En toe word ons verlede Donderdag deel van die misdaadstatistiek in Gauteng. Buite ons huisie, in ‘n “veiligheidskompleks” slaan booswigte in die middel van die nag ons motor se agterste ruit uit, klim deur die stukkende venster, ruk die radio half uit, krap die GPS uit sy wegsteekplek uit en vlug met my skootrekenaar.

Ja, ek het my skootrekenaar in my motor vergeet. Die eerste en enigste keer. En in Klopjag se woorde: Ek sal nie langer jammer sê nie. Want sedert die betrokke voorval moet ek net heeltyd aan almal verduidelik waarom ek “so nalatig was” om my skootrekenaar in my motor te los; waarom die voertuig nie in die garage was nie en “het julle dan niks gehoor nie?”.

Die punt is: Ek hoef nie en sal nie jammer te sê vir ander se sondes nie.

Ja, ons leef in Suid-Afrika. Ja, ‘n mens behoort iemand nie in die versoeking te lei nie. Ja, ek weet ‘n mens moet aand na aand alles wat jy het sluit en dan agter nog ‘n muur toesluit en dan met ‘n ekstra alarmstelsel beveilig. En ja, ek doen dit gewoonlik. Maar Donderdagaand was my voertuig en skootrekenaar die laaste ding in my gedagtes toe ek by die huis kom. Vrot van die griep, en na ‘n rit waarvan ek bitter min kan onthou, het ek 90% aan die slaap by die huis gekom, uitgeklim, die motor gesluit en in die bed geval. Ek sal later vir my man vra om my goedjies uit te laai, het ek gedink. Toe slaap ek deur die hele nag, motor en skootrekenaar vergete.

Moet ek nou daarvoor jammer sê? Hoe siek is ons samelewing dat die skuld heel eerste by die slagoffers gesoek word?

Wanneer ‘n vrou verkrag word wil mense weet: “Wat het sy dan aangehad?” As jou huis geplunder word: “Het julle dan nie ‘n alarmstelsel nie?” As jy ge-“smash and grab” word: “Waarom was jou handsak nie in die bagasiebak nie?”

Ek is klaar met jammer sê. Dit was nie my skuld nie. Indringers het doelbewus die heining aan die ander kant van die kompleks oopgebuig, in geklim en rongesluip op soek na iets om te steel. Hulle besluit. Hulle sonde. Hulle skuld. Dit was maar net slegte tydsberekening dat dit juis op daardie aand gebeur het. As dit nie ons voertuig was nie, was dit iemand ander s’n. Dit is nie die inwoners se skuld nie, ons het die reg om daar te wees.

Hou op om die skuld by jouself te soek. Doen alles wat jy kan om verantwoordelik en veilig op te tree, maar indien iets dan gebeur, is dit omdat iemand anders liefdeloos en goddeloos leef, nie omdat jy dit vir een of ander rede verdien nie.

Dankie Here dat U ons veilig gehou het. Dankie vir daardie groot genade. Dink asseblief aan ons land. Gebruik my asseblief elke dag om ‘n verskil in ander se lewens te maak sodat hierdie siek, harde mense se harte kan verander.

  •  
  •  
  •  
Deur Moira Kloppers


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close