Deur Paul Joubert

 

Praat oor die Suid-Afrikaanse arbeidsmark met 'n verteenwoordiger van die regering, soos minister Ebrahim Patel, en dié sal waarskynlik dadelik daarop wys dat daar nou byna 600 000 meer werkende mense as 'n jaar gelede is, of byna 1 miljoen meer as twee jaar gelede, 1,85 miljoen meer as vyf jaar gelede, of selfs byna 1,1 miljoen meer as in 2008, voor die resessie van 2009.

 

Met sulke miljoene, waaroor kla mense dan ten opsigte van die arbeidsmark?

 

Die probleem is dat die styging in die getal werkende mense nie in die werklike enjinkamer van die ekonomie – die formele private sektor – plaasgevind het nie. Die grootste deel van die toename was in die staat en die informele sektor. Eersgenoemde word vanuit die private sektor befonds, en disproporsionele groei daar beteken 'n swaarder belastinglas. Laasgenoemde is wel produktief, maar dis meestal nie die ideaal van goedbetaalde, vaste werk nie.

 

Die 7,7 miljoen mense wat in die formele private sektor werk, is tans slegs 92 000 meer as verlede jaar en slegs 244 000 meer as twee jaar gelede. Daar is weliswaar nou byna 800 000 meer as vyf jaar gelede tydens die dieptepunt van die resessie, maar vergeleke met voor die resessie is daar nou slegs 109 000 meer mense wat in die formele private sektor werk.

 

Hierdie syfers is in groot kontras met dié wat in die eerste paragraaf genoem is. Dit dui daarop dat van die 1,1 miljoen meer mense wat nou in Suid-Afrika werk as in 2008, sowat 'n miljoen in die staat of in suboptimale sektore werk. Dit is nie tekenend van 'n gesonde arbeidsmark nie.

 

Verder moet daar ook in gedagte gehou word dat die bevolking van werkende ouderdom in die afgelope sewe jaar toegeneem het. In 2008 was dit sowat 31,7 miljoen mense, terwyl dit nou reeds sowat 36 miljoen is. Met hierdie addisionele 4,3 miljoen mense is daar slegs 1,1 miljoen meer wat werk, en slegs sowat 0,1 miljoen wat addisioneel in die formele private sektor werk.

  •  
  •  
  •  
Deur cilleste


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close