Algemeen -

Saru se nuwe reëls oor oorsese spelers sit die pot heeltemal mis

Ek het onlangs in ’n interessante debat met twee mense op Facebook betrokke geraak oor of die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se nuwe reëls om spelers in Suid-Afrika te hou, ’n slim idee is al dan nie. Brendan Venter dink wel so en die twee here het sy siening, wat hoogs gekwalifiseerd is, gebruik as “bewys” dat dit wel wenslik en doeltreffend is. Venter het byvoorbeeld genoem dat ons nié die Nieu-Seelandse voorbeeld met sentrale kontraktering kan of moet volg nie en ons eie oplossings soek. Maar dit het my twee gespreksgenote heeltemal ontgaan.

 

Dit het gou duidelik geword dat hul patriotisme jeens Suid-Afrika heeltemal met hul logika inmeng. Volgens hulle moet Saru se goeie intensies ten minste geprys word. Die beleid dat slegs spelers wat oorsee speel en reeds 30 toetse vir die Bokke agter die blad het, gaan volgens hulle in die komende jare vrugte afwerp en moet dus in plek bly. Soortgelyke stappe in Nieu-Seeland het ook nie gou vrugte afgewerp nie, het hulle aangevoer.

 

Hulle kyk egter ’n hele klomp faktore mis. Eerstens is die feit dat rugby ’n professionele, globale sport is en goeie spelers dus gaan waar hulle as indiwidue die beste moontlike behandeling kan kry en beste geld verdien. Die Rand kan helaas net nie met die pond, euro en jen meeding nie en of mens nou daarvan hou of nie, is geld ’n groot rede hoekom spelers groener weivelde gaan soek. Nieu-Seeland het ook ’n baie sterker geldeenheid as Suid-Afrika en kan daarom hul spelers langer daar hou.

 

Een van my gespreksgenote wou daarbenewens weet watter jong spelers (onder 30) “van Bok-gehalte” nou juis oorsee speel en aangevoer dat ons oorgenoeg plaaslike talent in elke posisie het (drie spelers nogal) om oor die weg te kom. Eerstens kyk hy die feit mis dat hoewel Allister Coetzee ook met groot bravade slegs plaaslike spelers gekies het in Junie om die Iere aan te durf, hy vinnig oorsese hulp ingeroep het toe dinge begin skeefloop het. Laat in 2016 het soveel as helfte van die opdrafspan en ’n groot deel van die plaasvervangersbank uit spelers wat oorsee gebaseer is, bestaan. Daar speel tans sowat 250 Suid-Afrikaanse Superrugby-spelers oorsee.

 

Tweedens is daar inderdaad heelwat sleutelspelers onder 30 wat oorsee speel: Marcell Coetzee, Marcel van der Merwe, Jacques du Plessis, Vincent Koch, Francois Hougaard, Steven Kitshoff en Paul Willemse om maar net ’n paar te noem. Spelers soos Cobus Reinach gaan ook vanjaar hul laaste Superrugby-seisoen speel voordat hulle oorsee vertrek.

 

En dis boonop nie juis jong spelers wat ons probleem is nie, want ons het juis belowende jong talent, maar ons sterspelers verlaat die land op ’n al hoe jonger ouderdom. Ons moet die ouer spelers behou en dis juis waar die probleem vererger. Baie van hulle, soos Duane Vermeulen en Francois Louw, het wel al meer as 30 toetse gespeel en wil nog vir die Bokke speel. Hulle kon oorsee speel en terselfdertyd vir die Bokke uitdraf voordat hierdie lastige reël ingestel is. Hulle kon dus hul ervaring in die Bok-trui verwerf. ’n Belowende jong speler sal onder die nuwe reëls Suid-Afrika verlaat op 22-jarige ouderdom om in Europa te gaan speel. Hy raak straks een van die bestes ter wêreld ’n paar jaar later, maar sal nie tot die Bok-span kan bydra nie omdat hy nooit toegelaat is om die vereiste aantal toetse te speel nie. Hy is dan ook ’n senior speler wat nie sy kennis en ervaring met ander spelers in die Bok-span kan deel nie. Hy sal straks boonop vir ’n ander land speel teen Suid-Afrika en help om die Bokke boonop te kasty. Daar sal later weens hierdie beleid nie meer veel senior spelers van gehalte oor wees om vir die Bokke te speel nie. Tans haal ’n speler soos Marcell Coetzee en Reinach nie eens die 30 toets-teiken nie.

