Algemeen -

Staat, los ons skole uit!

Skoolhou is nie sommer net ’n werk nie. Elkeen wat in die onderwys staan sal dit beaam. Dit is ’n roeping – onlosmaaklik deel van jou menswees; jou taak hier op aarde.

Om ’n onderwyser te wees is ook ’n voorreg. Jy staan binne ’n klaskamer (of buite op ’n sportveld) waar jy die gedagtes en denke van die toekoms kan slyp. Jy vorm en jy ontwikkel die kroon van die skepping. En daar is geen groter beloning as die persoonlike suksesse en oorwinning van elke kind wat deur jou hande is nie.

Dit is nie nuwe nuus dat Afrikaanse onderwys, en eintlik onderwys as geheel, al vir jare deur politici bedreig word nie. Tot ’n groot mate kon die Afrikaanse ouergemeenskap in samewerking met skoolbestuur ons skole (leerders en onderwysers) teen hierdie aanslag beskerm. Binne hierdie beskermde omgewing kon ons skole ontwikkel en groei tot die akademiese-, sport- en kultuurreuse wat hulle vandag is. Dit het ’n veilige plek geword waar ons kinders kind kan wees terwyl hulle ontwikkel en hul potensiaal kan bereik, en waar ons hulle voldoende kan toerus voordat ons hulle die wye wêreld in stuur.

Die realiteit is egter dat hierdie omgewing, waaraan ons só hard werk en met al ons mag beskerm, skynbaar op geleende tyd is. Dit het die staat se nuutste teiken vir algehele beheer en sentralisering geraak. Vir die eerste maal is hierdie aanslag nie meer iets wat bo in ’n staatskantoor of selfs die hoof se kantoor afgeweer of deurgevoer word nie. Dit gaan dinge in die klaskamer verander; jóú klaskamer.

Die grootste verandering aan die Skolewet wat voorgestel word is die onteiening van die beheerliggaam se regte en die bemagtiging van die LUR. Die balans word versteur. Skielik staan die beheerliggaam nie meer in beheer van sake betreffende die bestuur van die skool nie en word hulle van die reg ontneem om belangrike besluite namens die ouers, kinders en onderwysers te kan neem. Hierdie besluite sluit onder andere veral die toepassing en implimentering van die taal- en toelatingsbeleid in.

Die praktiese voorbeeld is dat ’n LUR soos mnr. Panyaza Lesufi, skielik die reg het om die beheerliggaam te veto deur namens die skool  leerders te aanvaar ongeag die kriteria wat toelating volgens die skool se beleide bepaal. Voldoen die leerder nie daaraan nie? Geen probleem, die LUR stel dit ter syde en lig die skool in dat hy plek moet maak.

En dan kan hy verder gaan. Hy kan met hierdie mag die totale demografie van die skool verander en dan daarop aandring dat die skool nou vir hierdie nuwe leerders voorsiening moet maak. Dít ten koste van die reeds gevestigde leerders en die gemeenskap wat die skool dien.

Ons kinders se reg op kwaliteit, moedertaalonderrig word hulle skielik ontneem omdat hierdie onbevoegde staat en sy amptenare nie hul werk gedoen het deur soortgelyke skole in die ander amptelike tale van die land op te rig en funksioneel te hou nie.

Ons onderwysers en kinders is die slagoffers. Deur magsug en politieke ideologie word hulle in ’n nuwe omgewing gedompel waar hulle geen meer vryheid het om te kan werk of leer in die taal wat hulle die beste verstaan nie. Daar word nie van hulle verwag om toe te gee vir ’n sterker pad vorentoe nie. Daar word verwag om weg te gee en ’n verswakte pad sukkel-sukkel verder te loop.

Met ’n veranderde demografie sal die verengelsing van skole versnel word. Daarmee die verlaging van die akademiese standaard, die uitdaging met betrekking tot dissipline en ook die kultuur- en waardeoordrag wat stil-stil in die niet verdwyn. ’n Identiteit raak verlore, tradisies ’n vae herinnering en die strewe na uitnemendheid ’n strewe na oorlewing.

Geen onderwyser wil net oorleef nie. Geen onderwyser wil skool toe gaan net om te wens dit is vakansie nie. En geen onderwyser wil sien hoe sy leerders sukkel om te oorleef waar hulle eintlik bemagtig moet word om te floreer nie.

Onderwysers wil werk. Ons wil vorm en bou. Ons wil leer en laat leer. Ons wil ontwikkeling stimuleer en ons wil motiveer. Ons wil die hoogste hoogtes saam met ons leerders bereik en ons wil hulle ondersteun terwyl hulle daar uitkom. Ons wil ’n verskil maak.

Binne die wysigingswet se raamwerk is daar nie plek vir hierdie ideale nie. Soos ’n worsmasjien sal klasse vol geprop word en sal dit ’n stryd raak om die basiese grondslag te lê en te behou; onderskeidings is lankal nie meer die norm of strewe nie – solank almal net min of meer begryp wat ons vandag behandel het omdat daar bloot nie tyd of kapasiteit is om by elke kind uit te kom nie. En natuurlik die groot taalgaping, wat die aanleer van abstrakte begrippe verder bemoeilik of veroorsaak dat onderwysers en kinders mekaar doodeenvoudig net nie so goed kan verstaan nie.

Ek soek nie die Departement van Onderwys in my klas nie. Ek wil nie hê ’n LUR moet namens my besluit hoe en vir wie ek moet skoolhou nie. Ek wil my gemeenskap dien. Ons het mekaar gekies – ek toe ek aansoek gedoen het en die gemeenskap toe hulle my aangestel het. Ons is in ’n vennootskap. Ons kry dinge reg. Ons lewer wêreldgehalte onderwys, want ons strewe na uitnemendheid daarom sal ek ook kommentaar indien want ek wil ’n sê hê in die bestuur van my en my klaskamer.

Die staat hoort nie in ons skole nie. LUR’e is nie die beheerliggaam nie. Hulle ken nie die behoeftes van my leerders nie en daarom staan ek op.

  •  
  •  
  •  
Deur Johnell Van Vollenhoven


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close