Solidariteit Blog
My Werk -

Sosiale media, jou vriend en vyand in die werkplek

In vandag se moderne lewe is sosiale media die vriend met wie jy alles deel. Sosiale media kan ook jou grootste vyand wees as jy nie versigtig is oor die digitale spoor wat jy agterlaat nie.

Facebook is nie net 'n ideale platform om jou waansinnige naweke met die wêreld te deel nie, maar dit is ook vir werkgewers 'n effektiewe manier om agtergrondskennis oor ’n potensiële werknemer in te win. Talle verslae toon dat werkgewers toenemend aansoekers vir werk en werknemers op sosiale media en netwerkblaaie navors om indiepte-insig in die kandidaat se persoonlikheid te kry.

As jy reeds vir 'n maatskappy werk, is dit belangrik dat jy jouself vergewis van die reëls en regulasies wat rondom sosiale media geld. Dit is geen geheim nie dat plasings of opmerkings wat op sosiale media verskyn, redelik toeganklik, permanent en hoogs openbaar is. Daarom is dit baie belangrik om nie jou werkgewer, kollegas of bestuurder op 'n openbare platform te beledig nie. Weerhou jouself van die begeerte om jou misnoeë teenoor jou maatskappy op sosiale media uit te spreek, of om enige rassistiese uitlatings op sosiale media te maak. Alhoewel werknemers op 'n opinie en op privaatheid geregtig is, kan lasterlike of rassistiese boodskappe jou loopbaanvordering beperk, of indien dit in ’n werkgewer se regulasies verbied word, kan dit tot ontslag lei.

Jou gedrag op sosiale media kan beslis jou loopbaan en geskiktheid vir indiensneming beïnvloed. Daarom moet jy seker maak jy handhaaf diskresie en is in beheer van jou aanlyn teenwoordigheid.

 

 

 

  •  
  •  
  •  
Wilmarie Brits Deur Wilmarie Brits


Back to top