My Gesondheid -

Sewe maniere om hoë bloeddruk sonder die gebruik van medikasie te beheer

Indien jy met hoë bloeddruk, ook bekend as hipertensie, gediagnoseer is, mag die gebruik van medikasie om jou bloeddruk af te bring, moontlik vir jou kommerwekkend wees.

 

’n Mens se lewenstyl speel ’n belangrike rol in die behandeling van hoë bloeddruk.  As jy jou hoë bloeddruk suksesvol beheer deur ’n gesonde lewenstyl te handhaaf, kan jy die nodigheid om medikasie te neem, vermy, uitstel of verminder.

 

Hier volg sewe lewenstylveranderings wat jy kan maak om jou bloeddruk te verlaag en dit laag te hou.

 

  1. Verloor gewig

Volgens die Mayo Kliniek help die handhawing van ’n gesonde gewig vir jou liggaamstipe om jou bloeddruk onder beheer te hou.  As jy oorgewig of vetsugtig is, is die verloor van oortollige gewig veral belangrik om bloeddruk te verlaag.

 

Hipertensie gepaardgaande met vetsug is gevaarlik vir ’n mens se langtermyn gesondheid. Vetsug kan swak bloedsirkulasie tot gevolg hê, stres op gewrigte en beenstruktuur asook op die hart plaas.   Dit kan die simptome van hoë bloeddruk vererger.  Daarom, as jy iemand is wat met vetsug sukkel, is dit belangrik om gewigsverlies te prioritiseer wanneer jy jou hoë bloeddruk behandel.

 

  1. Hou jou middellyf dop

Buiten die ekstra paar kilogram wat jy afskud, moet jy oor die algemeen ook ’n ogie oor jou middellyf hou.  Wanneer jy te veel gewig rondom jou middellyf te dra, word jou risiko vir hoë bloeddruk vergroot.

 

Mans loop gevaar as hulle middellyfafmeting groter as 102 sentimeter is, terwyl vroue gevaar loop as hulle middellyfafmeting groter as 89 sentimeter is.

 

Hou in gedagte dat hierdie syfers verskillend is vir verskillende etniese groepe. Vra dus jou dokter oor ’n gesonde middellyfafmeting vir jou.

 

  1. Bly aktief

Gereelde liggaamlike aktiwiteit van minstens 30 minute op die meeste dae van die week kan jou bloeddruk met 4 – 9 millimeter kwik (mmHG) verlaag.  Dit is belangrik om aan te hou oefen, want as jy ophou oefen kan jou bloeddruk weer styg.

 

Deur kardiovaskulêre oefeninge by jou oefenroetine in te sluit, sal jou sirkulasie,  longkapasiteit en hart se doeltreffendheid verbeter word. Die kombinasie hiervan sal jou bloeddruk verlaag.

 

Die beste tipe oefeninge vir die verlaging van bloeddruk sluit stap, draf, fietsry, swem en dans in.  Kragoefeninge kan ook help om bloeddruk te verlaag.  Praat met jou dokter oor die saamstel van ’n oefenprogram vir jou.

 

  1. Eet gesond

’n Eetplan wat ryk is in volgraanprodukte, vrugte, groente en lae-vet suiwelprodukte, sowel as een wat versadigde vette en cholesterol vermy, kan jou bloeddruk met ongeveer 14 mmHG verlaag.

 

Dit is nie maklik om 'n mens se eetgewoontes te verander nie, maar met hierdie paar wenke kan jy ’n gesonde dieet aanleer:

 

  • Hou dagboek van jou kosinname.  Deur neer te skryf wat jy eet, selfs al is dit net vir ’n week lank, kan vir jou baie lig werp op jou ware eetgewoontes.  Hou boek van wat jy eet, hoeveel, wanneer en hoekom.
  • Oorweeg dit om jou kaliuminname te verhoog.  Kalium kan die effek wat natrium op bloeddruk het, verminder.  Die beste bron van kalium is kossoorte soos vrugte en groente eerder as voedselaanvullings.  Praat met jou dokter oor watter kaliumvlak die beste vir jou sal wees.
  • Wees ’n slim koper.  Lees voedselitems se etikette wanneer jy inkopies doen en bly by jou gesonde eetplan selfs wanneer jy uiteet.

 

  1. Sny jou soutinname

Mense met hoë bloeddruk, matig hoë bloeddruk en volwaardige hipertensie kan hul bloeddruk drasties laat daal deur hulle soutinname te verminder.  Volgens die Mayo Kliniek kan selfs ’n klein vermindering van die natrium in jou dieet jou bloeddruk met 2 – 8 mmHG verminder.

 

Daar word aanbeveel dat mense met hipertensie hulle soutinname moet beperk tot minder as 1 500 milligram (600 milligram natrium) per dag.

 

Ons neem die meeste natrium deur verwerkte voedsel in. Bly dus by onverwerkte kossoorte.  Wanneer jy wel kos met voedingsetikette eet, kyk na die natriuminhoud van die produk.

 

  1. Beperk die hoeveelheid alkohol wat jy drink

Alkohol kan goed en sleg wees vir jou gesondheid.  In klein hoeveelhede kan dit moontlik 'n mens se bloeddruk met 2 – 4 mmHG verlaag.

 

Die beskermende effek daarvan gaan egter verlore wanneer jy te veel alkohol gebruik.  Oor die algemeen is dit meer as een drankie per dag vir vroue en vir mans oor die ouderdom van 65, of meer as twee drankies per dag vir mans van 65 en jonger.

 

Mense wat meer 'n  matige hoeveelheid alkohol per dag te drink, se bloeddruk kan beduidend styg.  Dit kan ook die doeltreffendheid van bloeddrukmedikasie verminder.

 

  1. Hou op rook

Rokers loop ’n groter risiko om aan hipertensie te ly.  Alhoewel tabak en nikotien in sigarette tydelike bloeddrukstygings kan veroorsaak, word rook nie geag as iets wat kroniese hipertensie veroorsaak nie.  In stede daarvan kan faktore wat met rook geassosieer word, soos oormatige alkoholverbruik en die gebrek aan oefening, daarvoor verantwoordelik wees.

 

Nietemin, jou bloeddruk kan ’n bietjie daal indien jy ophou rook.  Natuurlik is daar talle ander gesondheidsvoordele daaraan verbonde.

 

Bronne: www.mayoclinic.org, www.healthline.com, www.health.com

  • 4
  •  
  •  
cilleste Deur cilleste


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close