Algemeen -

IT-spesialis of boer: Albei verg selfde suksesresep

Iets wat my pla van die vlaag van populisme wat nou deur groot dele van die wêreld spoel is die volslae eenvoud en onrealistiese aard van die oplossings wat daar vir komplekse en weerbarstige probleme gegee word. Moenie my verkeerd verstaan nie, ek dink steeds Donald Trump se sege is beter as dat Hillary Clinton sou wen. Maar Trump het grootliks op grond van histrioniese retoriek gewen en helaas hoop gegee by sekere van sy kiesers (wat nog altyd vir die Demokrate gestem het) wat hy dalk sal moet beskaam. Nes hy ‘n muur wil bou om Mexikaanse immigrasie te stop, so ook wil hy proteksionistiese mure aanbring om die boere en blouboordjie-werkers se geleenthede en inkomstes te beskerm.

 

In Suid-Afrika is daar nou ’n minimumloon van R3500 voorgestel en desondanks dat die populistiese vakbonde en politieke partye soos die EFF nooit voorheen uit hul eie enigiets meer as dit voorgestel het nie, kry hulle omtrent nou maagsere oor hoe laag dit is. En nie een enkele organisasie wat daarteen gekant is, het ’n goed nagevorste en wetenskaplike mening oor wat die bedrag presies moet wees nie. Die EFF soek R4500 en niks minder nie. Die een Cosatu-vakbond soek niks minder nie as R5000 en die ander weer R5700. Almal van hulle is hoogs ontstoke oor hoe sleg die werkers behandel word.

 

Dan het die EFF nog ’n ander politieke drom wat hulle deurentyd slaan: Grond en meer spesifiek, die hervorming daarvan. Julius Malema, EFF-leier, maak lukrake en ongefundeerde stellings oor hoe swartmense grond geskuld word en hoe dit by hulle gesteel is. Die eienaarskap van grond weerspieël apartheid en kolonialisme en as swartmense net weer hul grond kan terugkry, gaan die land ’n paradys wees.

 

Trump het basies sover slegs proteksionisme (wat handel oor landsgrense beperk) voorgestel om die fabriekswerke weer terug na plekke soos Ohio en Michigan te bring. Staande ooreenkomste soos die Noord-Amerikaanse Vryhandel-ooreenkoms (NAFTA) moet nou afgeskaf word sodat die werke en die vervaardiging wat in ander lande plaasvind, na Amerika teruggebring kan word. Amerikaners moet ook die produkte vervaardig wat in die VSA verkoop word. Die groot probleem hiermee is dat blouboordjie-werkers in ontwikkelde lande soos die VSA steeds in ’n baie moeilike posisie gaan wees ongeag wat Trump ook al doen. Die groot rede hiervoor is dat hulle werk doen wat toenemend deur tegnologie en outomatisering verrig kan word, of dan heelwat goedkoper deur mense in die Derde Wêreld gedoen kan word. Die Amerikaanse verbruiker gaan bloot net nie produkte koop wat vir soveel duurder plaaslik vervaardig is net omdat dit deur iemand in hul deelstaat gemaak is nie. Indien dit wel gebeur, gaan die kostes van hoër lone eenvoudig na die verbruikers en die sakesektor verhaal word en dit weer ander nadelige uitwerkings teweeg bring.

 

En om sekere of groot hoeveelhede produkte van China of elders in Asië te boikot, gaan dit ook duur maak vir die verbruiker en ’n handelsoorlog met invloedryke lande aan die gang sit. Ewenwel, Trump het nooit bevredigende antwoorde op vrae hieroor gegee nie en ek is nuuskierig om te sien hoe hy dit vorentoe gaan hanteer want hy het na die verkiesing baie van sy standpunte begin wysig. Die harde werklikheid is dat Amerika en sy blouboordjie-werkers op heelwat gebiede nuwe maniere sal moet soek om mededingend te raak en nie bloot hul deure vir handel te sluit nie.

 

Die minimumloon- en grond-kwessies in Suid-Afrika maak dalk goeie retoriek, maar hulle gevolge en ondoeltreffendheid as oplossings vir die probleme wat hulle wil aanspreek, word heeltemal verswyg deur hul voorstanders. Suid-Afrika het ’n see van werklose mense (tans 9 miljoen) en ’n klein aantal mense wat wel werk en nog minder wat belasting betaal. ’n Minimumloon sal die kostes van arbeid opstoot en dus die aanvraag afbring. Dus gaan minder mense aangestel word omdat baie klein sowel as groot ondernemings hulle nie sal kan bekostig nie – veral nie in ’n tyd van ekonomiese kreeftegang nie.

