Algemeen, Politiek -

Sosialisme: Die malvalekker is eintlik 'n suurwurm

Dit is baie moeilik om 'n suurwurm as 'n malvalekker voor te hou. Tog staan populistiese verkoopsmanne steeds op die politieke straathoeke en adverteer hoe lekker soet hul suurwurm-aanbod nou eintlik is.

Daar word aan honger verbygangers vertel dat hulle geregtig is op hierdie “malvalekker” en dat dit absoluut verniet is. Hulle word oortuig dat almal gratis malvalekkers sal kry. Hulle wil so graag ook 'n malvalekker soos dié wat ander het proe en ‘koop’ dit dan met hul stemme. Hulle ontdek dan tot hul spyt dat daardie beloofde malvalekker al hoe bitterder begin smaak totdat die punt bereik word waar, indien iets wel oorgebly het, dit slegs suurwurms is.

Vanjaar vier suurwurm-proseliete die 100ste herdenking van Vladimir Lenin se Bolsjevistiese Revolusie in 1917. Dié revolusie het gelei tot die uiteindelike totstandkoming van die Sowjetunie. Sedertdien het verskeie sosialistiese state onder groot gejuig van die suurwurm-aanhangers opgang gemaak. Daaronder tel Mao Zedong se China, Noord-Korea, Fidel Castro se Kuba en natuurlik Venezuela, die jongste slagoffer van Karl Marx se beloofde utopie.

Volgens Marx is dit onafwendbaar dat die proletariaat, oftewel die werkersklas, in hewige opstand kom om uiteindelik 'n “gelyke samelewing” teweeg te bring. Ironies genoeg is daar gewoonlik 'n verdoemende stilte van daardie selfde suurwurm-proseliete wanneer die ware slagoffers van sosialisme, die breë massa, in asblikke begin rondkrap op soek na kos, soos wat tans in Venezuela gebeur.

Dit is geen geheim nie dat miljoene onskuldige mense (na raming sowat 62 miljoen) hul lewens verloor het om die vreesaangedrewe, sosialistiese Sowjetunie in stand te hou. Dit is mense wat ironies genoeg deur hul eie regering vermoor is. Dit kom dus nie as 'n verrassing dat Lenin se opvolger, Joseph Stalin, gesê het: “Die dood van een mens is ’n tragedie; die dood van miljoene is slegs 'n statistiek.” As 'n mens eers begin om die massamoorde wat aan Mao se bewindstydperk toegeskryf kan word, na te vors is dit dalk so dat Mao ook so gedink het.

Voorts bly dit altyd interessant om te sien hoe die suurwurm-proseliete politieke stelsels verdraai om by hul denke te pas. Hoe 'n mens dit ook al wil vertolk, was en bly Hitler se Nazi-Duitsland 'n produk van sosialisme. Onthou, Hitler se party was die Nasionaal-Sosialistiese Duitse Arbeidersparty, afgekort as die NSDAP.

Sosialisme het een doel voor oë en dit is gewoon die ontneming en ontkenning van privaat eiendom en entrepreneurskap. Ongeag die land of staat waarbinne sosialisme homself afspeel, of watter metamorfose dit ook al ondergaan, die gevolg is altyd dieselfde: absolute verarming en uiteindelike chaos. In aansluiting hierby het die gewilde Amerikaanse president, Ronald Reagan, op 'n keer gesê dat sosialisme slegs op twee plekke werk – in die hemel waar dit nie nodig is nie, en in die hel waar die reeds werk.

Die Venezuela wat hom vandag voor ons uitspeel is ver verwyderd van die sogenaamde “sosialistiese utopie” waarvoor suurwurm-proseliete Hugo Chavez tot so onlangs as in 2013, met sy dood, geloof het. Die akteur Sean Penn is een van die suurwurm-proseliete wat met Chavez se dood getwiet het dat Amerika 'n vriend verloor het wat hy nie geweet hy gehad het nie en dat “arm mense 'n kampioen verloor het.” Sommige mense mag wel meen dat arm mense 'n kampioen verloor het, maar die probleem is dat daar nou veel meer armes as vantevore is.

Na my mening is suurwurm-proseliete eintlik selfsugtig om te suggereer dat hulle geregtig is op 'n malvalekker bloot omdat hulle bestaan en nie omdat hulle noodwendig daarvoor wil werk nie. Dan kan hulle nie verstaan hoekom hulle op die ou-end met 'n suurwurm sit nie. Dit is seker hoekom die Ystervrou Margaret Thatcher op 'n keer gesê het dat die probleem met sosialisme is dat 'n mens een of ander tyd ander mense se geld gaan opgebruik.

Moenie val vir die suurwurmslenter nie. Wanneer iets te goed klink om waar te wees, is dit gewoonlik so. Dit is waar van Nigeriese prinse wat miljoene uitdeel, piramiedeskemas wat kitsrykdom belowe en sosialistiese hemels.

  • 98
  •  
  •  
  •  
Francois Redelinghuys Deur Francois Redelinghuys


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close