My Gesondheid -

Sorg vir jou lewer – dit kan jou lewe red

Jou lewer verrig meer as 500 funksies wat noodsaaklik is vir jou liggaam om optimaal te werk. Alles wat jy eet en drink, beweeg letterlik deur jou lewer, insluitend medisyne en chemiese middels.

Die lewer is die tweedegrootste orgaan in die liggaam naas die vel. Dit is aan die regterkant van die liggaam onder die ribbekas geleë en is omtrent so groot soos ’n rugbybal. Dit filtreer chemiese middels soos alkohol en medisyne uit die bloed, stoor voedingstowwe uit die kos wat jy eet, reguleer hormone, hou bloedsuikervlakke stabiel en vervaardig bloedproteïene en sekere ensieme.

Die beste manier om ’n gesonde lewer te verseker, is om ’n gesonde lewenstyl te handhaaf. Dit beteken dat jy kosse, drankies en middels moet vermy wat skadelik vir jou lewer kan wees.

Hier is ’n paar wenke om jou lewer gesond te hou:

Vermy oormatige alkoholgebruik

Wanneer jy oormatig drink, beskadig dit jou lewerselle. Dit veroorsaak swelling van die lewer, wat aanleiding kan gee tot sirrose – ’n onomkeerbare en dodelike toestand.

Eet gesond en oefen gereeld

Jou lewer stoor energie uit die kos wat jy eet, wat beteken dat jou energievlak direk verband hou met die gehalte van jou dieet. Bly weg van kosse wat te veel vet en suiker bevat, eet baie rou, vars groente en vrugte, en maak veselryke kos deel van jou dieet. Vermy groot maaltye en eet eerder meer dikwels kleiner etes.

Omdat die lewer ook bymiddels uit jou bloed filtreer, behoort jy geprosesseerde kosse, kunsmatige bymiddels en preserveermiddels te vermy. Skakel kunsmatige versoeters heeltemal uit as jy kan.

Oefen ten minste drie keer per week vir 30 minute lank. Dit hoef nie uitmergelende oefening te wees nie. Doen enigiets wat jou hartklop vir ’n halfuur lank sal versnel, soos om te dans, te stap of met jou kinders te speel.

Vermy medisynekombinasies wat jou lewer kan beskadig

Cholesterolmedisyne en die pynstiller parasetamol kan toksies vir jou lewer wees as jy te veel daarvan inneem. Parasetamol is ’n bestanddeel in talle verkoue- en griepmiddels asook pynstillers op voorskrif. Sommige kombinasiemedisyne of medisyne wat met alkohol geneem word, kan ook jou lewer beskadig. Om veilig te wees, volg altyd die aanbevole dosis vir die medisyne en gesels met jou dokter of apteker oor medisynekombinasies voordat jy dit neem.

Wees ingelig oor hepatitis

Hepatitis is ’n virus wat die lewer ontsteek. Daar is verskeie tipes hepatitis wat op verskillende wyses oorgedra word. Hepatitis A word oorgedra wanneer jy water of kos inneem wat met bakterieë besmet is. Die simptome kan behandel word en die lewer herstel gewoonlik vanself.

Hepatitis B en C word deur die bloed en liggaamsvloeistowwe oorgedra. Beide tipes is aansteeklik en moet deur ’n dokter behandel word, aangesien dit lewerkanker, lewerversaking of sirrose kan veroorsaak. Jy kan voorkom dat jy hierdie twee tipes hepatitis opdoen deur nie tandeborsels, skeermesse en naalde met ander mense te deel nie. Beoefen ook veilige seks en vermy veelvuldige seksmaats.

Neem goeie aanvullings

Jou lewer het baie voedingstowwe nodig om jou liggaam suksesvol te ontgif. Maak seker jy ly nie aan enige tekorte nie deur jou dokter of apteker te vra om ’n goeie aanvulling aan te beveel. ’n Hoëgehalte-multivitamien-en-mineraalaanvulling is gewoonlik voldoende, maar jy kan dalk ook ekstra vitamien C en lesitien neem. Lesitien help jou lewer om vette te metaboliseer en verlaag dus cholesterol.

Vat ’n blaaskans

Probeer om ten minste drie uur voordat jy gaan slaap nie te eet nie. Dit sal jou lewer genoeg tyd gee om sy funksies te verrig sonder dat dit met spysvertering ook opgesaal is.

Kosse wat goed is vir jou lewer

  • Vars wortels en beet. Dit help om jou lewer te suiwer en te herstel.
  • Groen kosse bevat chlorofil, wat ook help om die lewer te suiwer.
  • Knoffel en broccoli bevat swawel, wat ensiemvervaardiging en lewersuiwering aanhelp.
  • Heel, rou, ongesoute neute en sade bevat vetsure en bruikbare proteïen wat lewerfunksies bevoordeel.
  • Vlassaad help om te keer dat daar te veel hormone in die bloedstroom beland. Een van die lewer se funksies is om oortollige hormone te filtreer, en deur te voorkom dat dit in die bloedstroom beland, word die las op jou lewer verlig.
  • Daar is talle kruie en speserye wat lewerfunksies kan aanhelp, soos melkdissel en borrie. Raadpleeg altyd eers jou dokter, apteker of ’n betroubare kruiekundige voordat jy enige kruiemiddels en/of aanvullings neem.

Jy kan jou lewer gesond hou deur bloot skadelike kosse en middels te vermy, ’n gesonde en voedsame dieet te volg en gereeld te oefen.

  •  
  •  
  •  
  •  
Wilmarie Brits Deur Wilmarie Brits


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close