Algemeen -

So is ons besteel

Ons is geensins so ver van staatskaping verwyder as wat ons dalk mag dink nie. Selfs as jy nog nooit kontak met die Guptas gehad het nie, of ook nie in een van die kapers se woonbuurte was nie, was jy moontlik vir jare lank onwetend by hul skelmstreke ingetrek.

Dit was so eenvoudig soos om jou belasting te betaal of om jou ligte aan te skakel. Miljarde is uit die staatskas gesteel. Marianne Merten skryf in 2019 se Daily Maverick dat staatskaping R1,5 biljoen (“trillion” in Engels) laat wegraak het. Dit is omtrent driekwart van een jaar se nasionale begroting. As die land se staatsdepartemente belyn en verbeter word en alle gekaapte geld teruggekry word, sou dit teoreties dus moontlik wees dat almal van ons vir 'n jaar lank geen belasting hoef te betaal nie.

Ons betaal dus baie meer belasting as wat nodig is om dienste te ontvang wat baie swakker is as wat dit moet wees. Dis 'n bose kringloop van staatskapers wat aangestel word om die groot kapers te beskerm, wat dan verder steel en dan ander skurke aanstel om hulle te beskerm. Korrupsie gebeur in alle lande en eintlik oral waar mense in beheer van groot instansies is. Selfs kerke is nie immuun nie. Maar die feit dat staatskaping oor dekades heen kon voortgaan, wys watter groot deel van die ANC se karakter dit is om korrup te wees en om korrupsie in stand te hou.

Regter Zondo sê in sy verslag dat die ANC-beleid van kaderontplooiing 'n direkte oorsaak van staatskaping was. As die skelms dan beheer van die ANC oorneem, is die kaders wat ontplooi word ook deur die bank skelms. Behalwe dat die onderskeid tussen staat en party dan verval, word dit ook amper onmoontlik om die mense te vervolg, want die hoofde van die polisie en ander instansies in die strafregstelsel is dan ook kaders wat ontplooi is. Waar dit nie so is nie, is daar genoeg skelms in hul spanne om seker te maak dat baie min mense werklik vervolg kan word. Dis nogal 'n slim kriminele sindikaat, want almal wat hulle moet vervolg is deel daarvan, en almal anders het geen ander keuse as om die misdaad te befonds nie. Ons moet maar belasting betaal al weet ons 'n groot deel daarvan sal gesteel word.

Dit is ook hoekom ons kragnetwerk steeds grotendeels van steenkool afhanklik is terwyl kernkrag veel skoner en goedkoper is, en daar heelwat druk is om na hernubare energie oor te skakel. Die realiteit is dat jy nie so korrup met die skoner krag kan wees nie. Jy kan nie son en wind steel nie, maar met steenkool is moontlikhede eindeloos. Jy kan minderwaardige steenkool en selfs klippe koop en prima steenkoolpryse daarvoor betaal. As dit die sentrales breek, kan jy skep van die gelde wat aan kontrakteurs betaal word, om nie eers van die steenkool se vervoer te praat nie. Kernkrag word bloot te fyn gereguleer om op groot skaal korrupsie te pleeg.

Tussen die Zondo-verslag, Solidariteit se klagte teen die grootste staatskapers en AfriForum se private vervolgingseenheid kan ons darem na vervolging van die skurke uitsien. Die kanse is egter skraal dat die geld teruggekry sal word. Al waarvoor ons kan hoop is dat dit moeiliker sal word vir mense om weer so iets te doen.

  •  
  •  
  •  
Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close