Algemeen, Gemeenskappe, My Werk -

Staan terug, want #OnsSalSelf

Deur Mia Slabbert

“Hier is werk om in Suid-Afrika te doen, en ons sal dit self doen!”

As jy nou kan visualiseer hoe dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, die mikrofoon by wyse van spreke net daar laat val, doen dit gerus.

Met die stryd teen die Covid-19-pandemie wat wêreldwyd woed, verander toekomsverwagtings al hoe vinniger en is dit nou tyd  om seker te maak dat jy deel van die verandering is. Moenie dat vrees en onsekerheid jou laat agterbly en neerdruk nie. Die mensdom is en bly wonderbaarlike wesens wat kan aanpas en kan oorleef.

Suid-Afrika spog nou met 60 miljoen burgers en 'n uiters sukkelende ekonomie. Ons beweeg in 'n tyd in waar daar nie op antwoorde gewag moet word nie, maar antwoorde self ontwikkel moet word. Dit is nie die tyd om in hopeloosheid te verval nie, maar eerder om uit die stof uit op te staan en te doen waarvoor ons gemaak is. Ons moet lewe en liefhê en 'n toekoms bou.

Sowel Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, en die bekende radio-omroeper, Gareth Cliff, het die afgelope week gal gebraak oor hoe die regering die voortslepende Covid-19-pandemie hanteer. Hul woorde tref so diep binne-in 'n mens se siel omdat dit waar is. Sommige regulasies maak eenvoudig nie sin nie: Dit is ongelooflik om te dink dat families daarvan weerhou word om mekaar te sien en mense in eensaamheid moet doodgaan met geen laaste liefde wat gedeel kan word nie. As vrye burgers is dit 'n moeilike en bitter pil om te sluk.

Soos wat die regulasies verander, maak sekere sektore oop en ander se deure maak finaal toe. Ons groet geliefde eetplekke en winkels, vriendelike gesigte en hardwerkende entrepreneurs. Baie min maak sin en dit is verseker die rede vir 'n hengse spul frustrasie in die land.

Ek kom deesdae gereeld die woorde “maak jouself onmisbaar” teë en ek dink gereeld na oor dié konsep. Almal wil onmisbaar wees. Ons vind gerustelling in die feit dat ons ons plek by die werk en in mense se harte volstaan, dat niks ons teenwoordigheid en ons liefde kan vervang nie. Maar dit is ongelukkig nie altyd die geval nie. Om onmisbaar te wees moet jy jouself onmisbaar maak. Dit beteken jy moet iets tot die dag bydra wat wat niemand anders kon bydra nie. Jy moet jouself só toerus, selfs met veelvuldige vaardighede, dat jy die funksie van drie mense kan verrig. Jy moet 'n planmaker wees en nie net wag vir opdragte nie.

Vanjaar sal ek in my 12 jaar lange loopbaan die langste nóg by een werkgewer wees. Ek sien my loopbaanreis as ‘n avontuur. Ek put ongelooflike vervulling daaruit om te weet dat ek oor die jare my vaardighede tot so 'n mate uitgebrei het dat ek vandag die werk van 'n hele televisie-nuusspan kan doen – skryf, fotografie, verfilming, redigering, ontwerp en aanbieding. Dit is nie omdat ek so grênd wil wees nie, maar omdat ek vroeg in my loopbaan en bedryf gesien het dat veelvuldige vaardighede baie meer deure vir 'n mens oopmaak en ek put onmeetbare persoonlike plesier uit die feit dat daar iemand is wat dink ek kan enige iets doen. Waar ek egter nie 'n opdrag kan uitvoer nie, doen ek moeite om daaroor na te vors om só myself toe te rus om dit wel te kan doen.

Die toekoms post-2020 gaan meer as ooit planmakers nodig hê. Ons het mense nodig wat nie bang is om op te staan teen ongeregtigheid nie; wat nie bang is om snert aan die groot klok te hang nie en wat veral nie bang is om, by wyse van spreke, 'n baksteen op te tel en te begin bou nie. Vir 'n gemeenskap om uit die stof uit op te staan, moet ons planne maak en ons moet hulle deurvoer. Daar lê ongelooflike potensiaal daarin.

Dit is belangrik om lesse uit hierdie krisis te leer en om vorentoe te beweeg. Dit is ongelooflik om te sien hoe maatskappye innoverende planne maak om deur elke maand te kom. Besigheidsmodelle word verander en mense besef dat niks meer soos vantevore sal kan aangaan nie. Alles het verander en jy moet daarmee saam verander. Jou besigheid moet saam verander en jou verhouding met jou familie moet ook saam verander.

Ek haal vandag my hoed af vir elke stukkie kreatiwiteit wat in hierdie tyd seëvier, elke stukkie waagmoed van mense wat die status quo bevraagteken en stroomop roei, elke kampvegter vir liefde en sorg, elke boomplanter en babaversorger, elke IT-tegnikus wat families die kans gee om digitaal vir hul geliefdes totsiens te kan sê en om die begin van ‘n huwelik op die wyse saam te vier, elke planmaker en uitvoerder, elke persoon wat by hul woord hou, elke broodwinner wat aande omlê en planne maak sodat kos op die tafel gesit kan word, elke tannie wat 'n serpie brei en elke stukkie omgee wat tussen vreemdelinge verruil word.

Ons krisis is groot, ja, maar ek en jy sal dwaas wees as ons nie die potensiaal van ons huidige toekoms kan raaksien en benut nie. Ons is gemaak om te oorleef en ons is gemaak om in gemeenskap mekaar te dra. Ons het al vantevore planne gemaak om uit moeilike situasies te kom en ons sal as planmakers van 2020 onthou word.

Ons sal self, want ons kan.

  • 56
  •  
  •  
Mia Slabbert Deur Mia Slabbert


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close