Algemeen -

SA benodig 'n herlewing van bloukraag-beroepe

Deur Reon Janse van Rensburg

Tydens die inperking terwyl die groot meerderheid van ons slegs tuis kon bly en waartydens baie Suid-Afrikaners nie 'n inkomste kon verdien nie was daar 'n groep mense wat steeds hul dienste en produkte aan die publiek kon bied. Hierdie groep mense is mense waarsonder ons nie kan klaarkom nie en wie se werke ons nie self kan (en dalk ook nie wil) doen nie. Ek wonder steeds by myself waarom mense eerder beroepe kies waar hulle slegs in kantore werk terwyl daar soveel diversiteit is om van te kies.

Die beroepe waarna ek verwys is dié van loodgieters, elektrisiëns, motorwerktuigkundiges en ander ambagte wat 'n verskil in ons alledaagse lewens maak al kom ons dit nie eens agter nie.

Aangesien die kostes van universiteite die afgelope dekades geleidelik gestyg het, het jongmense regoor die wêreld die vraag begin vra of dit steeds die moeite werd is om 'n gevorderde graad te gaan studeer. Navorsing toon egter steeds dat die behaling van 'n universiteitsgraad tot hoër lewenslange inkomste en laer vlakke van werkloosheid lei.

Daar kan egter en moet ook gestel word dat daar wel alternatiewe wyses is waarop 'n mens ’n lewensvatbare inkomste kan verdien word wat ook vir werksekerheid kan sorg en 'n merkwaardige voorbeeld hiervan is handelskole wat alternatiewe opleiding bied aan diegene wat nie noodwendig die tradisionele, akademiese roete wil volg nie.

Ons almal se belangstellings is anders, so ook ons aanlegte. Sommige kenners meen dat dit egter belangrik is om nie net vas te kyk teen ons belangstellings en aanlegte nie, maar dat jongmense eerstens moet kyk na watter geleenthede daar is voordat hulle 'n beroep kies. Dit verhoog die kans om 'n werkgeleentheid te kry en verminder die kans op teleurstelling.

Wat jy nie weet nie, moenie jou bangmaak nie, want dit kan aangeleer word.

Daar word baie klem geplaas op die idee dat 'n persoon sy of haar werk moet geniet. Dit is uit die aard van die saak die waarheid en 'n belangrike punt om in ag te neem, veral met die gedagte dat 'n persoon meer tyd by die werk as by die huis spandeer. Dit is egter net so belangrik om in ag te neem dat 'n persoon vir ’n salaris werk wat elke maand 'n aantal onkostes moet dek en dat jou leefwyse daarvolgens bepaal word. In dié konteks is dit dus dan ook belangrik om nie slegs die genot wat 'n beroep jou bied in ag te neem nie, maar ook ander vooruitsigte. Geen werk is altyd lekker nie, nie eers jou droom beroep nie. Dit is dalk nie 'n slegte idee om 'n beroep na te streef wat werksgeleenthede bied en terselfdertyd 'n goeie salaris bied nie, en al geniet jy dit nie elke dag nie kan jy moontlik genoeg geld verdien om in jou spaartyd en oor naweke te doen waarvan jy hou.

Indien jy dalk van die dienste van 'n loodgieter of elektrisiën na-ure moes gebruik maak en in die proses kontant moes gebruik om die persoon vir sy dienste te betaal, sal jy weet dat hy nie te sleg vir sy moeite vergoed word nie. Kon jy die probleem self regmaak? Nee. Kon jy wag tot môre tot die water eendag ophou om uit die dak uit te loop, of miskien nie vanaand vir jou gesin kosmaak nie omdat daar nie krag is nie? Nee. Jy het dus geen keuse gehad om van sy dienste gebruik te maak nie. Hy is dus verseker van sy inkomste en ook seker dat jy hom weer in die toekoms mag benodig. Het hy daarvan gehou om nauurs die werk te kom doen? Moontlik nie, maar die geld wat jy sopas betaal het maak op daarvoor. Sy werk het ook nie in die inperkingstydperk stilgestaan nie.

Watter werksvoordele hou 'n loopbaan in die ambagte vir jou in?

·         Werksekerheid – Die wêreld sal dalk nie altyd iemand nodig hê om agter die toonbank by jou naaste banktak te werk nie. Jy gaan egter altyd 'n slotmaker benodig wanneer jy jouself uit die huis uit sluit of 'n motorwerktuigkundige wanneer jou motor besluit het dat dit nou die tyd is om die gees te gee. Ons het steeds mense nodig om seker te maak dat paaie volgens die regte standaarde gebou word. So gaan die lys aan.

·         Vergoeding – Ambagte betaal goeie salarisse. Jou vriend mag dalk as prokureur meer geld verdien, maar hy kompeteer teen soveel meer mense in die arbeidsmark as jy. Hy is maklik vervangbaar en die werklikheid is dat bitter min mense in die witkraag arbeidsmark skatryk word. Terwyl jy jou hande vuilmaak en jou volgende kliënt bel jou om sy bedrading te kom vervang, stres hy, want hy sukkel om genoeg kliënte te kry om sy mooi sportmotor te betaal. Daar is aanvraag na jou vaardighede en 'n oormaat aan syne.

·         Genot – Dit is lekker om dinge te vermag en soveel te meer met jou hande. Jy kan na die tyd sien wat jy vermag het en dit gee 'n gevoel van satisfaksie. Ledigheid is nie dikwels 'n probleem vir die man met die bloukraag nie en daar is selde 'n geleentheid om verveeld te word.

Indien jy belangstel in 'n beroep in die ambagte en jy dit wil oorweeg om nie die tradisionele roete van die universiteit te volg nie, is Sol-Tech se Beroepsopleidingskollege dalk net die plek vir jou. Besoek die volgende blad om meer uit te vind oor die verskillende geleenthede wat dié instelling aan jongmense bied wat in tegniese beroepe belangstel – www.sol-tech.co.za

Bronne:

https://www.cnbc.com/2020/01/31/why-the-rich-and-powerful-keep-encouraging-young-people-to-be-plumbers.html

https://www.artofmanliness.com/articles/reviving-blue-collar-work-5-benefits-of-working-in-the-skilled-trades/

  •  
  •  
  •  
Reon Janse van Rensburg Deur Reon Janse van Rensburg


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close