Algemeen -

Só raak die oorlog in Oekraïne jou

Ongeag wat die Russsiese propagandamasjien 'n mens wil laat glo, het Rusland Donderdag 'n soewereine, demokratiese staat sonder enige rede ingeval. Poetin (Владимир Путин, vir dié wat oor die spelling wil redekawel) se snertpraatjies oor Nazi’s in Zelenski, 'n Jood, se regering en uittarting deur Navo is nonsens.

Hoewel die oorlog waarskynlik nie een van ons direk sal raak nie, sal dit 'n noemenswaardige impak op ons geldsake hê. Hierdie impak sal op die kort termyn net sleg wees, maar op die langer duur mag dit, hoewel onwaarskynlik, 'n positiewe nadraai hê.

Bykans die hele Europa is van Rusland afhanklik vir gas. Dit geld ook vir ander brandstowwe, hoewel op 'n effens kleiner skaal. Die lewering daarvan is nou deur sanksies in die wiele gery, wat beteken dat daar nou 'n veel kleiner aanbod is, terwyl die vraag na hierdie produkte dieselfde is, of so wil die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (Opul) ons laat glo. Eintlik is dit maar 'n verskoning vir hul lidlande, gelei deur Saoedi-Arabië, om uitspattige winste te regverdig terwyl nie een van hulle teen volle kapasiteit olie voorsien nie.

Oekraïne weer is 'n landbou- en ysterreus. Die land is 'n enorme verskaffer van veral koring in Europa. Hy is ook 'n groot verskaffer van mielies, saadolies en soja. Al hierdie produkte ding op die wêreldmark mee en die aanbod sal dramaties afneem as Oekraïne nie sulke produkte na die mark kan bring nie. Suid-Afrika lewer baie van hierdie selfde produkte, en ons kan dus dalk uitsien na 'n meer gunstige handelsbalans, hoewel dit teen 'n baie hoë prys vir die verbruiker kom, om nie eers te praat van die prys wat Oekraïne, wat uit die as van 'n onnodige oorlog sal moet opstaan, sal moet betaal nie.

Buiten veel duurder internasionale brandstofpryse, waaraan ons niks sal kan doen nie, gaan ons ook opgeskeep sit met gedurige tekorte omdat skeepsroetes ontwrig word. 'n Beduidende aantal vragskepe is Russies en alle Russiese vaartuie is nou in baie streke verbied. Boonop koop heelwat skeepsvaartmaatskappye hul brandstof van Rusland aan en hulle sal nou nuwe kontrakte moet beding, wat ook tekorte kan meebring as dit nie gou genoeg realiseer nie.

Sanksies teen Rusland is nodig om sulke gedrag deur ander lande af te weer en om Poetin hopelik tot sy sinne te laat kom, maar dit kom teen 'n hoë prys. Waarskynlik gaan die feit dat Rusland nou uit die Swift-stelsel verbied is, die grootste prys wees wat hy sal moet betaal. Die Russiese roebel kan nie meer op enige plek buite Rusland verhandel nie, en geen geld kan Rusland verlaat of binnekom nie. En dit is waar die probleme begin. As jou bank in Russiese staatseffekte belê het, soos wat waarskynlik die geval is, gaan die bank die belegging nie kan terugkry nie. Dit behoort 'n baie klein deel van banke se totale beleggings te wees, maar dit is nou 'n belegging wat weg is. Vir altyd. Dieselfde geld vir almal wat sake in Rusland doen. Alle winste wat hulle nog moet ontvang, of skuld wat nog terugbetaal moet word, is nou weg. Ook vir altyd. Maar dit is gelukkig ook waar die goeie nuus inkom.

Geen fonds of instelling kan meer in Rusland belê nie, selfs al wou hulle. Baie lande het sanksies ingestel wat hul burgers en ondernemings wat daar geregistreer is verbied om oor 'n maand of drie enige beleggings in Rusland te hou. Noorweë het byvoorbeeld besluit om $1,1 biljoen (‘trillion’ in Engels) van sy soewereine welvaartsfonds se belegging in Rusland te onttrek. Dit is ongeveer agt keer soveel as wat ons regering beplan om vanjaar te bestee.

Hierdie biljoene moet 'n nuwe tuiste vind en dit sal waarskynlik 'n tuiste vind in die ontwikkelende wêreld. Rusland kan volgens die menslike-ontwikkelingsindeks net-net as 'n ontwikkelde land gereken word. Suid-Afrika is weer so te sê net-net nie 'n ontwikkelde land nie. Boonop is ons saam met Brasilië, Rusland, Indië en China 'n lid van die Brics-alliansie. As 'n belegger 'n plek soek om in te belê, kan hierdie lys maklik na moontlikhede lyk. Hopelik is plaaslike waagkapitaalgroepe, sowel as die regering, reeds besig om beleggers hierheen te lok. Ons kan werklik doen met beleggings in die land, veral wat energieverskaffing betref wanneer Eskom heeltemal in duie stort. Dit is veral Eskom se werknemers wat daarby sal baat as nuwe werkgewers aan boord kom. Die goeie nuus is dat baie van die buitelandse beleggings in Rusland energieverwant was en daardie onttrekkende beleggers is in ieder geval waarskynlik lus om elders in skoner energieprodukte te belê. Dan het ons ook 'n enorme werksmag wat tans totaal en al onderbenut word. Nou is die tyd om beleggers te lok om hulle te benut.

Buiten die voordele vir ons handelsbalans is geen ander voordele seker nie. Wat wel seker is, is dat ons vir die afsienbare toekoms baie meer vir brandstof sal betaal.

Foto bron: Louisa Gouliamaki/AFP/Getty

  •  
  •  
  •  
Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close