Politiek -

Sáám doen ons dit weer

Dié keer doen ons dit groter, beter en sterker!

Afrikaners en die breër Afrikaanse gemeenskap oor kleurgrense heen het rede om nou uiters bedroef, teleurgesteld en mismoedig te voel. Ons taal, kultuur en selfs erfenis het 'n geweldige hou in die “taal”maag gekry. Wat mense nie aldag besef nie, is dat dit glad nie ’n nuwe tendens is nie. Afrikaans moes vir ’n honderd jaar haar baan oopveg om as akademiese en wetenskaptaal erken te word.

 

Dit wil voorkom asof daar in Suid-Afrikaanse politieke kringe, selfs onder diegene wat meen hulle verstaan taalkwessies, ’n totale wanpersepsie bestaan wat Afrikaans, moedertaalonderrig en hoeveel te meer nie menseregte nie betref. Verwarring word deur middel van verklarings en uitlatings geskep omdat terme nie goed gedefinieer is nie.

 

Die probleem met ons taal en die politiek daaragter is dat die bruin gemeenskap nog steeds aan die kortste ent trek en dat witwees totaal met Afrikaanswees verwar word.

 

Wat die taaldilemma meer ontsier is die feit dat daar diegene in die geledere van die bruin en wit gemeenskappe is wat mekaar blameer, terwyl almal eintlik sáám die Afrikaanse gemeenskap uitmaak en nou ook moet saamstaan om die krag van ons mooi taal te bewys, ongeag kleur, want Afrikaans het nie ’n kleur nie.

 

Die dilemma in die nuutste Suid-Afrika (dié een ná die nuwe Suid-Afrika), is dat Afrikaanswees met witwees verwar word. Sedert 2015 heers daar ewe skielik verwarring: Afrikaans word verwar met kolonisering en “whiteness”. Rhodesmustfall, afrikaansmustfall en selfs feesmustfall het ontaard in ’n hutspot van boodskappe wat verwarring bring. Die nuutste verwikkeling, naamlik die afskaffing van Afrikaans by tradisioneel Afrikaanse universiteite, word geregverdig deurdat aangevoer word dat dit segregasie voorkom en transformasie bevorder.  Dit bewys weereens dat ons rassensitiewe reënboogland die taal verwar met kleur.

 

As jy na uitsprake uit Cosatu-geledere luister wat wit Bokke blameer vir swak uitslae en Malema wat beweer wit kinders moet swart kinders se grond bewerk, is die uitfasering van Afrikaans nie toevallig nie, maar is dit polities en rasgedrewe van aard en is dit definitief ’n misdaad teen die mensdom en ’n duidelike skending van die minderheid se regte onder 'n meerderheidsregering.

 

Die grootste probleem is dat mense nogeens nie hul oogklappe kan afhaal om die gevaarligte te sien flikker nie. Hulle glo steeds aan die leë beloftes van destyds wat in alle waarskynlikheid nie gaan materialiseer nie.

 

Te midde van die negatiewe beriggewing en kommentare om ons heen het ’n splinternuwe era vir ons taal aangebreek. Ons het die planne gereed; mense mobiliseer en kapitaal word gekanaliseer. En saam kan ons, soos met die koeksisterverkopings van ouds, weer bakens van hoop oprig en bou en hoop skep. Dit verg nou net dat almal hul gedagtes só rig dat hulle dit verstaan, glo en saam hoop.

 

Maar die gootste hiervan is om Saam te bou

  •  
  •  
  •  
Deur juran


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close