Politiek -

Senekal-optog: Wat het werklik gebeur en wat kan ons leer?

Dit het my naar gemaak om te sien wat die media en individue kwytraak oor die optog, nadat ek self daar was en alles eerstehands ervaar het. Mens sou dink dat die media nooit weer so onverantwoordelik soos na “Swart Maandag” in 2018 sou wees, waar mediadekking ongebalanseerd op een aspek wat buite verband geruk is, gefokus het nie. Tog het die hoofstroom-media ons verkeerd bewys, en selfs individue van alternatiewe-media het die sensitiewe gebeurtenis by Senekal misbruik om weereens verdeeldheid onder Afrikaners te probeer saai. Ek wil graag die saak regstel en sodoende bietjie vertroosting bring vir moedelose Afrikanerharte.

 

Meer as vier maande na die optog (6 Oktober 2020) pluis ek die regte gebeure, gedagtes en gevoelens vir myself uit en dalk help dit jou om die gebeurtenis beter te verteer. . .

 

Daar was in 2020 meer as 400 plaasaanvalle. Dit is dus 'n kwessie wat lankal dreig en ongesiens voortduur. Die moord op die jong man, Brendin Horner (21), het egter die drukkoker laat ontplof. Dit het baie mense se binneste, insluitend my eie, geruk. Met emosies van diepe hartseer, kwaad, vrees, onsekerheid en magteloosheid het ek besluit om na Senekal te reis vir die eerste Senekal-optog met 'n duidelike boodskap: “Stop plaasmoorde”.

 

Na afloop van die optog in Senekal was ek onverklaarbaar moeg. Ek het vroeg gaan slaap sodat ek vroeg die volgende oggend in die vars veld die swaar gevoel wat op my hart druk kon “afdraf”. Die oggend toe my wekker afgaan het ek egter gevoel asof ek reeds 'n marathon agter die rug het. Ek was nog nooit so moeg nie en het mediese kenners in die familie gevra wat dit kan veroorsaak. Ek was ingelig dat my liggaam inderdaad, figuurlik gesproke, 'n marathon in Senekal gehardloop het.  Sien, my hart het nie vir een sekonde in Senekal, of daarna, normaal geklop nie. Hoe kon dit? Oorlog het dik in die lug gehang. Nie omdat dit enige oomblik sou uitbreek, soos baie bespiegel het nie, maar omdat daar 'n oorlog in elkeen se hart daar was. My hart het die hele liewe tyd vinnig en onreëlmatig geklop, met 'n oorlog van emosies binne hom.

 

Die opening van die dag, met Skriflesing en gebed tot ons almagtige Vader, het my hart vinnig laat klop. Die toesprake van die sprekers wat moedeloos is, maar steeds oplossings soek, het my hart vinnig laat klop. Die saamstap na die landdroshof het my hart vinnig laat klop. Die kar en gesin, wat al die pad van Kaapstad gekom het, het my hart vinnig laat klop. Die plaaswerkers se eie plakkate en krete om hul werkgewers te beskerm, het my hart vinnig laat klop. Die knip van die landdroshof-hek se slot het my hart vinnig laat klop. Die kinders wat skree en huil toe skok-granate deur die polisie gegooi is, het my hart vinnig laat klop. Die paar mans wat 'n polisiewa omgestoot het, uit soveel frustrasie omdat die polisie “deel van die veediefstal sindikate is”, het my hart vinnig laat klop. Alles, van die media wat die vermoorde seun se pa nader, tot die stringe voertuie wat saamtrek, alles het my hart vinnig laat klop.

 

My hart het nog nie bedaar nie. Die dag na Senekal was, behalwe vir my uitputting, net so sleg, omdat ek in die media moes sien hoe die skare wat téén plaasmoorde protesteer swartgevlek word.

 

Nee, ek kan nie assosieer met alles wat – sommige – van die boere geskree of gedoen het nie. Máár ek durf nie vir een split-sekonde enige boer wat daar was veroordeel nie. Mens kon die seer, moedeloosheid en woede in die lug voel hang. Hoe sê jy vir 'n man om te bedaar en sy woorde te tel wanneer die verkragting en moord van sy vrou en dogters in sy gedagtes bly spook? Ek kon die seer in die boere se oë sien. 'n Paar kwetsende opmerkings oor die optog, van oningeligte individue en ongebalanseerde hoofstroom-media, kon ek nog verdra, maar ons mede-Afrikaners wat verdeeldheid wou saai is ondraaglik.

 

'n Insident by Senekal optog 2 – waarby ek genadiglik nie kon uitkom nie – het sensasionele mense bederf met 'n storie waar hulle verontskuldigend kon vra: “Hoé kan iemand oorlog roep?” Iets wat 'n boer gesê het word toe buite verband geruk om hoop te kom steel by soveel Afrikaners, met die teer boodskap, “ons Afrikaners kan nie saamstaan nie”.

 

Ek wil 'n heeltemal ander prentjie kom skets vir dié wat hoop verloor het… 'n Element van my hartkloppings was ook te danke aan ontsettende trots oor juis dit: “Eendracht maakt macht.” Dit kon gesien en ervaar word by Senekal op 6 Oktober 2020. Die video waar die boere amper 'n Njala omstoot het regmatig sy rondtes gedoen, maar dié gebeurtenis was veel kragtiger as bloot dit. Die bestuurder van die Njala wou die verdagtes oplaai en wegry van die landdroshof, toe die Afrikaners – mans, vroue en kinders, sy pad versper en voor die ingang bly staan het. Die Njala bestuurder het egter al ernstiger voort gebeur tot die mense begin padgee het. Behalwe vir een oom. . .

 

Ek sal nooit die oom met sy donker snor en diep oë vergeet nie. Die oom het man-alleen sy hande uitgestoot om die Njala te keer en die skare het soos een man ingespring om saam terug te stoot. Ja, die spotprente oor Senekal se sterk skrum-span wat gevolg het was komies; soos net Afrikaners humor in sulke donker gebeure kan vind. Maar op daai oomblik het ek soveel hoendervleis gekry en die glimlag in my oë was vir die Voortrekkers, die bittereinders en vandag se rolmodelle wat vir ons wys: ons staan saam om te veg vir ons veiligheid en vryheid.

 

Ongeag hoe die media en verskeie individue die Senekal optog wil gebruik om verdeeldheid onder Afrikaners te saai; ek was daardie dag daar en tussendeur al die hartseer het die trots nuut gebloei oor my volk wat sê dat sy spore van 369 jaar nie sommer uitgevee gaan word nie. In vandag se tyd gebeur alles vinnig en gaan dit ook vinnig weer verby, maar ek hoop ter harte dat die Senekal optog nie vinnig vastrapplek in Afrikaners se harte en gedagtes sal verloor nie, want dit was 'n voorbeeld van hoe ons wél kan saamstaan. Nou lê die uitdaging daarin dat ons elke dag toegewyd moet saamstaan en saam beveilig, want die staat gaan dit nie doen nie en veiligheid op plase is 'n ernstige krisis wat ons almal raak.

 

 

 

 

  •  
  •  
  •  
René Krüger Deur René Krüger


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close