Algemeen -

Sewe dae van dankbaarheid

Ek sien dat daar heelwat van my vriende op Facebook is wat sewe dae lank elke dag drie dinge noem waarvoor hulle dankbaar is en hul vriende versoek om dieselfde te doen.

Ek dink dit is baie goed om bietjie na te dink oor wat mens alles het om voor dankbaar te wees.

Ons is te geneig om te dink aan al die dinge wat ons wil hê – eerder as aan alles wat ons reeds besit of het. Ons is te geneig om te kla oor wat alles fout is in ons lewens – eerder as om al die seëninge wat ons uit die Vaderhand ontvang, te waardeer.

Dit is baie makliker om te kla as om tevrede te wees.

Vandag is ek dankbaar vir die feit dat ek in God kan glo. Dat ek kan sien hoe Hy my lei op nuwe paaie en kan weet dat Hy my elke dag getrou bewaar. Dankbaar dat ek 'n ewigheidsblik kan hê en weet dat hierdie lewe tydelik is.

Dankbaar vir my man wat die beste in my na vore bring. By wie ek myself kan wees. Op wie ek kan vertrou.

Ek is dankbaar vir familie – ook die nuwes wat bygekom het. Vir gesellige familie-kuiers om 'n tafel of 'n braaivleisvuur. Vir die weersiens wanneer mens mekaar lank nie gesien het nie. Vir die gemeensaamheid van broederskap.

Ek is dankbaar vir goeie vriende wat deur dik en dun by my staan. Saam met wie ek kan lag en vrolik wees.

Daar is só ‘n lang lys wat ek nog kan noem!

Dankbaar vir gesondheid, vir krag, vir lewenslus, vir liefde, vreugde en geluk. Vir voorspoed én teëspoed wat mens sterker maak.
Dankbaar dat ons genoeg het om van te leef. Die “ekstras” is tog maar eintlik oorbodig…

1 Thes. 5:18: Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.

  •  
  •  
  •  
Deur Carina Bester


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close