 

Daarbenewens steun die bewyse ook nie sy aanname dat daar drie uitnemende spelers is in enige posisie nie. Die feit dat Rudy Paige pal as ons eerstekeuse-skrumskakel in toetse opdraf, is slegs een voorbeeld hiervan. As Allister Coetzee so bederf is met keuses, waar kom die rondvallery met senters dan vandaan? Warren Whiteley is ons enigste goeie en ervare plaaslike agtsteman en Oupa Mohoje as ons eerstekeuse nr. 7-flank is uiters middelmatig. Hoe lyk ons tweede keuses dan? Daar is bowendien nie vleuels in die land wat eers naby die Kiwi-sensasies Waisake Naholo en Julian Savea kom nie. As ons dan ook oor soveel plaaslike talent in elke posisie beskik, hoekom dan enigsins besorgd wees oor oorsese spelers en die moeite doen om protokol vir hul deelname te skep? 

 

As plaaslike spelers wel goed genoeg is, word hulle ook toegang tot Bok-plekke geweier omdat hul insluiting nie die kwota-vereistes nakom nie. Dit is natuurlik nog ’n groot faktor wat belowende spelers elke jaar oorsee dryf.

 

Die beste plan is om almal wat die beste is toe te laat om vir die Bokke te speel, ongeag waar hulle andersins hul rugby speel of hoeveel toetse hulle al vir die Bokke gespeel het. Hul oorsese ervaring onder wêreldklas-afrigters (waarvan baie ook van Suid-Afrika afkomstig sal wees) sal van onskatbare waarde wees om die Bokke te verryk en verbeter. Strafmaatreëls wat spelers uitsluit gaan net jong spelers se lojaliteit jeens die Bokke en Suid-Afrika verder wegkalwe en maak dat hulle glad nie meer vir die Bokke wil speel nie. Ons Superrugby-spanne het reeds te veel jong spelers en te min diepte en ervaring (iets wat later deur een van my gespreksgenote erken is) en die nuwe reëls gaan maak dat dit ook binne die volgende paar jaar met die Bokke gebeur. Op hierdie manier gaan kontinuïteit, kohesie en kollektiewe ervaring verlore.

 

Een van die deelnemers aan ons debat het gevra dat ek Saru minstens moet komplimenteer vir hul strewe om spelers hier te probeer hou met hierdie beleide – derhalwe vir hul bedoelings eerder as die uiteindelike uitkomste. Myns insiens is dit soos om die ANC krediet te gee dat hulle armoede deur middel van radikale ekonomiese transformasie wil uitwis. of om Allister Coetzee te loof omdat hy bedoel om te wen, maar dit nie doen nie. Die middel bewerkstellig juis die teenoorgestelde van wat die kennelik edele doel beoog en los nie die probleem op nie, so hoekom moet daar dan lof uitgedeel word? Mens word in die regte lewe aan jou prestasies gemeet en nie jou intensies nie en ek het sy versoek vriendelik van die hand gewys. Nee, ware patriotte vra kritiese vrae en keur nie swak beleide goed wat nie probleme oplos nie en hulle trouens vererger.

 

Hierdie beleid gaan dalk nou daarin slag om ‘n paar jong spelers hier te hou, maar dit gaan ons rugby in die toekoms nog duur te staan kom.

 

  •  
  •  
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close