink:

 

“Ek wonder wat my lewe sê,

ek wonder hoe my storie sal lees na ek weg is,

wat ek agter sal los,

 

“En vandag, het ek besluit dat ek wil leef.

Het ek besluit dat op die pad na my einde;

sal ek 'n hand wees vir die een wat geval het.”

 

“Tot die asem uit my longe uit kwyn,

tot my vlees hier in die aarde verdwyn,

sal ek hardloop vir die lig,

tot die ewigheid my kom haal.”

 

Wees vandag die heel beste weergawe van jouself en werk aan jou nalatenskap!

 

Jy doen dit ten bate van die geliefdes wat jy eendag agter gaan los.

 

 

  •  
  •  
  •  
  •  
Algemene Skrywer Deur Algemene Skrywer


Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close