Algemeen, Politiek -

So, moet ek gaan stem?

“Vryheid is nooit meer as een generasie van uitsterf af nie.”  Hierdie woorde van Ronald Reagan laat my elke keer opnuut dink oor die stand van sake in terme van my eie vryheid, en laat my telkens oorweeg watter dreigemente alles daarop inwerk.  Vir mense in Venezuela is hierdie woorde tans besig om waar te word, vandag het hulle aansienlik minder vryheid as wat hulle so kort as twintig jaar gelede gehad het.  Vir Venezuela het die pendulum geswaai toe 'n sosialis ingestem is – 'n sosialis wat wapenregte ingeperk het, grond onteien het, en vryheid inperkende maatreëls daargestel het.

Ons luister hoe inperkende beleide deur plaaslike politici oor groot skares uitgebulder word, en wonder dalk by onsself of ons eie vryhede in gedrang is.  Met dit alles in ag geneem, vra ek hierdie een vraag: Moet ek gaan stem?

Meeste jongmense staan voor die moeilike keuse van watter party om voor te stem – behoort dié partye wat reeds baie kanse gehad het nóg kanse te kry? Is die ywerige opposisiepartye nie maar almal net honger vir mag nie? In hierdie vrae oor wie om voor te stem, vind baie jongmense die eenvoudige antwoord: Bly weg. Dit is nie net 'n spesmaas nie; statistieke bevestig dit: Teen 25 April, 'n katspoegie weg van die verkiesing af, is meer as 6,6 miljoen van die geregistreerde kiesers tussen die ouderdomme van 30 en 39, volgens die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se amptelike data. Op hierdie selfde tydstip is daar maar 5,3 miljoen geregistreerde kiesers tussen die ouderdomme van 20 en 29. Volgens sensusdata was daar nie ’n insinking in geboortesyfers van 1990 tot 2000 gewees nie, so waarom dan hierdie drastiese verskil in getalle van meer as 1,3 miljoen minder geregistreerde kiesers in hiérdie ouderdomsgroep? Die antwoord, volgens baie, is dat daar nie ’n party is wat dit die moeite werd maak om voor te stem nie. Jongmense van alle rassegroepe kry toenemend die gevoel dat niemand waarlik vir hulle belange opstaan nie – en dan bly hulle eerder weg.

Daar is egter wel goeie argumente daarvoor te maak dat dit tog belangrik is om te stem – dat dit belangrik is om jou kruisie te gaan trek, of druk op 'n party te sit om meer van jou belange te verteenwoordig. Hier is 'n paar van daardie argumente:

  1. Die verflouing van die konsentrasie

As daar, argumentshalwe, 1 000 mense gaan stem, dan sal dit 2,5 stemme neem om een uit die 400 setels in die Nasionale Vergadering (die Parlement, wat in Kaapstad geleë is) te bekom. As daar egter slegs 800 mense stem, dan neem dit eweskielik slegs 2 stemme om so 'n setel te bekom. Sou ons dan die afleiding maak dat lojale stemmers van partye waarmee ons nie saamstem nie wel gaan stem, dan kan ons aflei dat hulle presies dieselfde hoeveelheid stemme in beide gevalle sou kry, maar aansienlik meer sê in die Nasionale Vergadering gaan hê, as gevolg van die 200 mense wat in die tweede scenario weggebly het. 'n Stem wat nie vir 'n radikale party gaan nie, verflou hulle konsentrasie; 'n wegblystem versterk hul konsentrasie.

  1. “As jy nie stem nie, mag jy nie kla nie.”

Hierdie ou gesegde is nou maar een maal die waarheid. Baie mense wil graag 'n opinie lewer, kla oor die manier waarop die regering hulle hanteer, en geskok wees oor besluite wat deur die Nasionale Vergadering gemaak word, maar wanneer hulle 'n kans kry om te bepaal wie setels (sitplek) in daardie vergadering kry, wou hulle liewer die “vakansiedag” voor die televisie deurbring. Soos my ouma sou sê: Á nee á – sies vir jou. Doen jou deel, dit is hoe 'n demokrasie werk. Persone wat onderneem om vir vyf jaar lank stil te sit en te aanvaar wat om hulle gebeur, sonder ’n boe of ’n ba, mag seker maar hierdie punt oorslaan, maar wie van ons kan werklik voorspel dat daar in vyf jaar niks kan gebeur wat ons sal ontstel nie?

  1. Die wegblystem bewys niks nie

Daar is hulle wat argumenteer dat persone wat wegbly van die stembus af een of ander punt maak, maar die regerende party gee nie werklik om nie, solank hulle wen. Geen party se legitimiteit as party, of setels in die Nasionale Vergadering sal bevraagteken word as daar eweskielik meer mense wegbly nie – die kwessie van mense wat wegbly sal die onderwerp van koerantrubrieke wees, en debatsgesprekke, maar daar sal niks meer daarvan kom nie. Persone wat wegbly om 'n punt te bewys is werklik mense wat, as ek dit direk kan vertaal, die neus afkap om die gesig by te kom.

Ten slotte, as jong Suid-Afrikaners behoort die toekoms aan ons. Dit is tyd dat ons daardie toekoms in ons eie hande neem, en self besluit wie die 400 mense is aan wie ons hierdie setels gaan gee, aan wie ons mag gaan gee om te besluit wat met ons staat gaan gebeur vir vyf jaar. Daardie 1,3 miljoen mense tussen 20 en 29 wat anders as hul ouer mede-landsburgers nie geregistreer het om te stem nie, kon 5%, of 20 stemme in die Parlement beteken het, maar nou sal ons nooit weet wie dalk daar kon sit nie. Gaan trek jou kruisie. Dit is belangrik!

  • 29
  •  
  •  
Paul Maritz Deur Paul Maritz


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close