Algemeen -

Sal ons in die toekoms nog vleis eet?

Ons omnivoriese dieet word toenemend bevraagteken – aan die een kant deur klimaatsaktiviste, en aan die ander kant deur mense wat voel dat Blommetjie die koei eerder ons vriendin as ons aandete behoort te wees.

Wat die dierevriende betref, is dit tog elkeen se besluit of hulle diere as vriende of as vleis beskou. Tog trek die meeste van ons die streep as dit by ons honde en katte kom. Enige iemand wat lyding raaksien en 'n verskil probeer maak, doen tog die regte ding en ons moet daarby berus. Om argumente daaroor te voer, is sinneloos.

Maar wat van die omgewingsaktiviste? En veral die klimaatsaktiviste? The Economist het vandeesweek selfs 'n artikel gepubliseer oor hoe om beeste te leer om beestoilette te gebruik. Die argument hier is dat plaasdiere, veral beeste, winde los en opbreek wat as kweekhuisgasse optree. Metaan is die groot sondaar hier. Wat die aktiviste vergeet, is dat die gras en ander voer, of beeste dit nou eet of nie, in die natuur ontbind en in elk geval metaan en koolstofdioksied vrylaat. Die koolstof wat beeste vrylaat, is daarom reeds in die atmosferiese siklus. Dit is nie soos fossielbrandstowwe wat uit die aarde gehaal word en dan verbrand word en nuwe koolstof in die atmosfeer loslaat nie. Metaanontginning uit beesmis kan dalk in die toekoms 'n lewensvatbare bedryf word, maar op die oomblik is dit goedkoper om dit uit die aardkors te onttrek.

Dit is egter nie waar die argument stop nie. As ons graan produseer vir beeste om te eet, is dit dalk nie die beste gebruik van grond nie. Sou ons nie baie meer ekonomies met ons grond te werk kon gaan deur self die graan te eet nie? Of om met ander gewasse op die selfde grond te boer nie? Hier is dit wel dikwels die geval. As gevolg van klimaatsverandering gaan ons ook nog baie veranderinge sien in waarmee daar op verskillende plekke geboer word. Party plekke, veral in droër streke, is nie geskik vir enige ander boerdery buiten veeboerdery nie. Maar ook net as dit nie te droog is nie. Dan duik die probleem weer op dat 'n droë seisoen in 'n reeds dorre streek die vorige paar jaar se winste sommer eensklaps kan uitwis wanneer die diere met ingekoopte voer onderhou moet word. Wanneer bewerkbare grond wêreldwyd begin skaars raak, sal die vermindering van veeboerdery deel van die voedseloplossing uitmaak, maar vee vir vleis sal beslis nie heeltemal verdwyn nie.

Wat die verbruiker betref, is dit egter baie lewensvatbaar. Geen ander voedselgroep is so voedsaam, veral wat proteïne betref, soos vleis nie. Ons is immers van vleis gemaak, en waarmee bou 'n mens dan nou beter vleis as met vleis? Daar is 'n rede hoekom herbivore die hele dag eet en karnivore net elke paar dae eet. Die voedingswaarde van vleis is net soveel hoër dat een sappige steak, of selfs 'n paar eiers, jou maklik vir 'n dag lank kan onderhou, terwyl 'n mens amper dadelik weer honger is na 'n slaai. Ons is gemaak om vleis te eet, hoewel daar deesdae baie doelgemaakte veganistiese alternatiewe is.

Dus, die meeste van ons sal in die toekoms wel nog vleis eet, maar dit gaan aansienlik duurder wees as nou. Die probleem is nie soseer omgewingsverwant as wat dit ekonomies van aard is nie. En al sal ons minder vleis eet as in die verlede, sal die meeste van ons nie sommer heeltemal ophou nie. Daarvoor is 'n gebraaide skaaptjoppie darem net te lekker.

FOTO BRON: Everson MayerPexels

  •  
  •  
  •  
Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close