Algemeen, Godsdiens -

Spoke in die dak

Ek het gisteraand in die dak geklim. Gedurende die laaste twee kwaai storms het dit skielik op my gang se vloer begin drup-drup en ek wou weet waar die dak lek. Plus, ek is seker ek het iets op die plafon hoor skarrel en wou gaan kyk het wat dit was (in my verbeelding was dit een van daai rotte so groot soos 'n dassie waarvan Robbie Wessels sing … ).

 

Waarom presies ek myself dié taak opgelê het, weet ek nie. Dit was 'n hengse gesukkel. My klein leertjie en my lengte werk nie so lekker saam as jou huis outydse hoë plafonne het nie. Dit werk nie eers saam as jy by 'n lae plafon moet uitkom nie. En twee (selfs vier) stoele onder die leertjie se pote het net te wankelrig gevoel. So daar is ek uit, op pad om die groot leer buite te gaan haal.

 

Weet jy presies hoe swaar 'n ou houtleer werklik is? Veral nadat jy minder as 'n uur vantevore arms en skouers in die gimnasium geoefen het. So piekel ek die leer al waggelend (jy kan nie met so 'n swaar ding loop nie) by die huis in. Ek oefen al my geroeste meetkunde, want die lengte verhoed my om dit om hoeke te draai, tot ek dit uiteindelik kon staanmaak teen 'n kas in die badkamer.

 

Gewapen met 'n amper pap spreilig en my selfoon vir “backup”, bestyg ek die pad na die plafon. Ek voel skielik bang. Vir wat? Vir die donker? Vir die onbekende? Vir 'n dak vol goggas en naarhede wat reg staan om my te bespring? So asof daar 'n onbekende wêreld daar bo is en die boorlinge daarvan presies weet wat ek beplan …

 

Stadig probeer ek die deksel van die dak (ek weet nie wat jy daai stukkie uitgesnyde plafon noem nie) oopmaak. Natuurlik sit dit eers vas en moet ek klou-klou stoei voor ek dit gelig kan kry. Ek skyn die lig by die opening in – waarsku maar al die gediertes wat bespringplanne het om hulle uit die voete te maak voordat ek genoeg moed bymekaar skraap om my kop deur die opening te steek.

 

Die plek moet seker soos die hemel in die dag lyk. Valentynshemel. Ek het al vergeet van daai pienk donserige goed wat hulle soos matte bo-op die plafon laat lê. Ek dink dis vir isolering? Ek gril daarvoor en onthou dat my pa al op 'n stadium vir my gesê het die goed laat 'n mens jeuk, so ek is versigtig om nie daaraan te vat nie. Halfhartig probeer ek met die spreilig in die dak loer – steeds bang vir 'n ongedierte wat sy hemel teen my wil beskerm.

 

Grootoog kyk ek rond. Dis net drade waar jy kyk. En sulke klein porselein-goedjies wat die drade vashou. Daar doer sien ek 'n spikkeltjie lig waar die dak 'n klein gaatjie gemaak het. Dis seker waar die reën inkom wanneer dit so verskriklik storm. Ek probeer mooi sien wat daar bo aan die gang is, maar ek voel net te onseker om my voet 'n trappie hoër op die leer te sit.

Dan gaan my spreilig dood. Ek ys vir 'n oomblik terwyl die koel lug uit die dak rillings teen my ruggraat af stuur, en ek besluit dat die pap battery 'n teken vir my is om die dakwêreld te verlaat. Selfvoldaan laat ek my kop sak en natuurlik sukkel ek weer met die dak se deksel wat skielik besluit het dit pas nie meer nie, voor ek uiteindelik weer kan afklim tot op vaste grond. Ek skud my hare – bang vir 'n gogga wat dalk daarop kon klim. Ek en die leer sukkel na buite waar ek dit weer teen sy gewone plek staanmaak. My gewrigte en arms pyn en my been het 'n nuwe bloukol, maar ek voel nogal aangedaan oor my klein avontuur.

 

Later die aand lê ek in my bed en wonder: hoekom is ek bang vir die dak? Is dit die onbekende? Die donker dieptes waar klein gediertetjies ongestoord kan nesmaak en die stof sy lae al vir jare oral kon vasplak? Net soos die lewe. Voor die onbekende staan ons angsbevange. Ons sukkel om die deksels oop te maak, en ons probeer sien wat aangaan met flou liggies op onstabiele lere wat eintlik te swaar is vir ons om alleen te dra.

 

Dit is nie hoe dit hoort nie. Ons hoef nie in dakke rond te klouter of ons oor gate en gediertes te bekommer nie. Die Here sorg. En hier waar ons vas op die aarde staan, kan ons seker wees dat sy lig helder op ons skyn en dat alle dinge aan ons sigbaar is. En wanneer ons op 'n leer moet klim, sal Hy ons help dra of aan ons 'n maat, vriende en familie gee wat ons sal help dra, en ons batterye sal nie pap raak nie. As ons vertrou en hoop en glo, hoef ons nooit bang te wees vir die spoke in die dak nie.

  •  
  •  
  •  
Deur Johnell Van Vollenhoven


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close