Algemeen, Gemeenskappe -

Skole is die laaste vangnet

Skole is die laaste vangnet van die gemeenskap. Dít is my opsomming na ’n daglange werkswinkel met skool- en gemeenskapsleiers in die groter Klerksdorp-gebied. Ons sit in ’n skoolsaal – oud, maar skoon en netjies, gebou in die goue jare van die Wes-Transvaalse mynbedryf. ’n Span van die Solidariteit Helpende Hand het die afgelope tyd plattelandse myndorpe soos Stilfontein, Orkney en Klerksdorp besoek. Ons wil sien wat werklik in werksplekke, Afrikaanse skole, kolleges en in die gemeenskap aangaan.

 

Dis deel van ’n omvattende studie na die stand van die Afrikaanse werksmag wat gebuk gaan onder die resessie, rassewette, swak regering, die “transformasie” van opleidingskolleges en die inkrimping van die mynbou en nywerheidswese. Ons wou kyk na Solidariteit Helpende Hand se projekte en ondersoek instel na wat nog gedoen kan word aan die groeiende werkloosheid in hierdie gebiede. Die meeste myne in die gebied is bykans uitgewerk, wat ’n genadelose kettingreaksie op die res van die streek se ekonomie het. Gister se besoek het egter gesigte by die syfers gesit – kindergesigte.

 

Jongmense

Ons wou weet hoe dit met die Afrikaanse jongmense in hierdie omgewing gaan, om te kyk hoe ons kan help om hulle beter voor te berei vir hul werkslewe. Die doel was om ingeligte menings in te win van kundiges wat elke dag met kinders werk. Ja, natuurlik wissel die welstand van die kinders van gesin tot gesin, van skool tot skool en van gebied tot gebied, maar daar is tog breë neigings wat duidelik sigbaar word. Die belangrikste hiervan is dat die nuwe geslag in die breë swakker opgelei is as hul ouers.

 

Maar kom ons begin by die “bopunt”. Daar is skole in meer welvarende gebiede waar dit goed gaan, waar die meeste Afrikaanse kinders matriek klaarmaak en waar baie van hulle universiteit toe gaan. Dit is belangrik om te onthou dat plattelandse kinders se studiekoste dubbeld dié van stadskinders is, omdat ouers vir kos, verblyf en vervoer ook moet betaal. Die gevolg is dat baie minder kinders universiteit toe gaan, omdat dit selfs met beurse net nie vir almal bekostigbaar is nie.

 

“Onderpunt”

Aan die ekonomiese “onderpunt” is dit egter ’n ander storie. In meer as een skool word Afrikaanse ouers se werkloosheid op sowat 40% gereken, en dié skole kry minder as die helfte van die skoolfonds in. Hierdie werkloosheid is meermale werkende armes wat nie by die werkloosheidstatistieke ingesluit is nie. Die mense doen los werkies waar hulle kan, met klein en wisselende inkomstes. Ten spyte van lang ure kan hulle met werke soos karwagte nie 'n huishouding aan die gang hou nie. Die grootste probleem hier is afwesige pa’s wat in ander Afrikalande of elders in die land werk om die pot aan die kook te hou. Gesinsverbrokkeling en die armoede wat daaruit voortspruit, is die tweede groot uitdaging. Ons hoor van kinders wat skielik “seergekry” het voor 'n sporttoer omdat hulle bloot net nie geld daarvoor het nie. Ander word “siek” voor 'n skoolfunksie omdat daar nie geld vir ’n rokkie is nie. Nog ’n kind “wil” skielik nie meer gaan studeer nie omdat haar pa sy werk verloor het.

 

Ons hoor hoe oupa en ouma in baie gevalle ’n groter rol in die kinders se lewens speel wanneer die ouers elders in die land gaan werk soek. Daar is ook diegene wat na ’n jaarlange vrugtelose soeke na werk net tou opgooi en by ’n familielid intrek. Hierdie swaarkry werk deur na baie van hulle kinders toe, wat moedeloos word omdat hulle nie meer ’n toekomsvooruitsig het nie. Gelukkig is daar ook talle vasbyters wat alles insit om bo uit te kom en wat in moeilike omstandighede uitstyg.

 

Wit en swart

Die politieke probleme in die land maak veral baie wit kinders moedeloos en verswak hulle skoolwerk, omdat hulle nie meer ’n toekoms sien nie. Daarteenoor het baie van die swart kinders hoë beroepsdrome, sonder dat hulle punte dit altyd regverdig. Terwyl wit kinders egter te maklik voel dat die politiek hulle van lewenskanse ontneem, voel baie swart kinders te maklik dat die politiek hulle drome gaan verwesenlik.

