Die vakbond Solidariteit het die voorreg om te sê hy is een van die oudste vakbonde in Suid-Afrika wat deur die jare voortdurend aanpas om die beste vir sy lede te bied. Dit is ook die oudste burgerlike beweging in Suid-Afrika met sy wortels in die mynbedryf.

 

Solidariteit is geanker in sy waardevolle geskiedenis, waardesisteem en manier van doen. Die vakbond se geskiedenis is nóú met dié van Suid-Afrika verweef en het ontstaan in die hartseertyd van die Tweede Vryheidsoorlog in 1902, toe talle Afrikaners na stede uitgewyk het om by die myne werk te soek. Solidariteit het die 1922-staking deurgemaak en was deel van die opstand van die Afrikaner in die 1930’s.

 

Solidariteit se Christelike tradisie vul die vakbond se waardesisteem aan. Die vakbond glo dat werknemers ’n roeping het en dat dit vakbonde se taak is om hulle te help om hul roeping te verwesenlik. Solidariteit sien homself in die christelik-demokratiese tradisie.

 

“Ons lede is mense wat deel van gemeenskappe is, wat in huise in munisipaliteite leef, wat óf self arm is óf arm mense wil help, wat ’n spesifieke taal praat en ’n spesifieke identiteit het. Ons lede is mense wat omgee vir hulle kinders en wat wil hê hulle kinders moet studeer,” vertel dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

 

Die Solidariteit-vakbond se kernfokus is om sy lede in die werkplek te beskerm, maar ook om geanker te bly in alles wat hy doen om vir sy lede omstandighede te help skep waarin hulle gelukkig in Suid-Afrika kan leef.

 

Solidariteit bly geanker in:

  • Geloof: Die christelike tradisie van vakbondwese, wat glo dat ons lede tot selfstandigheid moet lei sodat hulle hul roeping kan vervul.
  • Werkplek: ’n Veilige, gesonde en regverdige werkplek.
  • Suid-Afrika: Solidariteit is verbind tot Suid-Afrika en wil ’n toekoms vir sy lede en hul kinders skep.
  • Die ekonomie: Die vakbond glo dat die land se ekonomiese beleid op ’n vryemarkstelsel gebaseer moet word waar daar ’n balans tussen verskillende rolspelers is.
  • Burgerregte: Solidariteit glo daarin om sy lede te bemagtig om selfstandig te wees, deur selfstandige instellings daar te stel sodat lede se regte kan realiseer.
  • Gelykheid: Gelykheid wat billik toegepas word.
  •  
  •  
  •  
Deur cilleste


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close