Die bekende Amerikaanse skrywer, Mark Twain, het gesê die geheim van vooruitgang is om te begin. En om te begin, moet 'n mens die reusetaak wat voor jou lê in klein, uitvoerbare dele verdeel en dan dadelik met die eerste taak wegspring. Moira-Marie Kloppers het met Sol-Tech se besturende direkteur, Paul van Deventer, oor die kollege se hoogtepunte en drome gesels.
“Rome is nie in een dag gebou nie, maar word vandag as 'n bastion beskou. 'n Nalatenskap. Só is ons ook besig om stappie vir stappie 'n nalatenskap, 'n stukkie erfenis vir die volgende generasie in Suid-Afrika met Sol-Tech te bou  So sê Paul van Deventer, Sol-Tech se uitvoerende hoof. “Elke jaar is ons nog 'n stappie nader aan die droom wat ons jare gelede al vir onsself uitgestippel het,” voeg hy by. Van Deventer se oë blink wanneer hy meer oor dié droom vertel. “Ons droom is om eindelik 'n holistiese instansie te wees wat, behalwe vir uitgebreide tegniese opleiding in verskeie ambagte, ook lewensvaardighede aan studente oordra en hulle as volwassenes vir die wêreld van werk toerus,” verduidelik hy.


Die eerste treë om dié droom te verwesenlik, is reeds geneem. Sol-Tech het klaar 'n stuk grond, wat vir 'n groot kampus geskik is, aangekoop en in die komende jaar begin die groot beplanning om dié kampus so uit te lê en toe te rus, dat Sol-Tech nog vinniger kan groei.

“Die toestroming van studente wat Sol-Tech en ander kolleges en universiteite die afgelope paar jaar ervaar het, toon duidelik dat daar weer 'n oplewing in leergierige jongmense in Suid-Afrika is. Jongmense wat besef dat hulle toekoms in hulle eie hande lê en van baie harde werk en gebed afhanklik is,” verduidelik Van Deventer. “Ons kan nie dieselfde bly nie. Ons móét groei. Ons móét hierdie generasie in staat stel om hul roepings te ontdek en 'n sukses van hul lewens te maak, want só verseker ons 'n beter Suid-Afrika vir almal,” voeg hy by.

Intussen loop Sol-Tech se goeie reputasie hom vooruit. Honderde voornemende studente stroom elke jaar na Sol-Tech se opedag, waar talle weggewys moet word omdat daar nie plek is nie. Tóg, meen Van Deventer, is dit goeie nuus, want dit wys dat die belangstelling in skaars vaardighede weer 'n bloeityd begin beleef.

Sedert Sol-Tech in 2007 sommer by Solidariteit se kantore in Kloofsig met 64 studente, wat vir Elektries ingeskryf het, en drie personeellede begin het, het daar baie water in die see geloop. “Hierdie jaar kon ons weer 125 eerstejaars en 134 tweedejaars verwelkom, terwyl nóg 40 eerstejaars, 102 tweedejaars en 108 derdejaars in die tweede helfte van die jaar by hulle sal aansluit.

Dit is nie elke tegniese kollege of universiteit wat met 'n 96%-slaagsyfer kan spog nie. Die gemiddelde slaagsyfer vir die Nasionale Vaktoets by ander tegniese kolleges is maar 'n skamele 46%. Sol-Tech spog egter reeds met meer as 100 van sy studente wat as ambagslui gekwalifiseer het.

Om te kwalifiseer as ambagsman, moet 'n vaktoets afgelê word. Om die gesogte rooiseël-kwalifikasie te ontvang, moet studente institusionele opleiding ondergaan en die minimum tydperk praktiese ondervinding opdoen. Rooiseël-sertifikate word deur die bedryf vereis. Om 'n rooiseël-sertifikaat te bekom, moet studente die bevoegdheid demonstreer om sekere take volgens industriële en wetlike vereistes sonder toesig uit te voer. Om ambagsmanstatus te bereik, moet studente die rooiseël-eksamen na voltooiing van hulle vakleerlingskap slaag.

Wat is die geheim vir Sol-Tech se sukses?

Volgens Van Deventer het Sol-Tech 'n unieke resep vir sukses. “Sol-Tech-studente word deur kundiges op hulle gebied in hulle moedertaal opgelei. “Geen moeite word ontsien om ons studente bevoeg te kry nie en studente word op ouer en moderne toerusting opgelei. Daarbenewens kry ons studente gedurende hulle drie jaar by ons net soveel praktiese ervaring en blootstelling as teoretiese opleiding,” verduidelik Van Deventer. “Ons fokus ook op persoonlike ontwikkeling, asook die ontwikkeling van kommunikasie- en entrepreneurskapsvaardighede,” voeg hy by. “Dit is dié opleidingsmodel wat Sol-Tech suksesvol maak,” volgens Van Deventer.

Foto van die grond waar die kampus gebou gaan word.

.

  •  
  •  
  •  
Deur Moira Kloppers


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close