Deur Inge Strydom

 

Het jy al ooit gewonder hoe belangrik die gebruik van sosiale media regtig vir die instandhouding van jou persoonlike handelsmerk is? Mens hoef net te kyk na die lang lys bekendes wat op sosiale netwerke soos Facebook en Twitter pronk om te sien dat sosiale media 'n beduidende rol speel wanneer dit by beeldpoetsery kom. Daarby maak werwingsagentskappe en potensiële werkgewers geen geheim daarvan dat hulle potensiële kandidate se sosialemedia-profiele raadpleeg nie.

 

Verskeie kenners meen die wyse waarop jy sosiale media gebruik 'n direkte invloed het op die beeld wat jy na buite wys. “Sosiale media bied mens 'n platform om jou persoonlike boodskap die wêreld in te stuur ten einde jou doelwitte te bereik,” skryf Jim Joseph in sy artikel “Build your personal brand on social media, moment by moment” op www.entrepreneur.com.

 

In 'n artikel op die webtuiste www.undercoverrecruiter.com word daar egter gewaarsku dat jy deurdagte inhoud op jou sosialemedia-profiele moet deel wat 'n positiewe bydrae sal maak tot die handelsmerk wat jy probeer skep. “Sosiale media gee duisende mense toegang tot jou inskrywings. Wees daarom seker dat jy dit reg gebruik en dat jy verstaan hoe die verskillende elemente daarvan saamwerk om uiteindelik tot jou persoonlike handelsmerk by te dra,” waarsku die artikel.

 

Joseph waarsku in sy artikel dat mens konsekwent en omsigtig met sosialemedia-inskrywings moet omgaan. Hy bied die volgende wenke oor hoe jy sosiale media tot voordeel van jou persoonlike handelsmerk kan aanwend:

 

  1. Wees versigtig met foto’s. Onthou, 'n foto kan boekdele spreek. Wees daarom versigtig om foto’s waar jy byvoorbeeld 'n drankie in jou hand het, te deel. Foto’s van familie en troeteldiere kan voordelig wees vir jou persoonlike beeld, mits dit reg gebruik word.
  2. Redigeer jou inskrywings. Onthou, mense lees elke woord wat jy op sosiale media skryf. Lees daarom elke inskrywing deeglik voordat jy dit plaas en dink twee keer voordat jy iets plaas wat moontlik jou beeld kan skaad.
  3. Moenie dadelik op negatiewe kommentaar reageer nie. Wag eerder totdat jy afgekoel het. Emosionele reaksies hou net negatiewe gevolge in. Mense is ook geneig om inskrywings buite konteks aan te haal.
  4. Wees konsekwent. 'n Persoonlike handelsmerk op sosiale media word oor 'n lang tydperk en met behulp van konsekwente inskrywings opgebou. Wees getrou aan die beeld wat jy op sosiale media probeer skep en onderhou dit met inksrywings wat konsekwent in styl en aard is.

 

Laaste, maar nie die minste nie: hou in gedagte dat wanneer jy iets op die internet, hetsy op sosiale media of elders, plaas, dit vir ewig in die internet se “geheue” gestoor word. Dink daarom baie mooi na oor of 'n inskrywing negatiewe of positiewe nagevolge vir jou persoonlike handelsmerk inhou.

  •  
  •  
  •  
Deur cilleste


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close