 

Baie mense gaan ook waarskynlik hul werk verloor, nes toe die minimumloon vir plaasarbeiders in 2014 van R75 na R105 per dag opgesit is. ’n Boer maak ’n plan, lui die gesegde, en die plan is dan om te meganiseer en slimmer met minder arbeid te werk. Nes Trump verf Malema met groot, breë hale en onderbeklemtoon die besonderhede. Grond op sy eie is niks werd nie. Enige boer sal dit vir jou kan sê. Dit verkry slegs waarde deur harde werk en produksievermoë. Selfs al word grond vir jou verniet gegee, moet jy self iets daaruit genereer om geld te maak en ’n bestaan te voer. My agterplaas is ’n stuk oop grond wat my net geld kos (deur my verband en instandhouding) omdat ek nie enigiets daar plant, bemes of bou om ekstra geld daaruit te maak nie. Plase, nes besighede, het baie bedryfskapitaal, masjinerie, toerusting, goedkoperige arbeid en bowenal kennis, waagmoed, geluk en harde werk nodig om ’n sukses te word. In Suid-Afrika is dit selfs moeiliker met ons beleidsomgewing en klimaatsfaktore om ’n suksesvolle boer te word.

 

In ’n 2016-peiling deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings (SAIRV) is bevind dat die nr. 1-prioriteit vir Suid-Afrikaners die skep van werk is. Grondhervorming is slegs negende op die lys met ’n skamele 2% van die respondente wat dit as belangrik geag het. Suid-Afrika is ’n snelverstedelikende land met 65% van die bevolking wat reeds in stede woon. Die oorgrote meerderheid van die jongmense in stede wil nie boer nie, hulle wil werk en veral in die kennisekonomie se hoogs betalende sektore werk. Wat belangrik is vanuit die hoek van sosio-politieke stabiliteit, is dat hulle bloot net begin werk en ‘n inkomste verdien.

 

Maar wat ons betogende universiteitstudente, nes diegene wat op gratis grond en alles anders aandring, nie besef nie is dat daar universele wette en tendense op jou van toepassing is – ongeag of jy ’n boer, entrepreneur of IT-spesialis is. Vaardighede is bitter belangrik en dit verg sonder uitsondering harde werk en kruip voor jy loop. ’n Opkomende boer sal skuld moet maak om iets te begin nes die IT-spesialis aanvanklik vir min geld moet werk om te leer en dan later meer uitdagende werk te doen. En hoe groter jou plaas of besigheid word, of hoe hoër jy in jou loopbaan vorder, hoe moeiliker, stresvoller en uitdagender, en nie makliker nie, raak dit. Jou werk of besigheid verg baie onbetaalde opofferinge en jy gaan eers baie waarde moet skep voordat jy beloon gaan word. Jy gaan moet aanpas om in aanvraag en mededingend te bly. Daar sal baie terugslae en teleurstellings wees, daar is geen waarborg enigiets sal ’n sukses wees nie en baie mense gooi tou op voordat hulle sukses bereik. My pa het altyd gesê ‘n graad is soos ‘n graaf, jy moet met hom werk anders is dit net ‘n dooie stuk toerusting wat niks uitrig nie. Dit geld ook ‘n plaas en daar is geen kortpaaie nie. In Bybelse terme kan mens dit beskryf as “wat jy saai sal jy maai” – ongeag die konteks.

 

Jy lewe in ’n gekkeparadys as jy dink die regering en politici gaan net onbepaald sorg en deur wetgewing vir jou ‘n groot salaris bewerkstellig. Die uitwerking van stakings, veral lang en uitgerektes, is ook byna altyd onbevredigend vanuit die werkers se hoek. Daar is nie eenvoudige, maklike oplossings vir armoede en werkloosheid nie.

 

Die groot gaping in inkomste in Suid-Afrika is weens die groot verskille in vaardighede en produktiwiteit in die bevolking. Om die minimumloon na R3500 op te stoot gaan dit nie verander nie en sal net die onverbiddelike meganiseringsproses versnel. En in ‘n land soos Suid-Afrika kan jy ook nie te kieskeurig wees as jy werkloos en sonder vaardighede is nie. Jy moet bly wees as jy werk het en kyk hoe jy jouself meer bemarkbaar kan maak. Die studente wat nou breek eerder as om vir die eindseksamens te leer, gaan weldra hierdie harde onomstootlike feit begin besef.

  •  
  •  
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


Leave a Reply

Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close