 

Jeugarbeid

Groot getalle kinders aanvaar dat daar nie geld is om verder te studeer nie, en gaan werk na skool en vakansies vir noodsaaklike sakgeld en in die hoop dat hulle na matriek aangestel sal word. Dit is egter meermale ’n valstrik vir blywende armoede, omdat salarisse vir mense sonder ’n naskoolse kwalifikasie in daardie omgewing hoogstens R3 000 per maand is. Daar is skole waar minder as 5% van die Afrikaanse kinders universiteit toe gaan, waar min matrieks al ooit op vakansie was, en byna nie een al die see gesien het nie. Die gebrek aan ’n positiewe toekomsverwagting lei soms ook tot verlaagde aspirasievlakke. Dit is wel bemoedigend dat daar nog kleiner werkgewers is wat bereid is om die Afrikaanse kinders ’n kans in die lewe te gee, veral as die skole karakterverwysings kan gee.

 

Beroepsvoorligting is skaars. Daar is 'n skool waar net 15 uit 90 matrieks se ouers die R60 vir beroepstoetse kon betaal, en 'n ander waar daar darem 90 uit 170 was wat dit kon bybring. Daar is geen kolleges waar hierdie jongmense hulself verder kan bekwaam nie, en geen geld om na verafgeleë stadskolleges te gaan nie.

 

Engels

Rassewette maak dit baie moeilik vir wit skoolverlaters om werk te kry, en die Engelse staatskolleges is ’n groot struikelblok vir goeie opleiding. Selfs die top tien presteerders sukkel om beurse te kry, en min het genoeg geld vir koshuisverblyf en vervoer. Oorgangsfinansiering is ook ’n uitdaging vir die paar wat beurse kry, omdat dit eers later in die jaar uitbetaal.

 

Vaardigheidskool

Die omgewing se skool vir leerlinge met spesiale behoeftes leer praktiese vaardighede vir kinders aan, maar bytende rassewette maak dit selfs vir hulle moeilik om verdere opleiding en werk in die intreeposvlakke te kry. Engels is ook ’n groot struikelblok vir die gelukkiges wat wel werk en opleiding kry. Hierdie kinders het ’n groot behoefte aan beroepsopleiding in werk, byvoorbeeld in die boubedryf en tuisverpleging, wat nie in die omgewing aangebied word nie.

 

Hupstoot

Dit is duidelik dat baie van hierdie kinders en jong volwassenes net ’n “hupstoot” nodig het, soos studiebeurse, opleiding, geld vir ’n gereedskapkas, beroepsvoorligting, of blootstelling aan die groter wêreld buite die armoede waarin hulle leef.

 

Laerskole

Die armoede in landelike gebiede beperk egter kinders se moontlikhede omdat busvervoer of die koshuisgelde van goeie hoërskole te duur is.

 

 

Waardes

Die wanhoop en armoede van langtermyn werkloosheid lei soms tot ’n verval van gesonde waardes wat nodig is om weer anderkant uit te kom. Dit blyk dat daar ’n regstreekse verband is tussen geloofslewe en prestasiewaardes soos pligsbesef, werkywer, verantwoordelikheid en volharding.

 

Skole as laaste vangnet

Daar is egter een faktor wat uitstaan in al hierdie besoeke aan gemeenskappe wat geteister word deur armoede en werkloosheid. Dit is dat die Afrikaanse skole die laaste vangnet is van duisende kinders se swaarkry. Hierdie skole het bitter klein beursies, maar baie groot harte. Hoofde en onderwysers gaan uit hul pad om te help met kos, klere, raad, bemoediging, ekstra klasse, kontakte met werkgewers en hulp met opleiding. Hierdie skole gee hoop vir diegene wat reeds alle hoop verloor het. Hulle gee nie net onderwys nie, hulle gee die kinders ’n kans in die lewe. Dis hierdie soort onderwysers wat 'n mens jou lewe lank onthou, omdat hulle iets in jou gesien het wat jy self nie van bewus was nie.

 

Statistieke kry gesigte

Toe ons die middag by die hek uitry, kom die skool net uit. Honderde gewone kinders stroom by die hekke uit soos by enige ander skool. Ons statistieke kry skielik gesigte, en ek kry moed toe ek die jeugdige blymoedigheid sien. Solidariteit Helpende Hand se taak word weer vir ons almal duidelik; hierdie kinders moet ’n kans in die lewe kry. Hulle moet gehelp word om hulle volle potensiaal te verwesenlik. Daarom gaan Solidariteit en Helpende Hand kyk hoe ons bystandsprojekte in hierdie gebied vinnig verder uitgebrei word om meer mense by te staan en veral om toekomstige swaarkry in die lewe van hierdie kinders te voorkom.

  •  
  •  
  •  
Flip Buys Deur Flip Buys


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close