Julius Malema. Photo: Eye Witness News.
Algemeen -

Sies, jou swart rassis

Die keiser stap kaal uit tussen die skare. Die volk roep: “Kyk die pragtige klere!” Tot een seuntjie uitroep: “Kyk die keiser is kaal!”

Daar is ’n algemene opvatting in Suid-Afrika dat swart Suid-Afrikaners nie rassisties kan wees nie. Dit word formeel geargumenteer; dit is die onderliggende tema van boeke en dit vind bewustelik en onbewustelik neerslag in gesprekke.

Tydens ’n onlangse radiogesprek oor verkragting noem die omroeper dat sy sou wou hê dat mans die stryd teen die misbruik van vroue moet voer net soos sy van wit mense verwag om die stryd teen rassisme te voer. Onderliggend beteken dit: Wit mense is die rassiste.

Tydens ’n gesprek by die Verenigde Nasies se Komitee vir die Uitwissing van Alle Vorme van Rassediskriminasie maak die adjunkminister van justisie, John Jeffreys, die stelling dat wit mense kwetsende dinge oor swart mense kwytraak en dat dít die rede vir die nuwe wet oor haatspraak is. Wittes is die rassiste.

Die narratief het twee basisargumente. Die eerste is dat swart mense nie rassisties kan wees nie omdat hulle nie in ’n posisie van mag is nie. Die argument is gebrekkig omdat magsverhoudinge deurentyd skuif en omdat magsverhouding van situasie tot situasie verskil. In Suid-Afrika is die argument verder gebrekkig omdat swart rassisme dikwels vertikaal is, dit wil sê dit kom vanaf mense wat in ’n posisie van mag is.

Die tweede argument is dat die institusionele omgewing ’n omgewing van witheid is wat maak dat swart rassisme onmoontlik is. Dié argument is vals. Die institusionele wêreld het ongelooflik getransformeer en bitter min posisies van mag, met die uitsondering van die mag in enkele besigheidsraadsale, word nie deur swart Suid-Afrikaners oorheers nie.

Die praktyk van talle rassistiese uitsprake en haatspraak deur swart Suid-Afrikaners wys ook dat die stuk teorie dat swart mense nie rassisties kan wees nie, in praktyk vals is.

Dit is nie net vals nie, maar ook gevaarlik want dit gee vrye teuels aan uitsprake wat oor wit Suid-Afrikaners gemaak mag word en dit gee aanleiding daartoe dat honderde inskrywings op sosiale media suggereer dat wittes vermoor mag word sonder gevolge vir die skrywer.. Die deurlopende indruk wat geskep word dat net wittes rassisties kan wees, maak van wittes ’n legitieme teiken en dit word legitiem om op sosiale media te sê wittes moet met ’n bazooka geskiet of moet geslag word. Omdat swartes nie rassisties kan wees nie, mag hulle dit maar sê.

Solidariteit het besluit om ’n reuseveldtog teen rassisme en die dubbele standaarde wat geld by die hantering van ras van stapel te stuur. Solidariteit gaan in Mei 2017 ’n massaklag by die Suid-Afrikaanse parlement, die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, die Internasionale Arbeidsorganisasie, die Verenigde Nasies se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie, asook die Verenigde Nasies se Menseregtekommissie indien. Om suksesvol te wees, het ons nie duisende mense nodig om die klag te steun nie, ook nie tienduisende nie, maar honderde duisende. Tot dusver het die inisiatief van ’n massaklag reeds sulke oorweldigende steun behaal dat dit lyk of ons werklik honderde duisende mense se steun gaan kry. Danksy die sukses wat Solidariteit by ons vorige besoek aan die Verenigde Nasies behaal het, is ons daarvan oortuig dat ons weer sukses daar sal behaal. Die wêreld moet hoor van die ander kant in Suid-Afrika.

Die tyd het aangebreek om oor die mite, dat net swart mense rassisties is en dat wit rassisme erger is as swart rassisme, te sê: Die keiser is kaal.

Hoe hanteer ’n mens dit dan as ’n Zuma sê minderhede het minder regte of dat alle probleme begin het toe Jan van Riebeeck hier aangekom het? Hoe reageer jy as Malema sê wittes moenie geslag word nie; in elk geval nie nou nie? Wat is my reaksie op Bennie Morata, ’n regsdosent by Unisa, wat sê: “I hate white people and they must go back wherever they come from or alternatively to hell.” of Esethu Hasane, die voormalige minister van sport se media- en kommunikasiebestuurder, se juweel: “Only Western Cape still has dry dams. Please God‚ we have black people there‚ choose another way of punishing white people.”? Wat sê ’n mens oor Luvuyo Menziwa se uitspraak: “F*** white people. Just get me a bazooka or AK-47 so I can do the right thing and kill these demon possessed humans.”?

Wat doen jy met al die inskrywings van swart-op-wit rassisme wat op Facebook en Twitter verskyn en wat ons so gereeld sien?

Daar is talle dinge wat ’n mens kan en moet doen. Die minste wat jy moet doen, is om in dik, swart letters te skryf:

Sies jou swart rassis!

  • 2.9K
  •  
  •  
  •  
Dr. Dirk Hermann Deur Dr. Dirk Hermann


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close