Algemeen, My geld, My Werk -

Sonder werk, Sonder Moed

“Dit sal weer beter gaan, die regte werk sal kom.” Klink dit nie bekend nie?

Dalk nie vir die middelklas en meer gegoede inwoners van Suid-Afrika wat gelukkig genoeg is om 'n stabiele inkomste huis toe te vat nie, maar vir meer as 26% van die land se bevolking is dit 'n daaglikse herinnering aan hul omstandighede en die hulpeloosheid en angs wat met werkloosheid gepaard gaan. Die bedoeling is goed en word dalk ook gesê omdat 'n mens later seker nie meer weet wat om te sê nie. Dit is maklik om woorde uit te deel wanneer jy aan die wenkant van die lewe is, maar wanneer jy op moedverloor se vlakte sit en die lewe sy tol eis, raak dit 'n donker storie.

Hoe maak 'n mens as die mat onder jou uitgeruk word en jy sit oornag sonder 'n inkomste?

Dit tref jou soos 'n trein, en stadig maar seker begin dit jou aftakel, en die gedagte van wie jy eens as mens was, is nou net 'n herinnering. Jy kom vinnig agter dat jou sente twee of selfs drie maal omgedraai moet word, dat sekere luukshede eintlik onbenullig is en dat goedkoper en meer bekostigbare kos op die rakke jou sak sal moet pas.

Dinge wat eers as alledaags beskou is, is vandag iets wat onder op die inkopielys geskryf word. Jy loop verby die skaaptjops en die begroting vir vuuraanstekers en houtskool word drasties gesny, selfs tot só 'n mate dat daar nie eens maklik vir spesiale geleenthede 'n vleisie op die kole gebraai word nie – daardie dinge wat jy vir soveel jare as vanselfsprekend aanvaar het.

Daar is drie dele in jouself waar agteruitgang sigbaar is. Een van hulle is bloot sigbaar vir jouself terwyl die res (vir diegene wat bietjie moeite wil doen) op die oog af sigbaar is. Laat my toe om uit te brei:

  1. Finansieel – Uitgawes verdwyn nie die dag as jy bedank, aftree of van werk verander nie, so ook nie as jy die dag afgedank word nie. Hulle het 'n geneigdheid om skielik op te hoop. Jy kom agter dat skuldeisers skielik lief is vir jou telefoonnommer en dat telefoonbemarkers steeds nie nee vir 'n antwoord wil aanvaar nie. Soos die lewe maar is, breek dinge soms – jou motor breek en moet reggemaak word, die warmwatersilinder bars en verspoel die huis, haelstorms slaan die ruite stukkend en jy begin voel soos die Egiptenare wat al die plae moes oorleef.

Daar kom 'n punt waar dit finansieel net onmoontlik raak om by te bly. Agteruitgang raak 'n realiteit en kort voor lank verval jy in 'n finansiële verknorsing en die gat raak net al hoe dieper.

  1. Sosiaal – As mens is dit normaal om sosiaal te verkeer en dit op 'n gereelde basis te wil doen. Ons is skepsels wat daarvan hou om ons kringe uit te brei en te gesels. Ons gesels graag oor onsself, oor ons ideale en ons drome, maar ons hou ook daarvan om te skinder en dit is veral met skinder waar jy as werklose gebyt word.

Wanneer jy werkloos is, verloor jy jou menswees en ook jouself. Jou selfvertroue groet en jy voel nie goed genoeg vir enigiets of enigiemand nie. Klassieke simptome van depressie begin deurslaan en jy voel heeltemal hulpeloos. Dit maak dit moeilik om 'n normale lewe te leef waar daar goeie en gesonde verhoudings tussen jou en die mense om jou is.

Wanneer jy wel 'n uitnodiging na 'n spesiale geleentheid ontvang nadat jy na maande of selfs jare steeds nie 'n werk kon kry nie, is jou gevoel van onsekerheid en gevoelens van skaamte oorheersend. Jy sou verkies om dit 'n geheim te hou, juis omdat mense so lief is vir skinder en jy konstant wonder wat mense agter jou rug sê.

Dit en ook die feit dat jy nie finansieel in staat is om 'n sosiale lewe te lei nie, het 'n bose kringloop tot gevolg omdat die een gewoonlik die ander komplementeer. Geld is inderdaad alles, veral as jy geen manier het om self ’n inkomste te genereer nie.

Die laaste punt van agteruitgang moet eerlikwaar die moeilikste een wees om te oorkom, juis omdat dit veel langer kan duur om daarvan te herstel. Dit is 'n persoonlike aftakeling van jou as mens, en slegs jy as mens is in beheer daarvan. Hoe jy op gebeure reageer waaroor jy geen beheer het nie, bepaal ook hoe jy as mens hierdeur gaan kom.

  1. Emosioneel – Dit gebeur stadig. Jy sal op 'n dag by die huis sit, steeds werkloos, en dan besef jy dat jy iewers rigting verloor het. Jy vra vrae oor jouself en waar dinge so erg kon skeefloop. Jy soek antwoorde, maar jy weet nie by wie om dit te gaan vind nie. Waar lê die fout? In jou soektog delf jy tot in jou binneste. Dit los jou met jou eie gedagtes en jy word emosioneel uitgeput en oorweldig deur konstante stres en verwerping.

Onderhoude (Indien jy genooi word) gee jou moed, maar wanneer jy keer op keer geen terugvoering ontvang nie of gelukkig genoeg is om te hoor dat jou aansoek onsuksesvol was, voel dit of jou wêreld amper weer van voor af inmekaarstort en jy weer opnuut jou moed van die vloer af moet optel.

Uit my eie ondervinding weet ek hoe moeilik dit is. Dit verg baie van jouself om daagliks op te staan en die lewe en die mense daarin in die oë te kyk, om teleurstelling te oorkom en aan te hou met die hoop dat jy wel eendag sal wen.

Ek wil jou wel oortuig en aanraai om aan te hou probeer, elke dag. Hou aan om jou CV te stuur, al dink jy dat jy nooit die werk sal kry nie, en ook selfs al voldoen jy nie aan al die vereistes nie. Waag 'n kans, lees oor nuwe onderwerpe, verbreed jou wêreld en verryk jouself met nuwe kennis terwyl jy op daardie werksaanbod wag.

 

Een ding is vir seker – aanhouer wen!

  • 104
  •  
  •  
  •  
Reon Janse van Rensburg Deur Reon Janse van Rensburg


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close